Thursday 23 April 2009

Ek groet weer

Die einde van ‘n seisoen
Vandag is my laaste dag by die Departement van Buitelandse Sake en dit is met gemengde gevoelens wat ek hier skryf. Op 'n manier voel dit nog nie of ek weggaan nie, want more gaan ek eers op vakansie voor ek by my nuwe werk begin. Op hierdie stadium fokus ek net op 'n welverdiende ruskans saam met die liefde van my lewe; 'n vakansie wat al beplan is lank voor ek uit my huidige pos bedank het.

Aan die een kant voel ek sleg omdat ek na so 'n kort tydjie hier reeds weer op pad is terwyl die mense regtig goed was vir my. Aan die ander kant is ek baie positief. My tyd hier was goed en geseënd. Ek glo dit was net 'n 'interim arrangement' wat oor my pad gekom het toe ek werkloos was. Ek het baie hier geleer omdat die tipe werksomgewing en mense anders was as dit waaraan ek gewoond was. Ek is glad nie spyt oor my tyd hier nie, eintlik baie dankbaar.

Soms kom daar dinge oor jou pad wat jy nie noodwendig vir baie lank nodig gaan hê nie – dit is daar terwyl jy dit nodig het, maar sodra die doel gedien is, gaan dit weg. Vir dieselfde rede kom daar soms mense in jou lewe wat net 'n kort tydjie daar is en ander wat 'n leeftyd daar moet wees. Ek glo elke ding gebeur met 'n doel.

As ek terugkyk na die vorige maatskappy waarvoor ek gewerk het, kan ek baie maklik opstandig raak en begin wonder waarom ek juis soontoe moes gaan, net om tien maande later te hoor ek kan nie meer daar werk nie. Maar daar was ook baie goeie redes hoekom ek daar moes wees: ek het nuwe vaardighede geleer en belangriker nog, die mense. Ek het iets van menseverhoudings geleer en 'n baie goeie vriendin gemaak vir wie ek in 'n moeilike tyd kon bystaan en wat later weer vir my ongelooflik baie beteken het.

Daar is 'n seisoen vir elke ding en elke seisoen se tydperk is presies lank genoeg. En dit is goed so, 'n mens wil mos nie tyd mors met dinge wat eintlik al verby is nie.

Ek wil weer my dank uitspreek vir die afgelope klompie maande, die geleenthede wat my gebied is en die dinge wat ek kon leer.

Verkiesing
Ek wil ook iets oor die verkiesing sê. Ek het gister vir twee ure en twintig minute my beurt afgewag om my kruisie te trek. Ek is nie spyt dat ek so lank in die koue moes wag nie.

Ek is dankbaar dat so baie mense die moeite gedoen het om te gaan stem – dit maak nie saak vir wie jy gestem het nie, maar dat jy dit wel gedoen het, is fantasties. Ek is dankbaar dat mense opstaan vir demokrasie. Ek is dankbaar vir die goeie gees wat onder mense geheers het en dat dinge so goed verloop het.
Opgewondenheid
Ek sien met groot opgewondenheid daarna uit om more op vakansie te gaan en dit is met dieselfde opgewondenheid wat ek vandag die verkiesingsuitslae saam met die res van Suid-Afrika en die wêreld dophou.
Ek is ook baie opgewonde oor my nuwe werk; die nuwe geleenthede en nuwe uitdagings wat dit gaan bied.

Friday 17 April 2009

Die geheim is uit!

Verlede week het ek hier oor die National Skirt Extension Project geskryf.

Die veldtog, wat as advertensie in ‘n Sondag-koerant begin het, gaan daaroor dat die prentjies van vroue se rokke op die deure van openbare toilette langer moet wees.

Die brein agter die veldtog is gister bekend gemaak: Mrs Ball’s!

Die vervaardigers van Mrs Ball’s sê dat ‘n mens nie aan iets verander wat werk nie, en daarom sal hulle nooit aan hul chutney verander nie.

Die TV-advertensie sê:
Mrs. Ball's wanted to show just how silly it is to change something for no good reason, so we invented the National Skirt Extension Project, demanding that all ladies' toilet signs be replaced with a version bearing a longer skirt. To those who stood up and said "This is ridiculous", clearly we agree. If something doesn't need changing, don't change it. That's why at Mrs. Ball's, nobody changes our chutney ... Thank you for being such good sports ... No cyclists were harmed in the making of this video.
(Kyk hier na die
YouTube video van die advertensie.)

