Thursday 27 November 2008

As mense weggaan

…spesiaal vir Hester

Lank gelede het ek
geskryf oor mense wat weg is uit my lewe. Ek het geskryf oor ‘n klomp verskillende redes hoekom mense nie meer deel van my lewe is nie en vandag kan ek nog ‘n paar redes daarby voeg.

Maar vandag gaan nie oor my en die mense wat nie meer in my lewe is nie, want my hart gaan uit na jou uit wie se lewe daar vandag baie spesiale mense weggaan.

Dis so ongelooflik moeilik as jy gewoond is daaraan dat hulle bloot net altyd daar is – ‘n telefoonoproep en ‘n kort rit ver. Ek kan vir jou sê dat alles OK gaan wees – want alles gaan OK wees. Maar ek kan nie vir jou sê dat jy hulle nie gaan mis nie – want jy hulle mis gaan.

Daar is egter ‘n band tussen julle – die band van Christus se liefde – wat nooit gebreek kan word nie. Nie eers oor kontinente heen nie. Mag jy in die tyd wat voorlê die ware krag van hierdie band ontdek en mag die omvang daarvan jou innerlik versterk.

Ek bid vir hulle wat gaan: seën en ‘n blink toekoms vol geleenthede.
Ek bid vir jou wat bly: vrede en rustigheid.

quote

Ek deel graag hierdie aanhaling waarop ek gisternag afgekom het:
Faith isn’t faith until it is all you hang onto
(Ek kon nêrens uitvind wie dit oorspronklik gesê het nie.)

Wednesday 26 November 2008

Thanksgiving

What I want instead is your true thanks to God – Psalm 50:14 (NLT)

Ek moet erken dat ek nie noodwendig altyd goeie goed oor die Amerikaners te sê het nie. Maar as daar een ding is wat ons by hulle kan leer, is dit hul Danksegging-tradisie. Ek het wyd gelees na die oorsprong daarvan, maar te veel verskillende weergawes daarvan gekry en besluit om dit eerder hier uit te laat. En ek reken die oorsprong is in elk geval nie die belangrike aspek nie.

Ek hou van die idee om 'n dag af te sonder om dankie te sê vir die jaar wat verby is – soos wat die Amerikaners elke jaar op die vierde Donderdag van November doen. Vanjaar vind dit more, op 27 November, plaas.

As ek terugkyk op 'n jaar wat in baie opsigte seker die moeilikste ooit was, is daar steeds so baie waarvoor ek dankbaar is.

Ek is dankbaar vir my familie en vriende. Ek is dankbaar dat dit goed gaan met almal. En ek is veral dankbaar dat hulle in my lewe is – vir hul ondersteuning en liefde elke dag en in elke situasie.

Ek is dankbaar vir my werk. Nooit weer sal ek aanvaar dat 'n werk iets is wat ‘n mens bloot net het nie. Die feit dat ek vir ‘n tyd lank daarsonder was, het my geleer om met nuwe oë daarna te kyk. Ek is opnuut dankbaar vir elke bord kos wat ek het om te eet en dat ek nog nooit honger gaan slaap het nie. Ek is opnuut dankbaar vir die dak oor my kop en bed waarin ek slaap. Ek is opnuut dankbaar dat ek ‘n kar het en nie hoef te loop of te sukkel met ‘n bus of taxi nie.

Ek is dankbaar vir my persoonlike groei as mens. Ek is dankbaar dat ek in elke situasie iets kan leer en heel aan die ander kant kan uitkom. Ek is dankbaar vir elke stukkie genade en krag wat my hier gekry het.

As ek dus terugkyk is daar so ongelooflik baie waarvoor ek kan dankbaar wees. Ten spyte van alles wat gebeur het ... of dalk juis as gevolg daarvan.

