Wednesday 27 May 2009

Persvryheid?

Net gister skryf die SABC op hul webblad dat Special Assignment ‘n program oor politieke satires gisteraand op SABC3 sou uitsaai.

Ek wonder hoe slim dit van die SABC was om die program te onttrek? Ek dink deur dit reeds ‘n tweede keer te doen, is baie meer aandag daarop gefokus as wat hulle dit bloot net sou uitsaai. (En wie kyk in elk geval Special Assignment as daar nie ‘n bohaai oor gemaak word nie; as dit nie daarvoor was nie, sou ek nie (verniet) gisteraand moeite gedoen het om seker te maak ek sien dit nie.)

n Week voor die algemene verkiesing op 22 April sou die spesifieke program ook uitgesaai word, maar die SABC is deur hul regsadviseurs aanbeveel om dit nie te doen nie. Veranderinge is toe aangebring wat dit geskik sou maak om uitgesaai te word. Maar skaars ‘n uur voor die geskeduleerde tyd, is dit gisteraand weer onttrek.

Die eerste keer wat die program uitgesaai sou word, was dit blykbaar lasterlik. Maar nou wonder ek, is dit nie maar hoe satires soms is nie?
Politici is nie mini gode nie en hul name nie heilig nie – alhoewel sommiges dalk so dink.

Dalk is dit tyd dat die saak van Zuma vs Zaphiro in die hof voorkom, sodat ons reëls kan hê oor wat wettig of onwettig is. En wanneer Pieter Dirk Uys, Zaphiro of selfs Nando’s weer met politici wil spot, sal hulle weet waar om die streep te trek.


Ek dink die SABC, Zuma en selfs die regering se beelde het skade gelei by die onttrekking van die program. Om nie eers te praat van die illusie van persvryheid in Suid-Afrika nie.

Monday 25 May 2009

Geskenke

My verjaardag het sommer van Donderdag tot Sondag geduur – en dit was van begin tot einde baie spesiaal. Ek is vreeslik bederf deur my Liefie en al die ander kosbare mense in my lewe.

Vir my is geskenke eintlik ‘n bysaak. Maar hierdie jaar se geskenke is vir my besonders omdat dit wys hoe goed my vriende my ken. Tussen die geskenke is ‘n lieflike rooi baadjie, kombuisgoed, boeke, skryfgoed, kunsgoed... alles goed wat iets van my, my belangstellings en die dinge wat my inspireer sê.

Gisteroggend sit ek (half broos na Saterdagaand...) in my pajamas op die bank en kyk weer na al my geskenke. Ek wil nie spesifieke geskenke uitsonder nie, maar een van die wat na aan my hart lê (reg langs die rooi baadjie), is die 2008-uitgawe van André P Brink se Groot Verseboek waarvan die drie bundels in ‘n oulike grysgroen blik verpak is.

Ek haal Deel 1 uit en maak dit lukraak so in die middel van die bundel oop. Tot my groot verbasing maak ek dit oop by een van my gunsteling Afrikaanse gedigte:

Et Praeterea Nihil – ID du Plessis

Met skeem’ring toe die vinke by die vlei
Die lug deurweef het met hul helder geel,
Het ek net vir ‘n oomblik my verbeel
Jy loop weer deur die riete saam met my;
Want alles was soos toe ons, sy aan sy,
Gehoor het hoe die windjie deur hul speel.
Ek wou die uur se vreugde met jou deel,
Ek wou by jou wat voorgegaan het bly.

Maar toe ek opkyk het die donkerblou
Van Nag se vleuels al om die vlei gevou.
Asof hy heel sy lewe wou verdroom,
Was daar een reier wat nog roerloos staan;
En in die ragwerk van ‘n wilkerboom
Die koue sekel van die wintermaan.

Friday 22 May 2009

Dankie

Dankie aan elkeen wat my verjaardag spesiaal gemaak het.

Dankie vir elke boodskap en oproep en al die mooi seënwense.
Elkeen van julle is vir my baie kosbaar en ek waardeer jul liefde en vriendskap baie.

Monday 18 May 2009

Die groot DRIE NUL

Die eerste 30 jaar van my lewe loop nou vinnig ten einde. Maar dit pla my glad nie! Ek weet daar is baie mense vir wie sekere verjaardae nogal traumaties is. Vyf-en-twintig was so een vir my. Maar beslis nie 30 nie.

Ek dink dit gaan oor waar jy in jou lewe is en hoe tevrede jy daarmee is. Ek dink baie mense het ‘n ‘tick list’ en teen ‘n sekere ouderdom wil hulle ‘n merkie langs ‘n spesifieke motor, woonbuurt, huwelikstatus of kwalifikasie kan maak. Dit is wanneer jy dan daardie bepaalde ouderdom bereik en jy nie alles afgemerk het wat jy graag wou nie, dat ouderdom vir jou ‘n ‘issue’ raak.

Ek kan met groot vrede en vreugde in my hart sê ek is tevrede met wat ek het en waar ek in die lewe is: ek is gelukkiger as wat ek gedink het moontlik is, in die verhouding waarin ek is; ek het familie en vriende wat vir my kosbaar is; ek is tevrede met die pophuis waarin ek bly en die kar waarmee ek ry; en ek is gelukkig in my werk.

