Tuesday 4 October 2011

Haal jou masker af!


Die naweek hoor ek van 'n kennis se selfmoordpoging en my eerste gedagte is: "Hoe kon sy? Sy lyk dan altyd so in beheer van haarself en haar lewe".  Ek dink aan 'n gesinsmoord wat 'n paar weke gelede in die landgoed waar ons woon plaasgevind het, en ek lees in die koerant hoe die man se familie sê dat hulle 'n gelukkige gesin was.

Ek besef hoe maklik dit is om 'n masker op te sit, om mense te laat sien wat jy hulle wil laat sien. As jy hulle wil laat dink dat jy in beheer van jou lewe of 'n gelukkige gesin is, dan is dit wat die wêreld sal sien. Want ons almal dra die maskers wat ons die beste pas.

Ons sit die maskers op wat mense tevrede sal stel, maskers wat blyk dat ons, ons beste by die werk en by die huis gee, en maskers wat ons op ons beste laat  lyk en vriendelik met die mense om ons laat wees. 

Maskers is beelde wat ons skep en waaragter ons skuil; emosionele beskermingsmeganismes om voor te gee alles gaan goed in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. Ons dra maskers om voor te gee ons is wie en wat die wêreld van ons verwag om te wees, omdat ons te bang is vir verwerping wanneer ons nie aan daardie verwagtinge voldoen nie. As ons maskers dra verloor ons ook wie en wat God ons gemaak het om te wees, insluitende ons talente. In die proses om te wees wat die wêreld van ons verwag, onderdruk ons dalk ons gawes en passies –  en waarskynlik ons eie geluk.

My wens is dat ons almal sonder maskers sal leef en die wêreld sal toelaat om te sien wie en wat ons is – of dit nou aan die wêreld se standaarde voldoen of nie. Ons moet ook nie skroom om ons pyn en hartseer te openbaar nie. As ons sonder maskers leef en mekaar sonder ons maskers aanvaar, sal dit nie nodig wees om voor te gee jy is in beheer van jou lewe en die dag as die masker te swaar word om te dra, 'n selfmoordpoging kos om hulp te kry nie.  As dit vir die wêreld aanvaarbaar was om te weet dat hulle nie 'n gelukkige gesin was nie, was hulle dalk nou nog 'n lewende gesin.

Monday 11 July 2011

Deur die venster van myself

Ek is 'n gereelde besoeker van deavondurenvanjoost en ek geniet sy foto's baie. Daar is egter een foto wat hy in Junie gepubliseer het waarna ek keer op keer terugkeer omdat dit my aan die dink gesit het. Met Joost se toestemming plaas ek dit hier en deel 'n stukkie van hoe ek dit sien.


Hierdie foto het my baie laat dink aan hoe ons na die wêreld, na mense en na aangeleenthede kyk. So dikwels is ons vasgevang in ons eie lewe, ons eie dinge en ons eie denke dat ons nie dinge buite onsself sien soos dit werklik is nie.

Ek weet my bogenoemde stelling is baie beredeneerbaar en dat 'n mens dit doodeenvoudig persepsie kan noem. (Ek weet ook dat dit sekerlik baie teenstrydig is om my siening oor persepsies te deel, want dit is immers net my persepsie.)

Hierdie foto het my egter daaraan laat dink dat ons soms ons eie persepsies moet ondersoek om seker te maak ons denke is nog in ooreenstemming met die werklikheid.

Kom ons was gereeld ons vensters, sodat ons dinge kan sien soos dit werklik is. Ons moet dit doen sodat ons nie 'n vuil kol op ons eie vensters sien dink dit is eintlik op die venster aan die oorkant is nie. (Dit laat my ook 'n bietjie aan die Bybelse analogie dink van dat ons eers die balk uit ons eie oë moet verwyder.)