Well done, Mrs Ball’s! Dit is ‘n uitstekende veldtog wat die ‘hype’ en ‘buzz’ veroorsaak het wat kenmerkend is van ‘n goeie advertensie-veldtog!

Monday 13 April 2009

Paasnaweek

Goeie Vrydag
Wat 'n wonderlike Vrydag! Vroegoggend is ons kerk toe waar die kruisigingsverhaal my weer kom herinner aan die wonder van die gebeurtenis. Die kern van die boodskap kom uit die Romeinse soldate se spotwoorde – ander kon hy red, maar homself kan hy nie red nie. Die wonder lê daarin dat Hy Homself kon red as Hy wou – Hy kon maar net die woord spreek en God se engele sou Hom in ‘n oogwink van die kruis kom afhaal het. Maar Hy het gekies om Homself nie te red nie en daardeur ander te red. Ons te red. My te red.

Na kerk vat ek en my geliefde die pad Potchefstroom toe – dis familienaweek. Dit is altyd ‘n groot vreugde en seën om tyd saam met familie te spandeer. Vrydag het ek my ouers gesien, albei my ouma's, een van my susters, 'n tannie, 'n nefie en sy verloofde. Die tyd wat ons saam met hulle spandeer, die grappies, die samesyn, die liefde wat tussen ons heers, is vir my baie kosbaar.

Saterdagoggend eet ons ontbyt in Die Akker. Heerlik! Ek was jare laas daar. Ek het byna vergeet hoe die rustigheid van Tomstraat se akkerbome in hul herfsuitrusting bydra tot die besondere gevoel in die restaurant.

My medemens
Daarna is ons weer in die pad. Die keer Vrystaat toe. Mieliehoofstad toe. Die familienaweek gaan voort in ‘n stilte wat ek my skaars kan voorstel as ek dink hoe my lewe in die stad verloop. Alhoewel Bothaville in rep en roer is om alles vir die Nampo-fees in gereedheid te bring, is dit steeds baie rustiger as my gejaagde Gautengse lewe.

Hier is mense op mekaar ingestel.Op Opstandingsondag word dit baie duidelik in die kerk. Die predikant sien ons nuwe en onbekende gesigte tussen sy gemeentelede en kom groet. Na die tyd kom nog mense groet, want sê een, "ek het gehoor julle kom kuier". In die winkels groet almal mekaar, selfs in die verbyry word 'n hand gelig om te groet.

Ek wonder hoe dit gebeur dat ons so min op mekaar ingestel is in hierdie lewe wat ons lei. Ek bly byna vyf jaar in my woonstel en ek ken presies drie ander inwoners in my kompleks se name en nie veel meer gesigte nie. Tot my skaamte moet ek sê dat ek so in my eie lewe en my eie dinge vasgevang is, dat ek nie regtig in hulle belangstel nie. Ek besef dit is baie makliker in ‘n klein dorpie met ‘n hegte gemeenskap om te weet wie jou medemens is en hoe om hulle by te staan, maar ek kan tog sekerlik poog om die wat rondom my bly se te gesigte te leer ken en te groet as hulle tussen ‘n see ander sien.

Rus
Vandag is Paasmaandag en ek rus. Ek kyk terug oor die naweek wat verby is, kyk hoe Suid-Afrika teen Australië krieket speel, ek lees en ek spandeer tyd saam my geliefde. En ek rus.

Thursday 9 April 2009

Advertising joke?



Admiring advertising for its creativity is a bit like admiring Nazism for its cool uniforms. It's all too easy – and strangely comforting – to believe that it's truly as attractive as it initially seems. But then reality kicks in, and guiltily, you realise you've just been tempted by the sugar-coated gateway to Hell.

So skryf Chris McEvoy op
Channel24 na aanleiding van die National Skirt Extension Project wat hierdie week die media se aandag getrek het. Die advertensieveldtog het verlede naweek in Sunday Times begin en Beeld het ook daaroor berig. Dit gaan daaroor dat iemand of 'n groep (niemand is seker wie nie) hulle daarvoor beywer dat die prente van dames wat op openbare toiletdeure verskyn verander moet word sodat hul rokke langer is.

