Monday 1 December 2008

August Rush


Laat in 2007 sien ek ‘n voorprent vir August Rush … die trane loop sommer in die voorprent al en ek weet, hierdie is 'n must see. Kort na die prent in Suid-Afrika vrygestel is, stap ek op 'n Sondagmiddag met dik-gehuilde oë by die fliek uit.

Die fliek met Freddie Highmore, Keri Russell, Johnathan Rhys Meyers en Robin Williams is wel onrealisties en hoogs onwaarskynlik in die meeste opsigte, maar dit is immers ‘n fliek en in hierdie geval wil ek dit ‘n moderne sprokie noem.

Evan Taylor bly in 'n weeshuis, maar is oortuig dat sy ouers leef. Hy hoor musiek in alles rondom hom en glo dat sy ouers daardeur met hom kommunikeer en na hom soek.

Die kyker word dan teruggeneem na gebeure wat wys hoe Evan se ma, Lyla Novacek, 'n bekende konserttjellis en sy pa, Louis Connelly, 'n kitaarspeler en voorsanger van 'n rock-groep een nag saam spandeer en mekaar daarna nooit weer gesien nie. Lyla is dan in ‘n ongeluk en haar pa laat haar glo dat haar baba gesterf het.

Even loop weg van die weeshuis af – hy 'volg die musiek' opsoek na sy ouers – en bevind hom in New York waar hy as straatmusikant optree. 'n Reeks gebeure lei daartoe dat hy by Juliard School ingeskryf word as August Rush. Een van sy komposies lewer opslae onder die skoolbestuur en daar word besluit dat dit deur die New York filharmoniese orkes in Central Park opgevoer sal word – en hy self die dirigent sal wees. Maar dinge verloop nie glad in die oploop na die konsert toe nie.

Ek wil darem nie die hele fliek weggee vir die wat dit nog nie gesien het. Maar doen jouself 'n guns en kyk dit. Soos ek gesê het, het die storielyn al die elemente van ‘n sprokie en die musiek is fenominaal.

Die afelope naweek het ek dit weer gekyk. En weereens was ek baie beïndruk. Soveel dat ek so ver wil gaan om te sê dit is my gunsteling fliek van die afgelope jaar.

In hierdie tyd van die jaar wat almal so moeg en afgemat uitsien na ‘n ruskansie, het hierdie fliek my weereens siel gevoed.

No comments:

Post a Comment