Thursday 30 July 2009

Dankbaarheidsgebed maak my skaam

Gisteraand het ons weer besoek by Kosmos afgelê. Soos gewoonlik was dit 'n groot vreugde. Die seuns se energie is aansteeklik en ek is sommer vanoggend in 'n besonderse goeie bui. Ons het heerlik saam met hulle gekuier, pizza geëet en voor slaaptyd eers 'n Bybelstorie en toe een van die drie musketiers gelees.
Voor ete vra ons wie vir die kos wil bid en Marius* (ek skat hom so sewe of agt jaar oud) bied aan. Nog nooit het 'n kind se gebed my so aan die hart geruk nie. Hier is 'n kind wat in 'n kinderhuis bly, maar oorloop van dankbaarheid dat hy wel 'n huis het om in te bly en kos het om te eet. Nadat hy oor en oor dankie gesê het vir dit wat hy het, het hy begin bid vir die straatkinders wat nie kos het nie en wat koud kry. Hy het spesifiek gebid vir die wat in die strate en in tonnels moet slaap en wat nie mense het wat vir hulle omgee, soos wat hy het nie.
Nou vra ek myself af: As 'n kind wat in 'n kinderhuis bly (en meestal van ander se goedhartigheid afhanklik is) so dankbaar is vir sy omstandighede en vir dit wat hy het, en in gebed intree vir die wat veel minder as hy het, wat gee my die reg om so dikwels met die witbrood onder die arm te kla? Ek is skaam omdat ek nie altyd genoeg dankbaarheid toon vir dit wat ek so mildelik ontvang nie. En ek skaam omdat ek nie altyd besef nie dat dit wat ek gee vir die wat minder as ek het, nie noodwendig genoeg is nie, maar dat hulle ook my gebede so bitter nodig het.

Wednesday 22 July 2009

Luister na daardie stemmetjie

'n Week of so gelede het ek 'n boodskap van 'n ou universiteitsvriendin gekry. Lynette* het oor my gewonder, 'n google-soektog gedoen en my opgespoor waarna ek 'n epos gekry het oor hoe dit met haar gaan.

Ek en Lynette het saam op 'n komitee gedien en uit die aard van die saak relatief baie tyd saam spandeer (alhoewel ek haar nooit as een van my "beste" vriendinne beskou het nie). Toe ek teen die einde van daardie jaar die universiteit verlaat en Lynette agterbly, was sy in 'n diep donker gat van depressie (as gevolg van meer redes as wat ek seker ooit sal kan raai).

Ons het nie regtig kontak behou nadat ek weg is nie, maar toe iemand later vertel hoe sleg dit met Lynette en haar depressie gaan, het ek besluit om vir haar 'n brief te skryf. Ek kan in alle eerlikheid nie 'n enkele woord onthou wat ek in daardie brief geskryf het nie. En dit was die einde van ons kontak.

Drie jaar later ry ek een Desember-middag uit by 'n motorhawe in Colesberg op pad terug van vakansie af toe 'n ander motor inry; vir jare daarna het ek nog gewonder of ek my verbeel het toe ek gedink het Lynette was in daardie motor.

Nog vyf jaar later kry ek 'n epos van Lynette af (en ja, dit was sy in die ander motor). Sy het my opgespoor en vertel hoe dit gaan. Vanmiddag het ek weer epos van haar gekry en dis hier waar ek by die punt van my storie wil uitkom. Lynette se epos het my hart vanmiddag terselfde tyd laat huil en juig. Dit het gelees:

I was going through my memory box last night and I found the card and the letter you sent me so long ago. I just wanted to say thanks for them. I don't think you'll even know how much of a difference it made.

Ek het die brief beantwoord, maar dit nooit gepos nie. As ek lees wat ek destyds geskryf het, sjoe. Dit maak my hartseer om dit te lees, want ek besef hoe diep ek in my depressie verval het. Ek is ook gelukkig dat ek so ver gekom het en soveel gegroei het.


Dit beteken vir my so baie om na agt jaar te weet dit het 'n verskil gemaak en ek is so dankbaar dat dit nou goed gaan met haar. Soos ek gesê het, ek het geen idee wat ek in daardie brief geskryf het nie, maar dis genoeg om te weet ek het geskryf wat sy nodig gehad het om te hoor.

Dis vir my genoeg om te weet ek het na daardie "stemmetjie" geluister wat vir my gesê het om die brief te skryf en wat om daarin te skryf. Ek besef van vooraf dat wanneer ons "gevra" word om iets vir iemand te sê of te doen, ons dit MOET doen. Soms besef ons nie eers dat mense op ons pad geplaas word omdat daar iets spesifiek is wat ons vir hulle moet sê of doen nie. En meestal sal ons nooit eers besef dat ons iets vir iemand beteken het nie.