Ek vind dit baie snaaks en kan nie glo dat daar enige waarheid in steek nie; die feit dat dit ‘n grap is, is waarskynlik ook die rede waarom niemand kan agterkom wie agter dit sit nie. Maar wat dit vir my belaglik maak, is dat soveel geld spandeer word aan die hele advertensieveldtog, die
webblad, telefoonlyne, ens.

Ek het geen idee wat die motivering agter die hele veldtog is nie, dalk dink die wat daarvoor verantwoordelik is dat hulle genoeg geld met die verkope van plakkers en ander produkte (soos op die webblad geadverteer word) gaan maak om vir die veldtog te betaal én ‘n wins te maak. Ek twyfel sterk, maar ten minste het dit humor in my week gebring.

Wednesday 8 April 2009

Paasfees

Ek het wyd gelees om te probeer agterkom waar die woord ‘Paasfees’ of dan die Engelse ‘Easter’ vandaan kom. Daar bestaan eenheid in verskeie bronne dat ‘Easter’ afgelei is van Ostera of Eostre, die Anglo-Saxon godin van lente vir wie daar jaarliks ‘n lentefees gehou is volgens heidense tradisies. Dit is ook hier waar sekere van ons Paastradisies hul oorsprong het.

‘n Haas is ‘n bekende seksuele simbool van vrugbaarheid; die jaarlikse lentefeeste het vrugbaarheidsrituele ingesluit en word geassosieer met Ostera. Volgens die stories van die lentefeeste, het ‘n reuse eier uit die hemel geval en Ostera daaruit ‘gebroei’; en dit is hoe eiers die simbool van die godin Ostera geword het. Eiers was verder ook ‘n simbool van vrugbaarheid en dit is waar paaseiers vandaan kom – as simbool van die vrugbaarheid wat lente bring.

Dit is vir my vreemd dat baie van ons Paastradisies en -simbole, net soos ons Kerstradisies en -simbole, hul oorsprong in heidense gelowe het en daar is verskeie menings oor hoe dit in die Christelike geloof beland het. Dit pla my egter nie te veel nie, aangesien paaseiers en kersbome nooit deel was van ons viering van hierdie feeste nie. Ek is gek oor paasbolletjies en eet dit baie graag hierdie tyd van die jaar, maar ek verbind dit nie noodwendig met Paasfees nie. My ouers het altyd seker gemaak ons verstaan die belangrikheid en betekenis van die fees wat gevier word.

Die Nuwe Testament verbind die Laaste Avondsmaal en Jesus se kruisiging met die Pasga en die Israeliete se trek uit Egipte. Jesus het as deel van sy eie (en Sy dissipels se) voorbereiding op Sy dood die Nagmaal ingestel en daardeur die Pasga ‘n nuwe betekenis gegee.

Vir my is die twee belangrikste dae op die Christelike kalender Goeie Vrydag en Opstandingsondag. Vrydag word ons herinner aan Jesus se lyding en dood en die verlossing van ons sonde, wat die kern vorm van dit waarin ek glo. Sondag word ons herinner aan Sy heerlikheid - sy opstanding uit die dood. Dit herinner my dat ek nie net verlos is van sonde nie, maar ook dat Hy die dood oorwin het – die dood wat die straf is vir sonde.

Mag elkeen wat hier lees hierdie Paasfees waarlik geseën word deur die wonderlike betekenis van dit wat gebeur het.
Mag ons in dankbaarheid kniel voor die groot God wat ons vrygekoop het met Sy eie Seun as prys.
En mag ons voor Hom dans in lofprysing oor Sy heerlikheid en opstanding.

Geniet die Paastyd saam met jou geliefdes, vergeet van paaseiers en -hase en fokus op Jesus se lyding en oorwinning.

Bronne:
www.christiananswers.net
www.wikipedia.org

Monday 6 April 2009

The Reader

My luilekker naweek is halfpad deur geruk deur ‘n komplekse fliek wat ongewoon gestruktureer is en oor drie tydperke strek. The Reader is ‘n interessante reis – ‘n liefdesverhaal sonder liefde; ‘n oorlogsverhaal sonder oorlog; en ‘n blik op ons onvermoë om te begryp hoe die lewe in Nazi-Duitsland moes wees.

