Monday 6 January 2014

Ontdekking van die lewe

Dis nie net ’n nuwe week nie, maar ook die begin van ’n nuwe werksjaar. Dit voel so anders as verlede jaar hierdie tyd – toe was dit voorbereidings tref vir Willem se koms; angs, onsekerheid en opgewondenheid.

Hier staan ek nou ’n jaar later en ek is opgewonde om elke ding opnuut deur ’n kind van byna ’n jaar oud se oë te beleef, opgewonde om te sien hoe hy net wil begin loop en paniekerig elke keer as dit lyk of hy dalk sy balans verloor. Dis oulik om te sien hoe hy op die vensterbank klim en aan die diefwering vashou, maar so angswekkend dat hy dalk agteroor kan val. Wat ’n vreugde om hom te hoor lag van lekkerkry as ons in die swembad speel, maar dan kom die hartstilstandoomblikke as hy uit jou arms bars en self wil swem.

Daar so fyn balans tussen om hom toe te laat om op sy eie te ontdek, en hom veilig te hou. Ek vra vir wysheid om nie my kind in te perk nie, om hom te los om die lewe stukkie vir stukkie self te ontdek, om uit te vind wat hy kan doen, hoe en waar. Ek vra egter ook vir wysheid om te weet wanneer om in te gryp, te keer en dinge van hom weg te hou.

Verlede jaar hierdie tyd het ek geweet my lewe gaan onherroeplik verander, maar nooit sou ek kon raai dat ’n mens jou hart buite jou sal kan sien nie. Soos die lewe maar werk, gun jy jou hart al die vreugdes, maar sal jy ook alles in jou vermoë doen om dit te beskerm.

Ek is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê, oor al die nuwe ervarings wat ons as gesin saam gaan beleef.