Dis so lekker om te weet ek kon iets vir Lynette beteken, maar dis selfs lekkerder om te weet dat dit nou so goed gaan met haar.

My pleidooi aan Lynette is nou dat sy nooit daardie stemmetjie sal ignoreer as sy gevra word om iets vir iemand te doen of te sê nie. Ek hoop sy sal besef in watse wonderlike posisie sy nou is om ander te ondersteun wat deur dieselfde donker dieptes gaan waardeur sy is. Ek wens dat sy nie die verandering wat in haar lewe plaasgevind het vir haarself sal hou nie. En ek bid dat almal van ons altyd daardie stemmetjie sal gehoorsaam, want ons sal nooit weet waar en wanneer en hoe God ons as Sy instrumente gebruik nie.

Monday 20 July 2009

Die geheim van jonk bly

Die jongste uitgawe van Sarie is 'n viering van die tydskrif se sestigste bestaansjaar en is propvol "Toe en Nou"-brokkies en aanhalings uit die afgelope sestig jaar se uitgawes.

Een so 'n aanhaling is getiteld "Die geheim van jonk bly". Hierdie aanhaling uit die destydse Sarie Marais van 9 Julie 1958 spreek vir my van 'n resep wat soveel meer as net jonk bly aanraak en ek deel dit graag:

'n Mens word ook oud van dinge nié doen nie: nie 'n nuwe koek probeer bak nie, omdat die ou resep soveel makliker is; nie met die nuwe bure probeer kennis maak nie; nie die kleurskema van die woonkamer 'n slag probeer verander nie; nie nuwe boeke soek om te lees en nuwe plekke ontdek om vakansie te hou nie.

Monday 13 July 2009

Welgevonden

En ons het dit inderdaad wel gevind!

Ons was die naweek op Welgevonden natuurreservaat wat deel vorm van die Marekela Nasionale Park wat ongeveer 25 km noordwes van Vaalwater in die Limpopo Provinsie lê. Die naweek was een van rus, goeie geselskap, heerlike kos en lang wildsritte.

Daar word geen privaat voertuie in die reservaat toegelaat nie, wat bydra tot die absolute stilte en saligheid. (Voertuie word in 'n area by die hoofhek parkeer, vanwaar jy dan met 'n Land Cruiser na jou lodge geneem word.) Die feit dat daar slegs akkommodasie vir tien mense in die lodge is, het ook bygedra tot die rustigheid wat ons daar ervaar het.

Ons het in lieflike chalets gebly, elk met 'n kaggel, buitestort en stoep vanwaar jy 'n asemrowende uitsig oor die bosveld kan geniet terwyl bokke tussen die chalets wei.

Die naweek was vol hoogtepunte: Die aande het ons heerlik om die vuur gekuier terwyl die sterre in 'n skouspel bo ons geblink het en gisteroggend se sonsopkoms was ook spesiaal.

So het elke wildsrit ook sy eie hoogtepunte gelewer.

Vrydagaand kyk ons nog een oomblik nog hoe 'n seekoeibul staan en vreet, toe hy skielik omdraai en in volle vaart die water inhardloop. Dit het kompleet gelyk asof hy daar induik.

Saterdagoggend het ons drie leeuwyfies rustig in die skadu van 'n boom gesien lê terwyl twee welpies om hulle gespeel en later aan 'n hul ma gaan drink het.

Sondagoggend het ons 'n leeumannetjie en drie renosters gesien (waarvan een nog 'n kleintjie was).

Verder het ons, onder andere, ook rooibokke, blouwildebeeste, koedoes, rooihartbeeste, kameelperde, sebras en vlakvarke gesien.

Behalwe vir die feit dat my Liefie siek teruggekom het, het ons 'n fantastiese naweek in die bos gehad. Hier is 'n paar naweekfoto's wat ek met toestemming van my Liefie plaas.

Thursday 9 July 2009

The Megaphone of Hope

Wanneer jy genoeg tyd saam met mense spandeer, begin jy agterkom wat die belangrike dinge in hul lewens is. Jy sien hul 'lewensboodskappe' deur hoe hulle optree en hul houdings. In moeilike tye sien jy egter hoe daardie boodskappe uitgedoof of versterk word.

Watter boodskap stuur jou lewe uit en wat maak jy daarmee in moeilike tye?