En dit is alles net die dankbaarheid wat oor myself gaan. As ek iets moes weergee van die goed waarvoor ek vir my vriende dankbaar is (oor die dinge wat hierdie jaar met hulle gebeur het) sal ek baie bladsye vol skryf.

Ek wil met hierdie dogtertjie saamstem dat daar baie meer is om voor dankbaar te wees as wat ons in een dag eers aan kan dink.
As jy gaan delf in die herinneringe van die afgelope jaar, sal jy verbaas wees hoeveel jy het om oor dankbaar te wees. Ek daag jou uit om ten minste een ding waarvoor jy dankbaar is van 2008 in die openbaar uit te basuin – skryf dit hier as ‘n comment, sodat ander in jou dankbaarheid kan deel. En sê dan more spesiaal nog 'n keer dankie daarvoor - ek sal saam met jou dankie sê daarvoor.
Dankie vir 2008 en elkeen wat saam met my daarin gedeel het.

A thankful heart is not only the greatest virtue, but the parent of all other virtues - Cicero

Sunday 23 November 2008

Weekends

What are weekends made of?

Weekends are made of pink cocktails with decorative cherries and umbrellas.
Weekends are made of lazy afternoons spent reading, sleeping, meditating.
Weekends are made of fancy dress parties with props and champagne.
Weekends are made of Holy Communion, praying, worshiping.
Weekends are made of James Bond movies, which are not so James Bondish after all.

Well, this is almost what weekends are made of.
For these are simply the activities that fill up weekends.

Weekends are made of the people who share in these activities.

Friday 21 November 2008

Kersfees-gees

Oor vyf weke is dit Kersfees!

Elke jaar sukkel ek om in die Kersfees-gees te kom. In teendeel,
soos ek lankal reeds gesê het, raak ek eerder geïrriteerd met hoe die mensdom dit gebruik om hul eie sakke te vul. Ek raak vies vir mense wat skarrel om groter en beter geskenke as die vorige jaar te koop en in die proses skuld maak om dit te kan doen (veral in die huidige ekonomiese omstandighede).

Van Oktober af is dit oral en ek wonder hoeveel mense wat Kersfees so uitbuit en uitgebuit word daardeur, regtig besef waaroor dit gaan? En wanneer Kersfees dan kom, is ons al so ‘moeg’ daarvoor, dat dit eintlik net glad nie saak maak nie. Dit maak my altyd so hartseer.

Maar hierdie jaar is dit egter vir my anders. Ek bly uit die winkels uit waar ek nie die Kers-aanbiedinge en goedkoop versiering kan sien nie. En dit is die beste ding wat ek vir myself kan doen.

Ek kyk na binne en besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees – selfs na die riller van ‘n jaar wat ek gehad het. En skielik maak die jaar wat verby is regtig nie meer saak nie, want ek kyk met nuwe oë na Kersfees.

Ek begin nou reeds die wonder daarvan indrink by elke moontlike geleentheid.
Ek begin nou reeds die vrede daarvan ervaar na ‘n baie moeilike jaar.
Ek begin nou reeds die seën van Kersfees vir my geliefdes toebid.
En ek spandeer nou soveel tyd moontlik saam hulle omdat dit vir my ‘n Kersfees sonder hulle gaan wees.

Toe ek myself gisteroggend kry, haal ek my
Christmas Heart of Worship CD uit en luister dit in die kar - ek dink dit was die eerste keer wat ek daarna geluister het na ek dit reeds ‘n paar jaar gelede gekoop het. En vanoggend bly die lied Somer-Kersfees in my gedagtes (in my Google-soektog na die lirieke kom ek toe op my eie verwysing daarna af).

Hierdie bly vir my so ‘n spesiale lied, omdat dit ‘n Kersgebed is vir die land waarin ons bly:

Welkom, o stille nag van vrede,
onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis.
Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye vertel die ou verhaal.
Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Voel jy ook nou sy warm liefde as ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het – ons grootste Kersgeskenk.
Christus kom, Christus kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Skielik sien ek baie uit na volgende week se Kers-sangdiens.

