Saturday 11 October 2008

Veertig dae en veertig nagte

Veertig dae en veertig nagte reën dit rondom my.
Vir veertig dae en veertig nagte is ek vasgevang in die ark.
Vir veertig dae en veertig nagte word ek op my knieë gedwing.
Na veertig dae en veertig nagte van beproewing raak dit stil rondom my.

Na veertig dae en veertig nagte waag ek dit buite.
Na veertig dae en veertig nagte sien ek weer die son en blou lug.
Ek wag vir die water om te sak.
Ek wag die duif om met ‘n olyftak terug te kom.

Na veertig dae en veertig nagte bou ek ‘n altaar van dankbaarheid.
Dankbaarheid teenoor my God wat my teen die vloedwater beskerm het.
Dankbaarheid teenoor elkeen wat my vir veertig dae en veertig nagte in gebed gedra het.

Na veertig dae en veertig nagte staan ek in verwagting op ‘n reënboog in die lug.
Die reënboog wat die lug verkleur tot ‘n aanskoulikheid.
Die reënboog wat belofte bring.
‘n Belofte van ‘n nuwe seisoen en die nuwe lewe wat gaan spruit.