Thursday 26 February 2009

Kaalkop

Ek het nog altyd Nataniël se stories geniet – dit is altyd een van die eerste goed wat ek lees as ek enige uitgawe van Sarie oopmaak. Sommige van sy skrywe is skreeusnaaks en ander is hartseer, maar altyd is dit menslik en laat sy beskrywings jou voel asof jy met elke sintuig deel is van die vertelling.

Gister het ek hom vir die eerste keer ooit in lewende lywe op ‘n verhoog gesien. Soos met sy geskrewe stories, het ek dit verskriklik baie geniet – weereens het ek geskater vir sy vertellings en die menslikheid daarin gevind. My gunsteling storie was die van Tant Molla en haar siening oor mense wat nie weet hoe om grand te wees nie.

Tussen sy vertellings deur het hy telkens liedjies gesing en my met die kwaliteit van sy stem beïndruk. Ewe veel was ek deur sy uitrustings beïndruk en hoe vinnig hy kan verklee tussen liedjies en vertellings.

‘n Ander vertelling wat my geraak het, was die van tannie Nola. Aan die einde van die vertelling trek hy ‘n vergelyking tussen ons planeet en tannie Nola. Dit is ‘n boodskap wat ons aanmoedig om ‘groener’ te leef en die aarde op te pas.

Alhoewel dit die eerste keer was wat ek een van sy vertonings gesien het, is ek oortuig dat dit nie die laaste gaan wees nie. Skielik kan ek nie wag vir die volgende uitgawe van Sarie en Kaalkop nie.

Ek moet egter byvoeg dat van my vriende wat al verskeie van sy vertonings gesien het, nie so beïndruk was soos wat hulle met van sy vorige vertonings was nie.

Wednesday 18 February 2009

Nuwe lewe

Dit is met groot vreugde dat ek die nuus deel dat twee van my vriendinne gister geboorte geskenk het!

Baie geluk aan Hennie en Laurette met die geboorte van hul eersteling, Sarne, wat 3,99kg geweeg het. Baie geluk ook aan Suretha en Marius wat Surika Leze (2,63kg) deel van hul gesin gemaak het.

Mag hierdie twee dogtertjies jul lewens verryk en baie seën daartoe voeg!

Sunday 15 February 2009

Valentyn



Vir my liefie… is daar niks spesiaal genoeg op ‘n winkelrak of marktafel vir ons eerste Valentynsdag saam. Ek bring daarom woorde uit my hart om te sê waarom ek jou altyd sal liefhê:

Jy laat my lag, selfs giggel;
Jy kyk in my oë en hou my vas;
Jy raas vir my op jou kitaar;
Jy gesels met my oor nonsens én die belangrike goed;
Jy ry kilometers agter my aan;
En altyd kan ek vóél hoe lief jy my het.

Jy oortuig my met ‘n enkele aanraking dat ons liefde vandag en altyd is.
Nie net vir een dag, hierdie liefdesdag, maar vir elke dag, tot eendag.

Jou plek in my hart is bespreek
vir nou en altyd.

Wednesday 11 February 2009

Negatiewe gedagtes

Gister was ek briesend oor die onhulpvaardigheid van die mense wie se trok in my vasgery het. Ek skakel hulle om uit te vind hoe ek hulle kan help om my te help om die proses om my kar reg te maak te versnel, net om ‘n ongeskikte persoon aan die ander kant te kry wat glad nie bereid is om te luister na wat ek sê nie – en dit terwyl ek haar probeer help.

Ek was op die punt om hier te skryf oor hoe ongelukkig ek en is uit te vaar teen die persoon. Maar skielik besef ek dat ek die negatiewe gedagtes moet laat gaan en ek besluit om die situasie vanuit ‘n ander hoek te probeer benader.

