Tuesday 29 September 2009

Reën vir die siel

Hoe lank wens ek nie nou al vir 'n ordentlike reënbui nie – om die laaste winterstof af te was.

Laat gistermiddag begin iets in my roer, want dáái wind waai. En ek wonder of dit nie dalk net dit is nie.

Terwyl ek wag dat aandete gaar word in die oond, verkyk ek my aan die mat van blommetjies wat van die seringboom af op die gras voor my deur beland het en ek ruik die seringreuk wat tot binne-in my woonstel gewaai word.

Nie te ver weg nie klink die donderweer. En ek wens. Ek hoop. Ek bid vir 'n reënbui wat die nuwe seisoen behoorlik sal inlei.

Later sak 'n donderstorm uit wat my laat voel of ek van binne vernuwe word. Ek voel skoongewas vir die nuwe seisoen wat in my lewe aanbreek en ek sien sommer van vooraf kans vir al die take wat op die oomblik op my lysie is.

Monday 28 September 2009

6 Februarie 2010

Dag en datum is bevestig. Ek en my Liefie gaan op 6 Februarie 2010 in die huwelik tree!

Baie mense was baie verbaas omdat ons so vinnig die troue wil reël en ek het self met tye my bedenkinge gehad. Maar die afgelope naweek was 'n baie suksesvolle en produktiewe een en dinge is besig om in plek te val.

Die venue, spyskaart, dominee, troukoek en fotograaf is bespreek, ek is besig om te reël vir musiek en blomme. Hierdie week het ek afsprake vir die uitnodigings en natuurlik, my rok.

Dinge gaan baie goed en ons is baie opgewonde.

Nie net opgewonde oor ons troudag nie, maar veral oor die lewe wat daarop volg.

Tuesday 22 September 2009

Liefdesbrief

Deur Riana Scheepers en vanoggend spesiaal vir my Liefie.

Liefste,
ek lees liefdesgedigte
die wêreld se mooistes

In al die tale wat ek ken, lees ek
en dis pragtig
die lofliedere aan die liefde
die odes aan die geliefdes

Alles goed en wel, dié ontroerende verhale
maar my moed sak weg, Lief,
want nie een, nie één
sê net náástenby iets
van jou
van jou en my

Wat sal hulle kan sê
– die Groot Digters
wat smagtend by kerslig
met beeld en rym
die liefde besing –
as hulle jou sien?
Sal hulle iets kan bedink
om te beskryf hoe oorweldigend jy is
ken hulle woorde wat kan sê
van jou
van jou en my?

Nie een, Lief,
nie één
kan vertel hoe die woestyne van my land
brand in jou oë;
watter taal se woordeskat is goed genoeg
om te kan sê
van jou harde, lieflike lyf
die jare se son soet op jou vel gebrand
van jou asem in my hare
jou swerwershande wat my, mý die mooiste vrou
van alle eeue maak?

Watter digter kan ek vertrou
om te skryf
oor jou
oor jou en my?

Ek.
Ek wat my taal ken
en dit liefhet soos vir jou,
ek wat weet van beelding en metafoor
en pragtige poësie
ek wat weet
van jou
van jou en my,
ek kan.

Friday 18 September 2009

Opwindende planne!

Soveel soos ek uitsien na my troue, het die reëlings aanvanklik soos 'n berg voor my gelê en ek het nie geweet waar om te begin nie. Al die trou-webblaaie gee boonop vir jou 'n to do-lysie waarop ek van die begin af reeds baie ver agter is (almal dui aan wat jy reeds 12 maande voor die tyd moet doen, maar ek wil alles in vier en 'n half maande inpas).

Die oomblik toe ek egter my lysies begin maak het en met my ondersteuningsnetwerk begin gesels het, het alles verander. Dit is glad nie so onmoontlike taak nie. Ek dink ons het vinnig op dreef met die reëlings gekom. Ons kan egter eers volgende week die datum bevestig, maar sodra dit gedoen is, sal 'n hele klomp ander dinge ook in plek val.