Net so voel ek dat wanneer ons deur die hortjies van ons eie vensters kyk, ons mense en dinge in boksies plaas waar hulle nie hoort nie. Kom ons skuif die venster sommer heeltemal oop sodat ons die groter prentjie kan sien.

Friday 1 April 2011

Aprilgek

Vanoggend maak ek Nuus24 oop en lees die berigte se opskrifte om te kyk watter een hul Aprilgek-grappie vir 2011 is.  Ek kom toe op die berig af oor die boetes wat vir vuil motors gehef gaan word (sien Boetes kom vir vuil motors).

Wat my meer amuseer as die flou grappie, is hoe ernstig mense dit opneem. Die kommentaar op die berig gaan alles oor hoe belaglik dit is en dat die regering eerder op dienslewering moet fokus en dat dit net 'n geldmaakstorie is. Dalk is dit 'n bewys van hoe mense vaskyk in dat wat verkeerd is in die land, dat hulle nie grappie kan raaksien as hulle dit lees nie.

Nuus24 behou die reg voor om elke persoon se kommentaar te modereer en ek reken dit is die rede waarom my kommentaar (April fool!) nie opgelaai is nie – hulle wil waarskynlik eers nog 'n paar humeure en reaksies ontlok.

Friday 25 March 2011

Ek kyk op na die berge

Ek is al twee (baie besige) weke agter die tyd met wat ek al wou en moes skryf. Dis juis my besige, gejaagde lewe, wat my weer laat terugdink aan die heerlike, rustige en ontspanne naweek van twee weke gelede waaroor ek wil skryf.

Dit was naweek wat ek iets van die Psalmdigter se ervaring beleef het. Ek het opgekyk na die berge en geweet waarvandaan my hulp kom. My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Ek het die grootheid van die berge aanskou en die pragtige natuur ingedrink – en ek weet dat die Almagtige God, wie se grootheid maar net deels in die pragtige berge manifesteer, my hulp is. (Daar is ook soveel ander wonderlike werke waarin ek Hom daagliks sien en mee geseën word.)

Dit was 'n naweek waar ek midde-in hierdie pragtige grootheid sommer net kon lees en ontspan, na die mooi natuur en veral die amfiteater kyk, en lekker saam met my Liefie en goeie vriende kuier. Ons het die heerlike voorreg gehad om in die Mahai Kamp van die Royal Natal National Park te gaan kamp.

Ons het ver gery, ons op slegte paaie met baie padwerke bevind; Sondagoggend het ons in reënweer kamp opgeslaan voor ons weer die terugtog aangepak het, maar die kort rukkie het my batterye herlaai en herinner waar my hulp vandaan kom.

Thursday 27 January 2011

Angela's Ashes

Vanaf dag een wat ek my skoonma ontmoet het, weet ek dat haar gunstelingboek van alle tye Angela's ashes is. Ek weet dat sy haar nie die lewe sonder die boek kan indink nie. En ek weet dat sy wil hê almal wat sy ken moet die boek lees. Dit is waarom sy nog 'n kopie van die boek gekoop het en vir my gegee het om te lees.

Ek het die boek met 'n verwagting begin lees – 'n verwagting aan 'n wonderlike storie wat briljant geskryf is. Wat ek gevind het, is een van die neerdrukkendste boeke wat ek nog gelees het. Daarmee saam is dit egter ook fassinerend, hartverskeurend en brutaal eerlik teen 'n agtergrond van armoede en swaarkry. Angela's ashes is Frank McCourt se memories van sy grootwordjare tydens die depressie en oorlog in 'n land (Ierland) wat in die wurggreep van tradisie, toenemende armoede, werkloosheid en die Katolieke kerk staan.

Die armoede, die swaarkry, die honger, die vuil klere en die stukkende skoene ruk aan my hart. Die feit dat 'n seuntjie van kleins af moes pa staan vir 'n gesin en moes steel om kos op die tafel te kry, is net so verkeerd. Daar is 'n toneel waar die gesin van vyf persone 'n eier ('n eier!) deel en ek kan my dit nie indink nie. Tog besef ek dat dit in daardie tyd die realiteit in Ierland was. Dit laat my met dankbaarheid kyk na wat ek het en hoe maklik ek dit eintlik in die lewe het.

