Monday 20 September 2010

What's in a name?

What's in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet

Met hierdie bekende woorde het William Shakespeare in die laat 1500's bedoel dat dit nie gaan oor wat iets (of iemand) genoem word nie, maar oor wat dit (die persoon) is. Dit het my laat wonder hoe belangrik die name is wat ons gekry het en wat ons vir kinders gee. Baie mense gee hul kinders sekere name omdat dit 'n bepaalde betekenis het en hulle voel daardie betekenis gaan vir die res van die kind se lewe oor hom of haar uitgespreek word.

In die Ou Testament vind ons baie name met betekenis (gewoonlik word die betekenis in 'n voetnota aangedui). In 1 Samuel lees ons dat Hanna die Here vir 'n kind gesmeek het; na haar gebed verhoor is en sy die kind in die lewe gebring het, het sy gesê: "Sy naam is Samuel, want van die Here het ek hom afgesmeek". Die naam Samuel, in Hebreeus Shemu El, beteken "God hoor". Die kind se naam was dus ’n getuienis van hoe die Here haar gebed verhoor het. Ons kry ook vandag baie name wat vir kinders gegee word as getuienis van wat die kind vir die ouers beteken – byvoorbeeld Joyce of Grace.

In die Nuwe Testament is betekenis van name nie so algemeen nie, maar die bekendste is seker waar Gabriël die nuus van haar swangerskap aan Maria bekend maak en sê dat sy Hom Jesus moet noem, omdat dit "Verlosser" beteken. Ook vandag gee ouers hul kinders name waarmee hulle 'n sekere eienskap aan die kinders wil toedig – soos Happiness of Peace.

Ek dink nie dit maak regtig saak wat ons name beteken nie (daar is ook geen verpligting in die Bybel dat name betekenis moet hê nie), maar ek dink dis lekker om te weet wat jou naam beteken. My naam beteken (soos alle afleidings van Hanna en Anna) begenadigde of begunstigde. Ek dink wanneer ek die dag 'n naam vir 'n kind moet uitdink, sal ek nie noodwendig die naam na aanleiding van die betekenis kies nie, maar wel uitvind wat die naam beteken voor ek dit aan 'n kind gee.

Bronne:

Tuesday 7 September 2010

Waar begin verantwoordelikheid?

Vir so lank as wat ek kan onthou, het my ma my verbied om soggens die huis te verlaat as my bed nie opgemaak was nie. Ek het altyd gedink dis bloot 'n poging tot netjiese kinderkamers, maar die ware rede het ek nou eers ontdek.

My ma is vir die afgelope 38 jaar 'n onderwyseres en verlede week vra sy 'n onmoontlike stout kind se ma of die kind self sy bed opmaak. Die ma antwoord half verbaas, nee, die kind maak nie self sy bed op nie.

Dit is net daar waar my ma toe haar punt maak: As die kind nie eers verantwoordelikheid kan neem om self sy bed op te maak nie, hoe sal hy ooit verantwoordelikheid vir belangriker dinge in die lewe leer? As hy verantwoordelikheid neem om sy bed op te maak (en ander huisreëls na te kom), sal hy waarskynlik later self verantwoordelikheid begin neem om skoolreëls na te kom en huiswerk te doen.

Dit gaan nie oor bedopmaak per se nie, maar daaroor om vir iets (hoe klein ook al) verantwoordelik gehou te word. Leer jou kinders verantwoordelikheid vir die klein dingetjies en maak ook seker hulle weet wat die gevolge is as hulle dit nakom of nie nakom nie. Soos ons ouer word, raak ons verantwoordelikhede groter en die gevolge het groter implikasies.

As jy nie huiswerk doen nie, moet jy detensie sit.
As jy laat tuiskom, word jy gehok.
As jy te vinnig ry, word jy beboet.
As jy nie jou elektrisiteitsrekening betaal nie, word dit afgesny.
As jy nie jou werk doen nie, kan jy afgedank word.
As jy verkeersreëls oortree, kan dit iemand se lewe kos.

Kom ons gaan kyk weer hoe ons die klein dingetjies in die lewe hanteer – as ons dalk daar 'n verandering kan maak, sal dit definitief ook 'n invloed op die groot dinge in ons lewens hê.

Monday 6 September 2010

Suurstof vir my siel

Einde Oktober verlede jaar het ons met groot opgewondenheid na ons huis getrek en daar is 'n lieflike groot grasperk. Maar dis al wat daar is. 'n Grasperk en geen tuin nie. Vir die eerste paar maande na ons ingetrek het, was daar niks anders as ons troue in my gedagtes nie en tuinmaak die laaste ding waaraan ek gedink het. Na die troue was dit winter en nou kan ons uiteindelik begin tuinmaak.

Ek geniet die tuinmaak en dit verskaf my soveel vreugde om elke dag na al my plante te kyk, elke nuwe blaartjie of knoppie te bestudeer, om te sien hoe vinnig die Azalea al oortrek was van groot helder pienk blomme en hoe klein pers knoppies aan die Yesterday, Today and Tomorrow kop uitsteek.

Natuurlik het ons ook 'n boom geplant. 'n Koorsboom (Acacia xanthophloea). (Ek sou eers later uitvind dat dit ook die boom van die jaar is).

'n Koorsboom omdat dit 'n pragtige boom is.
'n Koorsboom omdat dit inheems is.
'n Koorsboom omdat daar baie van in die landgoed is en dit lyk of hulle gelukkig in die klimaat is.
'n Koorsboom omdat die helder groen stam vir my 'n bekoring inhou.
'n Koorsboom omdat ek hulle skielik oral raak sien en bewonder.
'n Koorsboom omdat ek sien hoe graag die vinke in hulle nesmaak en ek graag iets wil gee in ruil vir die kleur en klank wat hulle na my tuin bring.

So gaan soek ek en skoonma 'n boom uit, dis nog 'n baie jong boompie, maar ons reken hy het potensiaal. Die gat word dus gegrawe, die grond bewerk met kompos en beenmeel en die boom eindelik geplant.

Na 'n paar weke moes ek met groot teleurstelling erken dat die boompie dit nie gemaak het nie. Ek was so hartseer dat my eerste boom gevrek het. Hoe is dit moontlik? Al die ander plante groei en lyk pragtig. My suurlemoenboom wat al jare in 'n pot staan is vir die eerste keer oortrek met bloeisels en klein suurlemoentjies. Wat het ek verkeerd gedoen met die koorsboom? Te min water? Te veel water? Het ek nie genoeg met hom gesels nie? En so hou die vrae aan.

Saterdag besluit my Liefie dat ek die boom moet laat gaan, maar darem nie sommer net so nie. Ons ry in verskillende windrigtings agter kwekerye aan tot ons die perfekte plaasvervanger kry.

Die boom is egter heelwat groter en lyk ook sommer sterker as sy voorganger en helder groen blare loop oral uit. Wat 'n vreugde! Ek is seker hierdie boom gaan my sommer baie plesier verskaf. 'n Spinnekop het reeds begin drade span tussen die dorings en die voëls sit reeds op sy takke en sing, en ek weet, hierdie is die regte boom op die regte plek.

As jy enigsins kan, plant 'n boom! Daar is baie redenasies oor hoekom ons bome moet plant – byvoorbeeld, die suurstof wat dit vrystel en hoe goed vir die omgewing is. Maar vir my is dit 'n nice to do, heilsame aktiwiteit, en die suurstof wat hierdie boom vrystel, is suurstof vir my siel.