Ek het gisteraand deel 2 van Louie Giglio se DVD HOPE: When Life Hurts Most gekyk; dis getiteld: The Megaphone of Hope. In hierdie deel praat hy oor die boodskappe wat jy uitstuur in moeilike tye. Dis in sulke tye wat dit hard en duidelik (soos deur 'n megafoon) na die wêreld uitbasuin word wat jou werklike karakter is en waar jy jou hoop vind.

Daar is verskeie punte waaroor ek na die tyd nagedink het:
* Waarheen draai ek vir hulp wanneer ek in die stroomversnellings van die lewe vasgevang word?
* Wat is die boodskap wat ek dan na die wêreld stuur?
* As my houdings in moeilike tye 'n megafoon word vir die boodskappe wat ek uitstuur, sal dit die dinge wat vir my die meeste beteken óf uitdoof óf versterk. Wat maak my houdings in sulke tye met die dinge wat my die naaste aan die hart lê?

Die meeste mense stuur in sulke tye 'n boodskap van selfbehoud uit. Alhoewel dit nie opsigself 'n slegte ding is nie, kan daardie boodskap jou moontlik laat 'ontspoor' deur na die verkeerde plekke te draai vir troos en hoop. Indien jou boodskap is om God te verheerlik, kan geen las daardie boodskap ooit uitdoof nie. In teen deel, daardie boodskap sal versterk word en God sal deur jou swaarkry verheerlik word.

God kan ons swaarkry baie beter tot sy getuienis en verheerliking gebruik as ons voorspoed. Ek is nie seker dat dit 'n groot inpak sal hê nie as iemand bloot die hele tyd vertel dat dit net nog altyd met hom goed gegaan het en hoe goed God vir hom sorg. Vat daarteen 'n getuienis van iemand wat van sy swaarkry vertel en hoe God dit omgedraai het en die goeie wat daaruit gekom het.

Nog een van Louie Giglio se stellings wat my opgeval het, is dat indien hy die kans sou hê om enige iets te verander, hy al die swaarkry van die verlede sou uitwis en dinge verander sodat dit nooit gebeur het nie. Dit is immers nie lekker nie en op daardie stadium aaklig om te hanteer. Maar hy kan dit nie verander nie en as dit nooit gebeur het nie, sou hy dalk nie van die goedheid van God en die hoop wat hy in God vind, kon getuig het nie.

Tydens 'n Pinkster-geleentheid nie te lank gelede nie, het die predikant die volgende beeld gebruik. Hy het 'n groot kleipot op die verhoog gehad, maar die pot het 'n paar krake en stukkende plekke gehad en daar was 'n lig binne-in die pot. As daar nie stukkende plekke in die pot was nie, sou 'n mens nooit die lig daarbinne kon sien nie. En dis ook hoe God ons gebruik, Sy lig skyn die beste deur ons gebrokenheid.

Ons weet immers dat daar altyd moeilike tye sal wees, daarom vra ek weer: Watter boodskap stuur jou lewe uit en wat maak jy daarmee in moeilike tye?

I have told you these things, so that in me you may have peace. In this world you will have trouble. But take heart! I have overcome the world. ~ John 16:33

Friday 3 July 2009

Naweekwoorde

Die naweek skuif al nader en ek hardloop dit met ope arms tegemoed. Wel, so vinnig as wat dit moontlik is om in die koue te hardloop met 'n dik rooi baadjie en stewels aan. Maar my hart is warm op hierdie koue winters-Vrydagoggend; warm oor die vooruitsigte van 'n luilekker naweek saam met my geliefde. En wanneer Jan Blohm se woorde van die groen trui ook nog in my gedagtes kom dwaal, sit ek my lyf daarin en basuin dit uit:

En die son brand purper my gedagtes
As die son of die reën vir my kom haal
Jy sê iewers is daar liefde
iewers waar tyd vir jou kom haal

Bly vanaand by my, ek weet jy't seer gekry
sit jou lyfie in my groen trui
Bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my

Wie's die girl onder jou oë
wat in Krismis kan glo
happy hours by die kroeë
Vra my lighty het jy 'n light?
Vou droom soos 'n kite
En scheme tonight tonight!

Bly vanaand by my, ek weet jy't seer gekry
sit jou lyfie in my groen trui
Bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my

Maak my siek en maak my blind
ek is jammer ek't jou ingesluk
is daar iemand wat vir my bid?
Maak my hartjie weer rein
Gee my Rembrandt van Rijn
Maak my blind vir hulle seine

Bly vanaand by my, ek weet jy't seer gekry
sit jou lyfie in my groen trui
O bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my

Bly vanaand by my, ek weet jy't seer gekry
sit jou lyfie in my groen trui
O bly vanaand by my, bly vanaand by my, bly vanaand by my