Almal het gewaarsku dat die gastelys een van die grootste kopsere en onenigheid tussen die bruid en die bruidegom en die families gaan veroorsaak. Maar ek is baie trots op hoe vinnig en sonder probleme ek en my Liefie daaroor ooreengekom het.

Ons moet nog 'n paar besluite neem oor die keuses van die strooimeisie, strooijonker, seremoniemeester en wie heildronke op wie gaan instel maak, maar ons het reeds hieroor gepraat en ek dink nie dit gaan 'n groot krisis wees nie. Ek het ook reeds idees oor die kleurskema, uitnodigings, blomme en ander dinge wat ek kan finaliseer sodra die venue volgende week bevestig word.

Binne die volgende maand en 'n half moet ons nog trek ook en ons nuwe huisie ons s'n maak. Daar is nie 'n tuin om van te praat nie, maar ek sien uit om saam met my Liefie nes te skop, tuin te maak en ons groot dag te beplan.

Ek sien baie uit na die opwindende en besige paar maande wat voorlê!

Thursday 17 September 2009

Wat is 'n selgroep?

Gisteraand het ons nuwe selgroep begin en dit was so lekker om saam te gesels oor wat 'n selgroep is en hoe elkeen inpas.

'n Selgroep is in die eerste plek vir my 'n vorm van kerkwees. As jy gaan kyk na die eerste gemeente in Handelinge 2 (vers 43-47), kan ons selgroepe vergelyk met die huiskerke of -gemeentes van daardie tyd. Daar sien ons wat selgroepe veronderstel is om te wees – ons moet eensgesind wees, met mekaar deel en God prys.

Lede van 'n selgroep moet mekaar opbou om meer effektiewe en sterkter Christene te word. Elkeen het 'n funksie om te vervul (Efesiërs 4:16) en deur jou funksie te vervul, gebruik God jou om Sy liggaam saam met ander gelowiges te bou.

Elke lid moet 'n verbintenis maak tot die selgroep; dis hier waar jy uitvind wat jou gawes en bediening is en dis 'n geleentheid om dit te "oefen" vir wanneer jy uitgaan na die wêreld. Maak dit dus 'n prioriteit in jou lewe, want jou teenwoordigheid is kosbaar vir die ander lede.

Dis wanneer jy daardie verbintenis gemaak het tot die selgroep en dit 'n prioriteit in jou lewe gemaak het, dat jy kan begin bydra tot die groep. Elkeen is waardevol vir die groep en God verwag van ons om aktief by die geestelike groei van ander mense betrokke te wees. 1 Korintiërs 12:7-12 verduidelik hoe ons verskillende gawes het wat ons na die groep moet bring. Ons het nie almal dieselfde gawes nie en dit is presies hoekom ons almal 'n bydra moet lewer. Wees dus toegewyd aan die groep en laat God toe om jou en jou gawes te gebruik in die opbou van Sy liggaam.

Ons kan die selgroep as uitgangspunt vir evangelisasie gebruik. (1 Tim 2:4 sê dat God begeer dat alle mense gered moet word.) Ons het die geleentheid om mense na die selgroep te nooi en die kans te gee om God te leer ken. Evangelisasie vind ook plaas deurdat ons dit wat ons in die selgroep leer, na buite te leef sodat ander mense kan sien dat ons die Here dien en begeer om meer van Hom te leer. Verder is die selgroep ook die plek waar ons saam vir mekaar se vriende en familie en kollegas bid wat nog nie gered is nie.

Niemand kan op hul eie funksioneer nie – ons het verhoudings nodig. Johannes 13:35 sê dat ons as Christus se dissipels geken sal word as ons mekaar liefhet en dit is die liefdesbande wat ons in 'n selgroep het wat ons sterk maak in tye van krisis of siekte of trauma.

Van die ander gedagtes en idees wat gisteraand na vore gekom het, is dat mense wil hê die selgroeplede hulle "accountable" moet hou vir dit wat hulle doen of nie doen nie; en dat mens gewoonlik baie meer kry deur te gee as bloot net te ontvang.

