Tuesday 20 January 2009

Terwyl die storm woed

Gisternag lê ek in die gloed van die weerlig en kyk na die bekendheid rondom my terwyl die storm buite woed.
Met elke slag wat tot in my wese slaan, word ek herinner: Hy is in beheer.

Hierdie keer is dit egter nie net die klank van die weer wat my aangryp nie, maar ook dit wat ek in my hart voel: vrede.

En met elke slag wat hier digby my slaan, wil ek dieper in jou arms kruip.

Friday 16 January 2009

Frustrasies!

Daar is nie vreeslik baie goed wat my frustreer nie. My grootste frustrasies is swak diens (veral van mense agter toonbanke wat bloot net nie die kennis het om jou te kan help nie) en openbare toilette wat nie ‘n plek agter die deur het om jou handsak aan op te hang nie.

Die afgelope paar weke is daar ook iets anders wat my grensloos frustreer: katte!

Ander mense se katte wat gedurig in my woonstel inkom, my asblik omgooi en daar rondloop asof hulle die plek besit. Ek het nou al ‘n paar keer dieselfde kat gedurende die nag in my woonstel betrap en kan maar net raai wat daar aangaan wanneer ek nie in die dag daar is nie.

My frustrasie spruit uit die feit dat die enigste manier om die gediertes uit my blyplek te hou, is om al die vensters dig toe te hou. Maar waarom moet ek in hierdie bedompige hitte met toe vensters leef terwyl die eienaars van katte heerlike vars lug in hul plekke het met vensters wawyd oopstaan?

Ek weet dit is bykans onmoontlik om katte in te perk, maar hulle is en bly hul eienaars se verantwoordelikheid en daar moet 'n maniers wees om hul weg te hou.

Ek sal enige iemand se raad oor hoe om die katte uit my woonstel te hou, baie waardeer. Dit is nou as daar ‘n ander manier is as om nooit ‘n venster oop te maak nie…

Monday 12 January 2009

Vir hul pa

Die Moutons het gevra dat ek iets namens hulle verwerk as nagedagtenis aan Andre en ek deel dit ook graag:


Vir Pa

Dankie vir al die woorde en wysies wat ons ‘n leeftyd sal hou.
Dankie vir die eerste keer wat jy ons die sonsondergang gewys het en saam in die reën baljaar het.

Dankie dat ons klippe en skulpe en takke kon huis toe bring, selfs gediertes.
Dankie vir die opwinding om te kan lewe.

Dankie vir “Probeer, gee jou beste en as jy nie kan nie, fokus op iets anders”. Dit het ons baie hoofbrekings gespaar.

Dankie dat jy nooit gesê het: “Ek het jou mos gesê” nie.

Dankie dat jy altyd daar was. Nie inmengend nie, nie eisend nie, maar altyd beskikbaar met raad; oombliklik gereed as ons vra.

‘n Skouer om op te huil.
Iemand om nuus mee te deel.
Iemand om mee saam te lag.
Iemand met oneindige liefde.

Altyd!

He is Gone

Dood is finaal en bring soveel pyn wat geen woorde of dade – hoe goed dit ookal bedoel word – beter kan maak nie.

Mart, Pieter en AJ, ek bid dat die Heilige Gees self julle sal vertroos en lei en styf in Sy liefdevolle arms vashou in hierdie tyd waarin die seer nog rou en vlak lê. Ek kan dit nie vir julle beter maak nie, maar ek deel graag ‘n gedig van David Harkins:

He is Gone
You can shed tears that he is gone,
Or you can smile because he lived,
You can close your eyes and pray that he will come back,
Or you can open your eyes and see all that he has left.

Your heart can be empty because you can't see him
Or you can be full of the love that you shared,
You can turn your back on tomorrow and live yesterday,
Or you can be happy for tomorrow because of yesterday.

You can remember him and only that he is gone
Or you can cherish his memory and let it live on,
You can cry and close your mind; be empty and turn your back,
Or you can do what he would want: smile, open your eyes, love and go on.

Friday 9 January 2009

Vrydagoggend met 'n Sondagmiddag-gevoel

Die is sommer net oor hierdie woorde my vandag maar net nie wil uitlos nie. Dit gee my daardie luilekker Sondagmiddag-gevoel en ek sien sommer ekstra baie uit na die naweek wat net 'n paar uur ver lê en wink.

As ek saans na my baby verlang
En dis ver van my blou oseaan
As die duisend myl blues my vang
Sing ek songs van die sterre en die maan

As ek wens ek was terug in my straat
By my baby in my kaya in die kaap
As die duisend myl blues met my praat
Dan lê ek wakker in die plekke waar ek slaap

Soms as ek in 'n vreemde stad is
Gaan staan ek op die hoogste gebou
Dan laat ek dat die liggies my wegvat
met die langpad
En dan vergeet ek so bietjie van jou
Maar dan gaan ek af en stap uit in die strate
en ek mis jou

(Duisend myl blues, Valiant Swart)

Wednesday 7 January 2009

The Alchemist


Ek het pas The Alchemist deur Paulo Coelho gelees. Ek dink dit is ‘n ongelooflike storie oor die wysheid en moed wat dit verg om na jou hart te luister en jou drome te volg. Maar ek wil nie ‘n resensie oor die boek skryf nie, indien iemand belangstel in een, gaan kyk
hier.

Waaroor ek wel wil skryf is ‘n paar van die waarhede wat Coelho beskryf en wat my laat terugblaai het om dit weer te lees en verstom te staan oor hoe ‘n mens in die reis na jou droom wysheid opdoen.

