Thursday 18 December 2008

Sy smile

…vir die een wat raas

Hierdie meisiekind
lê op die naat van haar rug
en luister hoe jy tokkel.
Soms iets van Laurika,
maar meestal Jan Blohm of Valiant.
En altyd smile sy
as jy raas op jou kitaar.

Hierdie meisiekind
lê op die naat van haar rug
en verkyk haar
aan hoe jou vingers
oor die snare gly.
En altyd smile sy
as jy raas op jou kitaar.

Hierdie meisiekind
lê op die naat van haar rug
en giggel
as jy die woorde vergeet
en dan jou eie opmaak.
En altyd smile sy
as jy raas op jou kitaar.

Hierdie meisiekind
lê op die naat van haar rug
en wens dat wat sy nou voel
nooit sal verander nie.
En sy weet sy sal altyd smile
solank as wat jy vir hààr
raas op jou kitaar.

No comments:

Post a Comment