Sunday 7 October 2007

sielsdinge

Ek wou eers sê dis vreemd ... maar toe besef ek dis eintlik wonderlik.

Ek praat van hoe 'n aand vol sielsdinge, jou verkwik om weer die mooi raak te sien. Hoe dit jou inspireer om selfs nog meer sielsdinge te doen. Dit laat my wens ek kon vandag op 'n kombers onder 'n jakarandaboom gaan lê en na die wolke staar en die storie vertel van elke prent wat ek in die wolke sien. Dit laat my dink aan al die wonderlike geleenthede wat die lewe my bied om my eie siel te verreik.

En ek is spyt oor al die tyd wat ek mors deur:
nie die mooiste boeke wat ooit geskryf is, te lees nie;
nie 'n pakkie op te maak om 'n kinderhart te verbly nie;
nie spandeer saam ware vriende nie;
nie spandeer saam my familie nie;
nie my hande (en hare en klere) vol verf laat word nie;
nie die stilte waardeer nie;
nie my gedagtes neer te pen nie;
nie handgeskrewe briewe aan my geliefdes te pos nie;
nie die kleur rondom my raak te sien nie;
nie meer te lag nie;
nie meer te geniet nie;
en nie meer van myself vir ander te gee nie.

Vanoggend is ek geinspireerd om 'n lang brief aan my Engeland-tannie te skryf en haar te vertel van die somer wat hier aangebreek het. Ek skryf van die reen-gewasde aarde wat die mooiste groen uit dooi takke laat kom, Jakarandabome wat die strate pers kleur, en die helder blou lug op 'n wolklose dag in perfekte harmonie met die Afrika-son. En dit is net die goed wat ek uit die venster kan sien as ek opkyk vanwaar ek sit en werk. Stap ek uit op die balkon, voel ek hoe daai Afrika-son warm op my vel skyn en hoe 'n koel bries dit dan weer laaf. Buite ruik ek van een kant af die rye lavental wat die Jakarandas in kleur komplimenteer, en van die ander kant af styg die soet reuk van die sering wat bo die res uit.

(Addendum)
Skaars ‘n uur na ek alles hier bo geskryf het, begin dit reen. Katte en honde. Met elke druppel wat ek sien val, kan ek voel hoe my siel en elke hoekie van my hart skoongewas word. Die donderweer doof alles uit tot net ‘n stilte in my oorbly, ek bewus word van my eie hartklop en die gedagtes binne my.