Ek sien dit as bloot nog ‘n hekkie op my pad wat my fiksheid gaan toets; om te sien of ek in staat is om daaroor te spring. Dit gaan toets of ek die geduld en geloof het om te vertrou dat ten spyte van die onhulpvaardigheid van ‘n sekere Brenda, alles tog vinnig uitsorteer sal word en my kar reggemaak sal word.

Vanoggend is my besluit om anders na die situasie te kyk bevestig deur die daaglikse Word@Work epos in my inbox. Die teksvers vir die dag is Jakobus 1:2-3:
Consider it pure joy, my brothers, whenever you face trials of many kinds, because you know that the testing of your faith develops perseverance.

Die verduideliking van die verse kom daarop neer dat die klein toetse wat oor ons pad kom, die toets is van hoe ons die groot dinge gaan hanteer. God laat hierdie dinge in ons lewens toe sodat ons op Sy wysheid en krag sal vertrou en volhard in geloof. Ek weet ek moet rustig raak oor die situasie, al die negatiewe gedagtes teenoor Brenda laat gaan en geduldig vertrou dat sy alles in haar vermoë sal doen om my te help.

Sommige dinge is baie makliker gesê as gedaan, maar ek vertrou dat ek dit wel so sal hanteer.

Tuesday 10 February 2009

'n Ander perspektief

Ons ken almal die geskiedenis van ons land; die detail van die Anglo Boere Oorlog is deur onderwysers in ons gedril; ons ken die name van die Boere Generaals en Britse besetters; ons weet wie by watter veldslae geseëvier het; en ons ken die statestiek van konsentrasiekamp-sterftes.

Die afgelope week of twee het ek egter kennis gemaak met ‘n ander kant van daardie oorlog wat skaars meer as ‘n honderd jaar gelede geeïndig het. Ek het PG du Plessis se Fees van die Ongenooides gelees. Alhoewel die verhaal in ‘n bekende milieu afspeel, is dit ‘n mens-verhaal. Dit vertel die storie van ‘n familie ten tye van die oorlog, as leser ervaar jy die emosies en agressie wanneer die eerste die eerste gerugte van oorlog kop begin uitsteek; die vrees wanneer die mans die eerste keer veld toe gaan; die onsekerheid van vroue wat alleen op plase agterbly; die verslaenheid wanneer Britse soldate die onmenslike opdragte uitvoer om plase af te brand, te verwoes en diere voor die voet dood te skiet voor hulle die vroue en kinders in haglike omstandighede inkamp waar duisende gesterf het.

Dit is vir my duidelik dat Du Plessis sy navorsing baie deeglik gedoen het en die geskiedenis briljant weergee, en nooit laat hy die menslike aspek uit nie. Die storie van die Van Wyks, Minsters, Joey Drew en Majoor Brooks het my soms briesend gehad vir die onregte wat gepleeg is; soms moedeloos met die slapgat-geit van ‘n sekere karakter; soms hartseer oor die verliese; maar altyd vol deernis vir ‘n situasie waarin ek nie eers kan begin om myself in te dink nie.

Dit is ‘n verhaal van menslike dramas en tevergeefse liefde, wat ook vrae vra oor onthou en vergeet - of eerder wat ons verkies om te onthou of te vergeet. Dit het my verder ook met met nuwe oë na die geskiedenis laat kyk en my laat sien hoe die Engelse letterlik feesgevier het met die lewens en besittings (en dalk selfs die toekoms) van ons voorgeslagte.

Tuesday 3 February 2009

Die blou dinosorus

Saterdag het ek met nuwe oë gesien en in verwondering gestaan oor hoe iets so eenvouding soos 'n blou dinosorus-koek 'n vierjarige se lewe kan ophelder en sy oë laat blink. Hierdie koek is presies soos wat Stefan dit wou hê - geen ander prent van dinosorus wat 'cooler' is of vlerke of enige iets anders nie. Presies dit:


En ek wonder hoekom ons as grootmense nie meer tevrede kan wees met en die wonder van die eenvoudige dinge in die lewe nie...?