Vir my maak dit nie saak op watter vlak van volwassenheid jy as kind van God is nie, ek glo dat elkeen kan baat by 'n selgroep en het 'n bydra om te lewer.

Monday 14 September 2009

MacDonald's en Diemersfontein

Ek weet, die Amerikaanse wegneemete en 'n Kaapse wynlandgoed het sekerlik niks in gemeen nie. Maar vir my is dit anders. Vir my het beide hierdie handelsmerke simboliek. Dit was dus niks minder as gepas dat daar MacDonald's en Diemersfontein by betrokke was toe my Liefie my die afgelope naweek by 'n baie spesiale geleentheid gevra het om sy vrou te word nie.

My Liefie, baie dankie vir 'n wonderlike aand. Ek sien baie uit na my lewe saam met jou in ons nuwe huis. Jy is 'n kosbare seën in my lewe waarvoor ek ons Vader daagliks dank.

Dankie aan elkeen wat in ons glo en ons in hul gebede opdra.

Friday 4 September 2009

Loslit Dag

Loslit Dag word elke jaar op die eerste Vrydag in September gehou – wat hierdie jaar, vandag is.

Ek dink hierdie is 'n wonderlike geleentheid om 'n bydrae vir gestremde mense te maak. Alhoewel niemand in ons departement volgens vanjaar se tema (sport) aangetrek het nie, was daar heelwat belangstelling en ondersteuning vir hierdie inisiatief. Teen 9:00 vanoggend was daar reeds, volgens die Loslit Dag
webblad, 'n bedrag van R2 090 062 ingesamel vir die 2009-projek.

Indien jy hierdie projek jaarliks ondersteun, wil ek vir jou 'n goue sterretjie gee. En as jy nie betrokke is nie, is dit nog nie te laat om jou bydra te maak nie. Gaan kyk op die webblad hoe jy nog 'n donasie kan maak en ook sommer na al die
instellings wat hierby baat.

Ek sien Loslit Dag nie net as 'n geleentheid om 'n klein bydra vir gestremdes te maak nie, maar ook 'n "reminder" vir myself oor hoe bevoorreg en dankbaar ek is om my ledemate ten volle te kan gebruik.

Tuesday 1 September 2009

Lentedag

Op lentedag dink ek altyd met 'n glimlag in my hart aan die jaar wat ek op 1 September vir die Britse tannie by wie ek toe gewoon het, gesê het: "Today is the first day of spring!" Sy het my aangekyk of ek half kinds is terwyl ek my land se lentedag in my geestesoog gesien het.

Die afgelope naweek het die lieflike weer ons na buite gedwing. Saterdagmiddag het ek en my Liefie aan die werk gespring; ons het die stoep gevee en die tuinmeubels gewas sodat ons die amper-somersaand langs 'n braaivleisvuur kon vier. Sondag het hierdie viering in 'n tuin saam met familie voortgegaan.

Ek het gister met verwondering om my potplant-tuin gekloek waar die vygies hul koppe uitsteek en ek kan nie kan wag vir die fees van kleur wat hulle gewoonlik voortbring nie. En dan is daar my gunsteling – my suurlemoenboom – wat net aanhou bloei en wat se geelgroenvrugte aanhou groei.

Vandag is 1 September en ek het met 'n lied in my hart opgestaan. Die weerburo het 'n sonnige 30˚C-dag vir Pretoria voorspel en ek dra vandag 'n rompie en sandale. Ek is nou nie die blommetjies-rokkie-tipe nie, maar in my gemoed blom dit beslis.

Ek sien uit na die nuwe seisoen wat in my lewe blom en die vooruitsigte en uitdagings wat dit bring en ek is baie dankbaar daarvoor. Moenie met toe oë deur die lewe gaan nie – sien die lente met waardering raak en besef hoeveel seëninge 'n nuwe seisoen bring.