Die hoofkarakter, Santiago, is ‘n eenvoudige skaapwagter wat net ‘n baadjie, ‘n boek en ‘n trop skape besit. Hy sien egter meer daarin as om bloot ‘n skaapwagter te wees.

Op bladsy 10 sê hy:
But, most important, he was able every day to live out his dream.

En later op dieselfde bladsy sê hy:
It’s the possibility of having a dream come true that makes life interesting…

Dit laat my dink oor hoe drome mense dryf. Vir sommige is dit dalk ‘n besigheid, vir ander die moontlikheid om ‘n boek te skryf of na ‘n sekere plek te reis. Maar ek dink daar is so ‘n fyn lyn om balans te handhaaf en te keer dat ‘n droom ‘n obsessie word wat jou van alles anders laat vergeet; en soms selfs die lesse wat jy langs die pad van verwesenliking kan leer, mis te kyk.

Dit bring my die volgende op bladsy 26 – hy praat hier van ‘n ‘merchant’ se dogter wie se lewe dag in en dag uit waarskynlik altyd dieselfde is en haar dalk ook ‘n klomp goed in die lewe laat miskyk:

…for her, every day was the same, and when each day is the same as the next, it’s because people fail to recognise the good things that happen in their lives everyday…

Mag ons lewens nooit in so ‘n groef verval dat ons die wonderlike dinge daarin miskyk nie en mag ons altyd strewe om beter mense te word ten spyte van omstandighede en dit wat die lewe vir ons gegee het om ‘mee te werk’ en sodoende die wat rondom ons is, ook aan te raak. Santiago se beskrywing van alchemy (bladsy 143) som dit vir my baie goed op:

“This is why alchemy exists,” the boy said. “So that everyone will search for his treasure, find it, and then want to be better than he was in his former life … That’s what alchemists do. They show that, when we strive to become better than we are, everything around us become better, too.”

Monday 5 January 2009

Dopper-krisis

Ek hoop nie dat ek enige iemand in die gesig vat met hierdie posting nie, maar soos al die ander dinge wat ek hier sê is dit bloot my opinie.

Ek lees in
Beeld dat die Gereformeerde Kerk hul 150ste bestaansjaar vier met ‘n feessinode. Maar nie om wat te bespreek nie – die sing van gesange in die kerk!

Dit is vir my amper net so belaglik as wat dit hartseer is dat dit so ‘n doring in die Doppers se vlees kan wees. Daar is sulke ongelooflike mooi kerkliedere: sommige Psalms geskryf deur Dawid van ouds en ander sommer nou die dag geskryf. Gaan dit regtig oor wie dit geskryf het? Maak dit saak of die liedere direk uit die Bybel kom en of iemand anders dit geskryf het en tot gevolg het dat baie ander God daarmee aanbid?

Wat ons sing bepaal tog nie ons saligheid nie. Hoekom so ernstig debateer oor liedere as daar soveel mense buite die kerk is wat honger en dors na Jesus se liefde en ‘n stukkie brood om mee aan die lewe te bly?

Gedagte vir 2009

Vir die eerste keer in baie jare was ek nie deel van die beplanning van ‘n groot nuwejaarsopskop nie. En ek was heel content met die stand van sake. Rustige nuwejaarsvieringe was presies wat ek nodig gehad het.

Oujaars- en nuwejaarsdag het ek en my geliefde tyd saam met my familie spandeer. Ek dink dit is ‘n groot voorreg om die verandering van die jaar saam met die te spandeer wat regtig vir jou belangrik is. Die mense wat jou deur die ou jaar gedra het toe jy nie self kon loop nie; die wat jou hand vasgehou het en herinner het dat hulle altyd by jou sal staan; die wat jou in geloof gehou het en aan jou gedink het in hul gebede.

Dus was dit vir my baie van pas om die jaar saam met daardie mense in te gaan. Rustig en vol vrede en vreugde in my gemoed.

Voornemens
Ek is nie ‘n groot ‘maker’ van nuwejaarsvoornemens nie. ‘n Mens hou retrospeksie van die jaar wat verby is, besin oor wat jy weer sal doen, anders sal doen en die keer eerder sal vermy; ‘n soort voorraadopname van jou lewe. Ek sien dit as ‘n tyd waarin ek reflekteer op wat ek geleer het en in watter opsigte ek as mens gegroei het.

My voornemens vir 2009 is dus nie lang lyste lewensveranderende dinge nie. Dit is eerder leefstyl- en roetine-veranderinge wat ek wil maak:

Ek wil gesonder leef, maar gaan nie noodwendig ‘n diëet of oefenprogram slaafs navolg nie – ek wil bloot gesonder en beter oor myself voel.

Ek wil meer skryf en meer skilder. Dit is dinge wat jou siel op so ‘n wyse verryk dat jy nie net self daaruit put nie, maar soms onwetend ook ander lewens aanraak.

Ek wil elke oomblik in 2009 laat tel. Dit wat ek doen (hoe onbenullig dit ookal blyk te wees), wil ek met oorgawe doen.

Ek wil meer tyd saam met my geliefde spandeer, saam met my ongelooflike familie en my kosbare vriende.

Gedagte
Hierdie dinge is egter nie beperk tot 2009 nie. Dit is dinge wat ek graag so wil hê in die jare wat kom. Daarom haal ek dus graag vir Hal Borland aan:

Year's end is neither an end nor a beginning but a going on, with all the wisdom that experience can instil in us.

Mag dit wat ons in 2008 beleef het ons lei om dit wat 2009 bring met wysheid te hanteer.

Mag elkeen wat hier lees ‘n besondere en geseënde jaar hê!