Die liefdesverhaal speel in die laat 1950’s in Duitsland af met Hanna en Michael se stomende verhouding as vertrekpunt. Michael is 15 en Hanna in haar dertigs. Tydens hierdie verhouding lees Michael by elke besoek aan Hanna vir haar voor. Later word die betekenis van hierdie voorlesings baie duidelik.

Hanna verdwyn uit Michael se lewe en jare later woon hy, as regsstudent, ‘n hofsaak by van ‘n groep vroue wat vir oorlogsmisdade aangekla is. Hier sien hy Hanna vir die eerste keer weer - as een van die aangeklaagdes en dit is hier waar die oorlogsverhaal afspeel. Tydens hierdie verhoor word Micheal gedwing om toe te kyk hoe sy tot lewenslange tronkstraf gevonnis word vir die oorlogsmisdade wat sy as wag by ‘n Nazi-kamp gepleeg het.

Anders as flieks wat ons gewoonlik sien oor die tydperk, die oorlog en die kampe, fokus The Reader nie op die lewe in die kampe self nie, maar probeer dit die besluite wat Hanna moes maak uitbeeld. Op ‘n stadium tydens haar verhoor draai sy paniekerig na die regter en vra “What would you have done?”. Haar vraag bly onbeantwoord.

Ek was geraak deur die fliek, die manier waarop dit die emosionele aanraak, die krag van literatuur bewys en 'n nasie se betrokkenheid in die bose verlede uitbeeld.

Ek het die fliek baie geniet, en vermoed ek gaan nog ‘n rukkie daaroor dink. Die toneelspel was uitstekend en ek dink Kate Winslet verdien beslis die Oscar-toekenning wat sy vir die rol van Hanna ontvang het.

Wednesday 1 April 2009

1 April

Vanoggend hoor ek 'n berig op radio dat Charlize Theron terugkeer Suid-Afrika toe om in ‘n plaaslike sepie te speel; en ek dink by myself dit kan nie wees nie. Hoekom sal ‘n Oscar-bekroonde aktrise die 'glitz and glamour' van Hollywood opgee vir 'n plaaslike sepie?

By die kantoor aangekom, sê ek vir ‘n kollega: "ek hoor vanoggend oor die radio…" maar voor ek my sin kon klaarmaak, sê hy: "onthou dit is vandag 1 April". Net daar stop ek toe my storie en ek besef dat die Charlize-storie beslis een van daai moet wees.

Later kyk ek vlugtig na die nuus op Beeld se website en kom op
dié storie af oor braai-regulasies. Hierdie storie het my egter nie gevang nie, want met 'n joernalis soos Una April; 'n direktoraat van brandstigting en lugbesoedeling met 'n woordvoerder genaamd Ignatius Brand; en Tjoppie Lategan as Kaapse Braaigilde voorsitter, was daar geen twyfel nie. Nou praat ek nie eers oor die feite wat effens bizarre is nie. Ons bly immers in Suid-Afrika en wie hier sal by die regulasies hou:
Suid-Afrikaners wie se huise ongelyke nommers het, sal net op Saterdae tussen 18:00 en 21:00 mag braai. Vir huise met gelyke nommers val dié toegewing op Sondae tussen 12:00 en 15:00.

Ek reken as jy 'n April Fool’s Day grap wil maak, moet dit darem tot 'n groot mate vir die leser realisties klink. Die idee is tog dat iemand daarvoor val, nie waar nie?

Oor die oorsprong van die dag lees ek op
Wikipedia dat twee moontlikhede te doen het met kalenders wat verander het en dat mense wat verkeerdelik gedink het dat dit 1 April was, April Fools genoem is. Op 13 April 1789 is daar blykbaar in 'n Engelse koerant 'n berig gepubliseer wat wil hê dit die dag sy oorsprong by Noag het. Noag het 'n voël te gou uitgestuur voordat die water gesak het en het dit na bewering op die eerste dag van die Hebreeuse maand wat met April ooreenkom, gedoen.

Daar is so baie stories van grappe en poetse wat mense aan hul families, vriende en kollegas op hierdie dag doen – maak dus seker dat jy ten minste een keer per jaar die feite goed beskou en nie liggelowig vir iemand se April Fool’s grap val nie.