Ek het lank gesoek na ‘n gepaste prent om saam hierdie skrywe te post – wel, om eerlik te wees weet ek nie presies waarna ek gesoek het nie – maar die meeste wat jy kry is net Kersbome, -versierings, -liggies en selfs advertensies om die Kers-winskope uit te bassuin. Ek kon ongelukkig niks kry wat vir my die ware vrede en gees van Kersfees weerspieël nie.
Mag jy nou reeds die vrede van Kersfees ervaar in hierdie tyd wat ons almal so jaag om alles te doen wat gedoen moet word voor die jaar heeltemal onder on uit hardloop.

Thursday 20 November 2008

Small treasures

Ek het op twee blogs afgekom wat vir my soos small treasures is en wat my elke dag ‘n geleentheid gee om op ‘n eenvoudige, maar kreatiewe manier ‘n sin of twee uit my kop te probeer ruk.

Die een is
The One-Minute Writer waar C.Beth (die skrywer van die blog) elke dag ‘n ‘Writing Prompt’ gee waaroor jy dan vir een minuut lank moet skryf, sy gee jou die opsie om dit as comments op haar blog te doen. Ek het dit ‘n keer of wat as comments gedoen, maar al skryf ek nie noodwendig elke dag daaroor nie, laat dit my oor ‘n onderwerp dink – en dit inspireer my soms tot meer as net een minute se skrywe.

Gister se ‘Writing Promt’ was: Listen. Write about what you hear, right now. En hier is my een minuut daaroor:
I hear people talking in the corridor; discussing projects. I hear telephones ringing and wonder why nobody picks it up. I hear the sound of the air conditioner – as if a humming from a distance. Now I hear my Director coming down the corridor and know he will be putting some work on my desk in a moment's time.

Wat ek geniet van hierdie one-minute writings is dat ek net skryf wat in my kop kom – ek gaan nie eers na die tyd terug om dit te redigeer nie.

En om C.Beth aan te haal: You have 1 440 minutes a day. Use one of them writing. Ek glo dat geen minuut waarin jy geskryf het, gemors is nie.

Die ander blog wat ek baie geniet is
What could it mean? Die skrywer van die blog verduidelik dit soos volg: A new word game involving Word Verification words and what they might mean. Is anyone tired of those word verifications required for posting comments? Why not play a fun game where you get to define the possible meaning of those words and use them in a sentence of your own creation?

Hierdie laat my baie dink aan ‘n bordspeletjie wat ek gereeld saam Universiteits-vriende gespeel het, naamlik
Balderdash. Ons het so baie pret daarmee gehad, dat ek dit nie kan weerstaan om elke dag hierdie speletjie te speel nie.

Gister s'n was:

Soos met C.Beth se one-minute writings, kan jy dit ook as comments skryf. Hier is ‘n voorbeeld van iemand s’n:
podivas [plural noun PO-DEE-vuz]: Sarcastic label given to women who expect special treatment and who like to complain.
Janell and Jasmine come into work 30 minutes late and then complain that the coffee is cold--AWW, what a couple of podivas!

Hier is myne:
Povidas [verb]: A type of handwork, using a needle and leaves.
The native women were giving a povidas demonstration to the tourists.

Probeer gerus beide hierdie ‘speletjies’. Hierdie daaglikse oefeninge is vir my ‘n lekker manier om my ‘kop aan die gang te kry’ vir die dag – byna dieselfde uitwerking wat ‘n soduko puzzle op my het. Geniet dit!

Tuesday 18 November 2008

Wat definieer my?

Verlede week stel ek myself skertsend aan iemand voor met die woorde: Ek is Annelie en ek is ‘n staatsdiensamptenaar. ‘n Vriendin vererg haar toe sommer vir my, want, sê sy, dis nie wat my definieer nie.

