Thursday 27 January 2011

Angela's Ashes

Vanaf dag een wat ek my skoonma ontmoet het, weet ek dat haar gunstelingboek van alle tye Angela's ashes is. Ek weet dat sy haar nie die lewe sonder die boek kan indink nie. En ek weet dat sy wil hê almal wat sy ken moet die boek lees. Dit is waarom sy nog 'n kopie van die boek gekoop het en vir my gegee het om te lees.

Ek het die boek met 'n verwagting begin lees – 'n verwagting aan 'n wonderlike storie wat briljant geskryf is. Wat ek gevind het, is een van die neerdrukkendste boeke wat ek nog gelees het. Daarmee saam is dit egter ook fassinerend, hartverskeurend en brutaal eerlik teen 'n agtergrond van armoede en swaarkry. Angela's ashes is Frank McCourt se memories van sy grootwordjare tydens die depressie en oorlog in 'n land (Ierland) wat in die wurggreep van tradisie, toenemende armoede, werkloosheid en die Katolieke kerk staan.

Die armoede, die swaarkry, die honger, die vuil klere en die stukkende skoene ruk aan my hart. Die feit dat 'n seuntjie van kleins af moes pa staan vir 'n gesin en moes steel om kos op die tafel te kry, is net so verkeerd. Daar is 'n toneel waar die gesin van vyf persone 'n eier ('n eier!) deel en ek kan my dit nie indink nie. Tog besef ek dat dit in daardie tyd die realiteit in Ierland was. Dit laat my met dankbaarheid kyk na wat ek het en hoe maklik ek dit eintlik in die lewe het.

Die rol wat die Katolieke kerk in die boek (en in werklikheid) speel, maak my met tye briesend! Na sy eerste nagmaal, sê Frank dat hy nou amptelik deel van die ware geloof en amptelik 'n sondaar is, die gedagte aan sy sonde laat hom altyd voel dat hy verdoem is. Op 'n keer het hy vir meer as 'n jaar nie sy sonde aan die priesters bely nie, omdat hy te skaam was daaroor en die kerk het hom so geïndoktrineer dat hy dikwels vas geglo het hy is reguit op pad hel toe daaroor. Vir meer as 'n jaar lank loop hy met 'n berg op sy skouers rond by die gedagte aan sy verdoeminis. Wanneer hy wel op 'n keer sy sonde wou bely, word 'n deur in sy gesig toegemaak. Ek wil nie ander denominasies of gelowe afpraat nie, maar die boek het my weer laat besef hoe geseënd ek is om enige tyd, enige plek direk met my God te kan praat.

Na Frank se 19de verjaardag het hy genoeg geld bymekaar gemaak en gaan Amerika toe.  Dis ook waar die verhaal eindig – by sy eerste aand in Amerika. Die verhaal het my tog met 'n verwagting en 'n hoop gelaat dat daar vir hom 'n beter lewe gewag het. En dit klink vir my of dit wel die geval was. Ek lees op Wikipedia dat hy later aan die New York University gegradueer het, hy het op 66-jarige ouderdom begin skryf en verskeie pryse vir sy werk ontvang voor hy in 2009 oorlede is.

Angela's ashes is nie 'n mooi storie nie, maar dis 'n wonderlike verhaal en ek kan verstaan waarom my skoonma so gek oor die boek is.

Friday 7 January 2011

Life of Pi

Dit het my byna 'n maand geneem om die eerste 50 of so bladsye van Yann Martel se Life of Pi te lees, maar toe ek eers by die deel kom waar die hoofkarakter, Pi, saam met 'n Bengaalse tier op 'n reddingsboot beland en vir 227 dae om oorlewing veg, kon ek nie die boek neersit nie.
                                      
Pi is die enigste oorlewende van 'n skip wat gesink het, en Japannese amptenare luister na sy storie om die rede waarom die skip gesink het, te bepaal. Eers vertel hy van al die diere wat saam met hom op die reddingsboot was en hoe hy en Richard Parker (die Bengaalse tier) oorleef het en hoe die ander diere mekaar uitgemoor het. As hulle hom nie glo nie, vertel hy nog storie. Die keer was hy saam met drie ander mense op die reddingsboot, en is dit net hy wat oorleef, omdat die mense mekaar ter wille van oorlewing uitgemoor het.

Life of Pi is 'n verhaal wat my beide vermaak en verstom het; dit is 'n fantasie-avontuurverhaal waarin Pi, 'n Indiese seun, kwessies soos spiritualiteit en realisme van 'n jong ouderdom af ondersoek. Ek dink die boodskap van die verhaal het iets te doen met die manier waarop stories vertel word en die manier waarop jy na jou wêreld kyk en dit ervaar teenoor die werklikheid. Pi se eerste storie was baie minder geloofwaardig as sy tweede storie, maar tog was dit die verkose een omdat dit meer verbeeldingryk was.

Vir my sê dit iets van hoe 'n mens se verbeelding ware ontvlugting van die werklikheid kan wees, maar dat as jy op God gefokus bly, nie nodig het om van die werklikheid te ontvlug nie, omdat Hy jou keer op keer sal laat oorleef in moeilike omstandighede. Dit is 'n triomfantlike storie wat jou, soos Pi dit op een plek stel, in God sal laat glo.