Monday 28 June 2010

Om die toekoms te sien

FlashForward is 'n televisiereeks oor die lewens van 'n aantal mense wat die vreemde gebeure wat veroorsaak het dat byna elke mens op aarde gelyktydig vir twee minute en sewentien sekondes hul bewussyn verloor het, ondersoek. Gedurende hierdie minute het almal "gesien" wat ses maande in die toekoms gaan gebeur. Die kollektiewe bewusteloosheid staan as die "global flashforward" bekend.

Die reeks gaan oor die ondersoek na die oorsaak van die gebeure, maar ook hoe dit mense se persepsies van hul lewens verander. Hoe dit mense beïnvloed om hul lewens 'n ander rigting te laat inslaan en hoe mense probeer om die toekoms (soos hulle dit gesien het) te verander. Mense raak behep met wat hulle gesien het en dit is die eerste ding wat hulle vir mekaar vra: "wat gaan oor ses maande met jou gebeur?"

Die reeks het my baie laat dink oor hoe ek op 'n flashforward sal reageer. Sal ek alles in my vermoë doen om dit wat ek gesien het te vermy of juis my lewe so inrig dat dit op die verwesenliking van my flashforward afstuur?

Ek weet nie hoe ek daarop sou reageer nie, maar ek is baie dankbaar dat daar 'n rede is hoekom ons nie weet wat die toekoms inhou nie. Ek wil nie elke dag wonder hoe dit wat ek nou doen, dit wat in die toekoms móét gebeur gaan raak nie. Ek wil nie onnodig in vrees lewe vir dit wat gaan gebeur of soveel uitsien na dit wat gaan gebeur dat dit my van hier en nou laat vergeet nie.

Ek wil vir mense vra: "hoe gaan dit vandag met jou?" Ek wil elke dag leef vir hier en nou. Dit beteken nie dat 'n mens nie vir die toekoms moet beplan nie, maar wel dat jy nie vandag spesifiek volgens die toekoms moet beplan nie.

Friday 25 June 2010

Suiwer taalgebruik

Vroeër die week was daar 'n brief op 'n plaaslike nuuswebblad oor 'n Afrikaanse sepie waarin baie swak, of dan eerder onsuiwer, Afrikaans gepraat word. Dit het baie kommentaar uitgelok. Mense het gepraat oor die invloed wat Engels nie net op Afrikaans het nie, maar op die meeste tale wêreldwyd en dat 'n mens dit maar moet aanvaar omdat dit is hoe taal ontwikkel. Dan was daar weer die puriste wat nie "opinie" en "mening" sal verwar nie, wat nou nog daarvan om "obviously" in plaas van "uit die aard van die saak" te gebruik.

Ek praat self nie so 'n suiwer weergawe van my taal as wat ek eintlik graag wil nie - en dalk kan hierdie debat vir my 'n aansporing wees om minder Engelse woorde in my gesprekke te gebruik. Wat wel vir my belangrik is, is om suiwer Afrikaans te gebruik wanneer ek skryf ; spelling is nie onderhandelbaar nie en van sms-taal wil ek nie eers praat nie. Iets anders wat my ook dwars in die krop steek, is dat die Afrikaanse musiekbedryf so verengels het. Soms is daar soveel Engelse woorde in 'n sogenaamde Afrikaanse liedjie, dat ek nie weet of dit dan wel as Afrikaans geklassifiseer kan word nie.

Hoe dit ook al sy, ek gaan vir niemand voorsê hoe om te praat nie, maar gaan self probeer om beter Afrikaans te gebruik as ek praat en beslis poog om dit so suiwer moontlik te hou wanneer ek dit skryf.

Thursday 24 June 2010

Ek glimlag wanneer ...

· my man in die middag by die huis kom
· kinders lag
· ek tyd saam met familie en vriende spandeer
· ek vars koffie ruik
· dit aan die einde van 'n warm dag reën
· die plantjies in my tuin begin blom
· daar geen probleme op die snelweg is nie
· ek 'n nuwe resep toets en dit 'n wenner is
· ek besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees
· ek ou vriende weer sien
· ek na my troufoto's kyk
· Suid-Afrikaners steeds hul vlae laat wapper, ten spyte daarvan dat Bafana nou uit die wêreldbekertoernooi is
· my man onverwags vir my 'n liefdevolle sms stuur
· ek wakker word en weet dit is naweek
· ek 'n nuwe boek koop of kry
· ek my gelukkige kinderdae onthou en na ou foto's kyk
· daar goeie nuus in die koerante is
· flieks gelukkige eindes het
· ek aan vakansievooruitsigte dink