So begin ek wonder wat is dit wat ‘n mens definieer? Wat is dit wat my definieer?

Maar voor ek daarby uitkom, wil die linguis in my eers ‘n definisie gaan soek… Ek kry ‘n paar verklarings vir define, maar die een wat hier vir my van toepassing is, is
state or describe the exact nature or scope of.

Dus, vra ek myself what describes the exact nature or scope of me? (Beslis nie staatsdiensamptenaar nie! Dit is bloot iets wat ek doen om my rekeninge te betaal.)

Onwillekeurig dink ek: ‘n Mens word geken aan jou vriende geken. Dus kan ‘n mens seker ook sê jy word geken aan dit wat jou na aan die hart lê en die dinge waaraan jy jou tyd spandeer.

Ek spandeer my tyd saam met mense. Mense wat vir my kosbaar is. Mense vir wie ek lief is en wat vir my lief is. Mense wat ek my vriende en familie noem. Mense met wie ek tot laataand toe kan gesels oor alles – of oor niks. Mense met wie ek my vreugdes en hartseer kan deel. Mense saam met wie ek goeie rooiwyn kan geniet.

Ek spandeer my tyd om kreatiewe dinge te doen wat my sintuie stimuleer. Ek hou daarvan om ‘n canvass in te kleur met dik lae olieverf en ek hou van die reuk waarmee dit my huis vul. Ek hou daarvan om krale in te ryg, die vrede waarmee die kleurkombinasies my vul en die tekstuur van verskillende tipes op my vingerpunte.

Ek spandeer my tyd in die geselskap die geskrewe woord. Ek hou daarvan om woorde te lees: fiksie, geskiedenis en biografieë – dit laat my vir ‘n oomblik uit my eie wêreld ontsnap. Ek hou daarvan om woorde te redigeer en te laat sin maak. Maar om woorde te skryf, maak my gelukkig – om ‘n stukkie van myself, my lewe, my gedagtes en my opinies (en verbeeldingswêreld) te deel. (Terloops, woorde is ook wat my salaris betaal.)

Dan is daar ook Die Woord waarmee ek my tyd spandeer en probeer agterkom wat dit is wat ek moet doen en waar ek moet wees in die lewe. Dis ook hier waar ek my troos en my hoop vind.

Ek dink mens word verder gedefinieer deur dit wat jou gelukkig of kwaad of bang of hartseer maak. Ek is byvoorbeeld gelukkig as ek iets vir die mense om my kan doen. En ek raak kwaad wanneer kinders ‘n onreg aangedoen word – in watter vorm ookal.

Dalk moet ‘n mens ook na karaktereienskappe kyk as jy wil weet wat iemand definieer, maar vir nou gaan ek nie daar delf nie. Ek gaan myself bloot voorstel as: Ek is Annelie, ek hou van mense, kreatiewe dinge en woorde.

Monday 17 November 2008

Henry Poole

Saterdagaand het ek Henry Poole is here gekyk.

Oor die algemeen dink ek dis ‘n uitstekende fliek. Ek het dit gelove omdat ek van flieks hou wat my aan die dink sit. (My enigste kritiek is dat George Lopez nie heeltemal vir my werk as priester nie, maar gelukkig gaan die fliek oor baie meer as net hom.)

‘n Sin wat my opgeval het, was: Sometimes you have to be sad to remind yourself that you are alive. En dit is waaroor ek aanvanklik wou skryf. Maar aan die einde van die fliek was daar soveel ander gedagtes in my kop, dat ek maar gaan begin waar ek wou en kyk waar dit eindig.

Terug by: Sometimes you have to be sad to remind yourself that you are alive. Wat ‘n wonderlike troos is dit nie net nie. Dat dit OK is om soms hartseer te wees. Mens raak tog hartseer oor dinge wat jou na aan die hart lê. As jy hartseer is, beteken dit jy moes eers baie bly oor iets gewees het, of baie lief daarvoor.