Die rol wat die Katolieke kerk in die boek (en in werklikheid) speel, maak my met tye briesend! Na sy eerste nagmaal, sê Frank dat hy nou amptelik deel van die ware geloof en amptelik 'n sondaar is, die gedagte aan sy sonde laat hom altyd voel dat hy verdoem is. Op 'n keer het hy vir meer as 'n jaar nie sy sonde aan die priesters bely nie, omdat hy te skaam was daaroor en die kerk het hom so geïndoktrineer dat hy dikwels vas geglo het hy is reguit op pad hel toe daaroor. Vir meer as 'n jaar lank loop hy met 'n berg op sy skouers rond by die gedagte aan sy verdoeminis. Wanneer hy wel op 'n keer sy sonde wou bely, word 'n deur in sy gesig toegemaak. Ek wil nie ander denominasies of gelowe afpraat nie, maar die boek het my weer laat besef hoe geseënd ek is om enige tyd, enige plek direk met my God te kan praat.

Na Frank se 19de verjaardag het hy genoeg geld bymekaar gemaak en gaan Amerika toe.  Dis ook waar die verhaal eindig – by sy eerste aand in Amerika. Die verhaal het my tog met 'n verwagting en 'n hoop gelaat dat daar vir hom 'n beter lewe gewag het. En dit klink vir my of dit wel die geval was. Ek lees op Wikipedia dat hy later aan die New York University gegradueer het, hy het op 66-jarige ouderdom begin skryf en verskeie pryse vir sy werk ontvang voor hy in 2009 oorlede is.

Angela's ashes is nie 'n mooi storie nie, maar dis 'n wonderlike verhaal en ek kan verstaan waarom my skoonma so gek oor die boek is.

Friday 7 January 2011

Life of Pi

Dit het my byna 'n maand geneem om die eerste 50 of so bladsye van Yann Martel se Life of Pi te lees, maar toe ek eers by die deel kom waar die hoofkarakter, Pi, saam met 'n Bengaalse tier op 'n reddingsboot beland en vir 227 dae om oorlewing veg, kon ek nie die boek neersit nie.
                                      
Pi is die enigste oorlewende van 'n skip wat gesink het, en Japannese amptenare luister na sy storie om die rede waarom die skip gesink het, te bepaal. Eers vertel hy van al die diere wat saam met hom op die reddingsboot was en hoe hy en Richard Parker (die Bengaalse tier) oorleef het en hoe die ander diere mekaar uitgemoor het. As hulle hom nie glo nie, vertel hy nog storie. Die keer was hy saam met drie ander mense op die reddingsboot, en is dit net hy wat oorleef, omdat die mense mekaar ter wille van oorlewing uitgemoor het.

Life of Pi is 'n verhaal wat my beide vermaak en verstom het; dit is 'n fantasie-avontuurverhaal waarin Pi, 'n Indiese seun, kwessies soos spiritualiteit en realisme van 'n jong ouderdom af ondersoek. Ek dink die boodskap van die verhaal het iets te doen met die manier waarop stories vertel word en die manier waarop jy na jou wêreld kyk en dit ervaar teenoor die werklikheid. Pi se eerste storie was baie minder geloofwaardig as sy tweede storie, maar tog was dit die verkose een omdat dit meer verbeeldingryk was.

Vir my sê dit iets van hoe 'n mens se verbeelding ware ontvlugting van die werklikheid kan wees, maar dat as jy op God gefokus bly, nie nodig het om van die werklikheid te ontvlug nie, omdat Hy jou keer op keer sal laat oorleef in moeilike omstandighede. Dit is 'n triomfantlike storie wat jou, soos Pi dit op een plek stel, in God sal laat glo.