Thursday 27 November 2008

As mense weggaan

…spesiaal vir Hester

Lank gelede het ek
geskryf oor mense wat weg is uit my lewe. Ek het geskryf oor ‘n klomp verskillende redes hoekom mense nie meer deel van my lewe is nie en vandag kan ek nog ‘n paar redes daarby voeg.

Maar vandag gaan nie oor my en die mense wat nie meer in my lewe is nie, want my hart gaan uit na jou uit wie se lewe daar vandag baie spesiale mense weggaan.

Dis so ongelooflik moeilik as jy gewoond is daaraan dat hulle bloot net altyd daar is – ‘n telefoonoproep en ‘n kort rit ver. Ek kan vir jou sê dat alles OK gaan wees – want alles gaan OK wees. Maar ek kan nie vir jou sê dat jy hulle nie gaan mis nie – want jy hulle mis gaan.

Daar is egter ‘n band tussen julle – die band van Christus se liefde – wat nooit gebreek kan word nie. Nie eers oor kontinente heen nie. Mag jy in die tyd wat voorlê die ware krag van hierdie band ontdek en mag die omvang daarvan jou innerlik versterk.

Ek bid vir hulle wat gaan: seën en ‘n blink toekoms vol geleenthede.
Ek bid vir jou wat bly: vrede en rustigheid.

1 comment:

  1. Baie dankie hiervoor Annelie - jou gebed, ondersteuning en seen is so kosbaar vir my! Die Here se nabyheid en vetroosting was gisteraand voelbaar. Aanvanklik was ek stukkend by die gedagte dat my sussie moes weggaan. Ook omdat dit die derde jaar agtereenvolgens is wat ek iemand in my binnekring oor die Kerstyd 'verloor': in November 2006 my pa, in Desember 2007 my man, en nou vir Annemi. Hierdie keer ervaar ek egter iets anders. Opgewondenheid! Vir die geleenthede wat sy het, en omdat ek WEET, sy en Henno is onder die Here se beskerming en seen!

    ReplyDelete