As jy na hartseer kyk is dit bloot ‘n emosie soos liefde, gelukkig wees, kwaad, teleurstelling, bly wees. En solank as wat jy emosie in enige van sy vorme ervaar, is dit OK, want dan weet jy dat LEEF. Hartseer is sekerlik nie die lekkerste emosie wat jy kan ervaar nie, maar dis emosie. En emosie is goed. Dis lewend. Ek dink daardie moment wat jy geen emosie meer ervaar nie, is wanneer jou wese doodgaan, wanneer jou siel nie meer wil nie.

En skielik weet ek dis OK. Ek mag maar soms hartseer wees (of enige ander emosie ervaar). Met elke emosie wat ek ervaar, weet ek dat ek nie net lewend is nie, maar ek leef!

Dan is daar ook die tema van hoop. Henry Poole is kwaad vir mense wat glo hulle sien “Christus se gesig” teen sy huis se muur. Hy is kwaad vir die desperaatheid waarmee mense aan die muur kom vat in die hoop om gesond te word. Ek weet nie of hulle daarheen gegaan het omdat hul geloof so groot was dat hulle glo dit kan hul werklik genees nie, en of dit meer ‘n hoop was nie. (Alhoewel geloof en hoop hand aan hand loop, is daar vir my ‘n wêreld se verskil tussen die twee.) Op ‘n stadium skree Henry Poole vir die mense: hope can’t save you! Maar op die ou end was dit tog wat hom gered het.

Die fliek het soveel ander gedagtes ook in my kop gesit, maar daarmee wil ek nog ‘n dag of twee loop en dit oordink. Miskien moet ek oor ‘n week of so selfs weer die fliek kyk, nog ‘n bietjie daaroor dink en dan besluit of ek nog iets daaroor wil sê.

Friday 14 November 2008

Hoe bedaar storms?

Vir ‘n paar uur na my posting hieronder van gisteraand, het die onrustigheid in my eerder toegeneem as afgeneem. Die storms wat in my woed eerder erger geraak as bedaar. Eindelik gaan klim ek toe maar vroeg met ‘n boek in die bed.

Ek lees Elizabeth Gilbert se
Eat, Pray, Love met ‘n heelgepaste subtitel: One Woman's Search for Everything Across Italy, India and Indonesia. Ek verstom my oor haar onrustigheid en hoe sy dit uit haar wese ban – en dink dat ek dalk ‘n paar van haar ‘metodes’ moet probeer.

Dan slaan die donderweer skielik hier vlak langs my venster. En ek vang myself dat ek die boek neergesit het en so by myself lê en glimlag. My eerste gedagte is: My God is in beheer. En soos die knip van ‘n oog is ek rustig en die storms in my stil.

Ek weet daardie donderslag was spesiaal vir my, om my te herinner aan dit waaraan ek gisteraand herinner moes word. Dat ek nie 'n aardse skrywer, wat oor kontinente heen gesoek het, se ‘metodes’ hoef te volg nie. Die engiste metode is die van die Groot Skrywer. Die Skrywer van mensverhaal. Die Skrywer van die wêreld se storie.

Minder as twee weke gelede het ek dit hier
uitbasuin wat die donderweer vir my bevestig. En gisteraand kon ek met ‘n rusitigheid in my hart gaan slaap, want ek is aan daardie bevestiging herinner.

Thursday 13 November 2008

Verskonings, verskonings...

Ek voel soos die slegste vriendin in die geskiedenis van die mensdom.
Ek wil niemand sien nie en ek wil niks doen nie.
Behalwe miskien om myself in my huis toe te sluit en so bietjie jammer te kry.

En ek gee einde van die jaar sindroom die skuld.
Of eerder: einde van die ergste jaar ooit sindroom.

Ek weet, dis seker nie ‘n verskoning nie.

