Monday 15 December 2008

Kersvader wie?

Goed, ek weet almal is al moeg vir my siening oor hoe mense Kersfees vier … maar daarom deel ek vandag graag ‘n artikel deur Antoinette Pienaar wat ek op Beeld se webtuiste raakgelees het.

† Kersvader, Sinterklaas
Leer jou kinders Kersvader is “dood”, want Kersfees gaan nie oor die man met die wit baard in die rooi jas nie.

So sê die ChristianView Network in ’n verklaring waarin hulle kla dat miljoene rande dié feestyd eerder aan bemarking van Kersvader as Christus gaan.

’n Onderwyseres in Brittanje is onlangs afgedank nadat sy ongeveer dieselfde mening gelug het.
Die vrou het glo aan ’n klas sewejarige kinders by ’n laerskool in Manchester gesê Kersvader bestaan nie en dis hul ouers wat die geskenke onder die boom kom neersit.

Die kleintjies is in trane huis toe en die hoof moes skarrel om skriftelike verskonings uit te stuur. Sy het die werwingsagentskap gebel en die onderwyseres werk glo nie meer daar nie.

ChristianView Network het die afgelope week gesê mense hardloop soos malles deur die winkels om hul laaste Kersfees-inkopies te doen, pleks om in dié tyd aan Jesus te dink.

“Geldgedrewe koerante en winkels bemark die god Kersvader.
“Sommige wat hulle skaam vir die naam van ons Redder, gebruik Xmas eerder as Christmas.
“Ek sien uit na die dag wanneer, soos met die antieke Romeinse gode in Europa, Kersvader ook vergete en gediskrediteer is,” sê mnr. Philip Rosen- thal van die netwerk.

Volgens hom moet mense Christus in die feestyd “bemark” deur onder meer kaartjies met Christelike temas te koop en hul kinders te leer Kersvader is “dood”.

Intussen sê navorsers aan die Universiteit van Montreal in Kanada dit is nie sleg vir kinders om in die man met die rooi jas te glo nie, al voel sommige ouers hulle jok vir hul kinders.
“Wanneer hulle die waarheid hoor, aanvaar die kinders die reël van die speletjie en help hulle selfs hul ouers om die kleiner kindertjies in die mite te laat aanhou glo,” het prof. Serge Larivée van die universiteit aan EurekAlert! gesê.

“Dit word ’n oorgangsritueel waarmee hulle weet hulle is nie meer babas nie.”

Larivée en sy kollegas het na studies gekyk wat in 1896 en 1979 onder kinders tussen die ouderdom van 7 en 13 gedoen is. Sowat 46% en 44% van kinders het self uitgevind dat Kersvader nie bestaan nie. Meer as 22% het in 1896 erken hulle was teleurgesteld en 39% in 1979. Onderskeidelik 2% en 6% het gesê hulle het “verraai” gevoel. Larivée het gesê kinders se geloof in Kersvader taan namate hulle die vermoë ontwikkel om te redeneer. Hulle besef dit is onmoontlik vir Kersvader om deur die skoorsteen te pas en dat hy beslis nie oral gelyk kan wees nie.

In 1896 het 54% van die ouers gesê hulle ondersteun die Kersvader-mite omdat dit hul kinders gelukkig maak, teenoor 73% in 1979 en 80% in 2000. In 1979 het ouers in 40% van gevalle die nuus aan kinders gebreek dat hy nie bestaan nie, teenoor 25% in 1896.

Larivée het gesê hy het nou die volgende vraag: As kinders dieselfde bomenslike magte met Kersvader assosieer as met God, hoekom hou hulle op om in Kersvader te glo, maar nie in God nie?
Gaan lees nou ook hierdie posting wat ek op 'n ander blog (die van 'n ene Sonkind) raakgelees het ...dit maak dit net soveel makliker om jou kinders die waarheid oor Kersvader te leer.

No comments:

Post a Comment