Tuesday 4 October 2011

Haal jou masker af!


Die naweek hoor ek van 'n kennis se selfmoordpoging en my eerste gedagte is: "Hoe kon sy? Sy lyk dan altyd so in beheer van haarself en haar lewe".  Ek dink aan 'n gesinsmoord wat 'n paar weke gelede in die landgoed waar ons woon plaasgevind het, en ek lees in die koerant hoe die man se familie sê dat hulle 'n gelukkige gesin was.

Ek besef hoe maklik dit is om 'n masker op te sit, om mense te laat sien wat jy hulle wil laat sien. As jy hulle wil laat dink dat jy in beheer van jou lewe of 'n gelukkige gesin is, dan is dit wat die wêreld sal sien. Want ons almal dra die maskers wat ons die beste pas.

Ons sit die maskers op wat mense tevrede sal stel, maskers wat blyk dat ons, ons beste by die werk en by die huis gee, en maskers wat ons op ons beste laat  lyk en vriendelik met die mense om ons laat wees. 

Maskers is beelde wat ons skep en waaragter ons skuil; emosionele beskermingsmeganismes om voor te gee alles gaan goed in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. Ons dra maskers om voor te gee ons is wie en wat die wêreld van ons verwag om te wees, omdat ons te bang is vir verwerping wanneer ons nie aan daardie verwagtinge voldoen nie. As ons maskers dra verloor ons ook wie en wat God ons gemaak het om te wees, insluitende ons talente. In die proses om te wees wat die wêreld van ons verwag, onderdruk ons dalk ons gawes en passies –  en waarskynlik ons eie geluk.

My wens is dat ons almal sonder maskers sal leef en die wêreld sal toelaat om te sien wie en wat ons is – of dit nou aan die wêreld se standaarde voldoen of nie. Ons moet ook nie skroom om ons pyn en hartseer te openbaar nie. As ons sonder maskers leef en mekaar sonder ons maskers aanvaar, sal dit nie nodig wees om voor te gee jy is in beheer van jou lewe en die dag as die masker te swaar word om te dra, 'n selfmoordpoging kos om hulp te kry nie.  As dit vir die wêreld aanvaarbaar was om te weet dat hulle nie 'n gelukkige gesin was nie, was hulle dalk nou nog 'n lewende gesin.