Maar na ‘n jaar soos die een wat ek gehad het, mag ek myself seker bietjie jammer kry, of hoe?
Die jaar waarin ek my werk verloor het.
Die jaar waarin ek my beste vriend verloor het.
Die jaar waarin drie van my vriendinne elk 'n miskraam gehad het.
Die jaar waarin soveel verhoudings en huwelike verbrokkel het.
En dan nog soveel ander dinge wat nou klein lyk.

As ek terugkyk het daar goeie dinge ook gebeur het en het daar goeie dinge uit die slegtes gekom.
En ek is dankbaar daarvoor.

Maar vir nou, kry ek myself jammer en gee ek einde van die jaar sindroom die skuld.
Beslis nie die beste verskoning ooit nie, maar nou dat ek dit het, gebruik ek dit.

Monday 3 November 2008

Die klank van die weer

Elkeen wat al hier gelees het, sal weet watse struwelinge ek al gehad met die konsep van kreatiwiteit. Waar dit vandaan moet kom, hoe om dit te ontgin en hoe om dit uit te leef. So gereeld wil ek net iets skilder of skryf – die wil om dit te doen is daar, maar ‘n kreatiewe onderwerp bestaan nie eers vaagweg nie... dus dwing ek myself nou om die oomblik wat ‘n gedagte by my opkom, dit onmiddellik neer te skryf. Nie noodwendig die eindproduk daar en dan te produseer nie, maar ten minste die gedagte neer te skryf en ‘n paar notas daaroor te maak, because no idea should ever escape.

Ek staan toe maar teen 2:38 Sondagoggend op om my gedagtes neer te skryf, want sien, dis nou al die tweede nag hierdie week wat ek lê en dink dat mense altyd sê hulle slaap so lekker as dit reën. Maar nie ek nie. Ek lê met ‘n vreemdsoortige opgewondenheid en luister na die wonder daarvan.

Dis vir my ongelooflik ervaring wanneer ‘n mens wakker word met die gewaarwording van donderweer wat ver weg klink; jy kan hoor hoe dit nader kom en dan begin die stortreën.

Ek kan my verluister aan die klank van donderweer. Dit is so kragtig. Maar met balans. Dit vul my met ‘n heilige vrees sonder om my menslik bang te maak. Dit is ‘n bevestiging van wat ek glo. Daardie fyn lyn tussen vrees vir die Almagtige en wat Hy kan doen en aan die ander kant ‘n troos wat jou op jou gemak laat voel – so asof Hy sê: Hoor jy dit? Ek is in beheer.

Ek hoor hoe die donderweer sagter raak soos dit koers kies op sy reis en dis die sagte reën wat oorbly. Soos ‘n troostende hoop. Weer sien ek dit as ‘n bevestiging van wat ek glo. Die donderweer as die kragtige werking van God, die sagte reën as die troostende werking van die Gees wat jou herinner aan sy immer-teenwoordigheid.

Wanneer die reën later ophou, raak ek bewus van ‘n intense stilte. ‘n Intense teenwoordigheid. En ek weet dat wanneer die son opkom, die aarde nuutgemaak en skoongewas gaan pryk. En weer sien ek dit as ‘n bevestiging van wat ek glo.

Ek kyk later op my horlosie – dit is 3:16. Ek dink onwillekeurig aan Johannes 3:16 en die rede waarom God sy Seun gestuur het – Sy liefde vir ons. En dink dit is ook die rede waarom Hy die donderweer en reën stuur; om ons te herinner aan daardie liefde vir ons en hoe dit ons nuutmaak en skoonwas.

Weer wonder ek hoe mense kan sê hulle slaap so lekker as dit reën, terwyl ek opgewonde lê en luister na die klank van die elemente. Maar ek weet dat ek nou baie lekker gaan slaap, want alles wat ek glo is pas vir my bevestig.

nuwe prente

Ek het onlangs weer begin paint ... hier is 'n paar van my nuwe "prente".