Kortom: Ek is tevrede en ek weet ek is baie geseënd – en dit is meer genoeg vir my!

Hierdie ‘teorie’ van my is beslis nie net van toepassing op 30 of enige van die ander ‘groot’ verjaardae nie, maar elke verjaardag. En selfs elke ander dag. Ek bid dat ek elke dag met tevredenheid sal leef en aanhou om my seëninge te tel, of dit nou op my 30ste verjaardag is, op 37 of 52 of selfs sommer ‘n gewone wintersdag 10 jaar van nou af.

Monday 11 May 2009

Moedersdag

Moedersdag

Moeders

My moeder

Mammie

Dankie vir al Ma se liefde en bystand.
Dankie dat Ma altyd daar is om in my vreugde en my hartseer te deel; altyd gereed met raad.
Vir ‘n beter moeder kon ek nie vra nie.

Ek dank die Vader dat Hy Ma vir my gegee het.

Saturday 9 May 2009

Drome

Ek het gisteraand se Jan Blohm-vertoning baie geniet – dit was 'n heerlike aand met goeie musiek en goeie geselskap. Die vertoning was die 'pre-launch' van sy nuwe album, 7 Jaar.

Hy het tussen sy liedjies deur verskeie bedankings gedoen, hy sê dat daar geen bedankings in die CD-omslag is nie, omdat hy verkies om dit self te doen. Dis die laaste bedanking wat my die meeste opgeval het. Dit was aan twee vriende wat 'na hom gekyk het toe sy drome hom verlaat het'.

Dit is wonderlik om vriende te hê wat jou bystaan sulke tye, maar dit is baie hartseer as jou drome jou verlaat.

Ek dink drome is tweeledig van aard. Aan die een kant is dit die doelwitte wat jy nastreef en aan die ander kant is dit self ook die motivering daarvoor. Drome is dit wat jou elke dag laat opstaan en aangaan.

Vir sommige mense kan dit ongelukkig 'n obsessie word – iets wat jou harder en verder dryf om 'n sekere status te bereik of materiële dinge te besit. Ander mense se drome het meer te doen met sielsdinge en dit wat regtig saak maak in die lewe – die strewe na liefde, geluk, vrede...

Ek wens vir niemand dat jou drome jou ooit sal verlaat nie, en indien dit wel sou gebeur, wens ek dat jy desperaat sal poog om dit weer te vind, want geen mens kan sonder drome bestaan nie.

(Kliek hier vir foto's van die vertoning.)

Friday 8 May 2009

Van Vrydag tot Vrydag

Die maand het afgeskop met ‘n week vol hoogtepunte waarvan ‘n besoek aan Calitzdorp se Portfees die eerste was. En wat ‘n belewenis was dit nie! Calitzdorp se drie groot portvervaardigers (Boplaas, De Krans en Calitzdorp Co-op) en ‘n aantal kleiner portmakers was daar. Ons het die dag vreeslik baie geniet, lekker geproe en selfs na ‘n praatjie van Boets Nel (wynmaker op De Krans) geluister oor die verskillende tipes port. Een van die groot lekkertes was om van Boplaas se eerste Pink Port te proe – en dit kom in ‘n baie oulike botteltjie met ‘n pienk volstruisveer. (Ek wou baie graag ‘n foto daarvan hier plaas, maar kon nerens een vind nie.)

Skaars drie dae later het ek met my nuwe werk begin. Sommige dinge vat tyd – soos telefoonlyne en rekenaars – maar gelukkig was ek ‘n staatdiensamptenaar en is geduld een ding wat ek geleer het. Afgesien daarvan, is ek reeds hard aan die werk met wat ek op harde kopie of ‘n geleende rekenaar kan doen. Ek het reeds die ouderdomsverskil aangeraak wat my kollegas betref, maar dit pla nie in die minste nie. Almal is baie vriendelik en hulpvaardig – en baie ervare. Ek glo dat ek baie gelukkig gaan wees en nog lank in my lieflike son-kantoor gaan werk.

Die week word vanaand afgesluit met ‘n Jan Blohm-vertoning. Dit sal my eerste kennismaking wees met hierdie sanger se musiek. Ek gaan saam met familie wat almal groot aanhangers is, dus glo ek dat ek dit ook sal geniet.

Hierdie was maar die eerste week van Mei 2009, en as ek deur my dagboek blaai weet ek daar is nog verskeie hoogtepunte om na uit te sien voor die einde van die maand.

Monday 4 May 2009

Vakansie voor 'n nuwe begin

Verlede week was ongelooflik! Ek was vir meer as ‘n week lank op vakansie aan die Kaapse suidkus wat een van my gunsteling dele van ons ongelooflike mooi land is. Dit was ‘n week vol rus (lees: BAIE slaap), lees, langs die see stap, rondry na pragtige strande en ure lank kuier saam met die liefde van my lewe. Daar was baie meer hoogtepunte as wat ek hier kan beskryf, maar my ‘favourite favourites’ van die afgelope week was Meiringspoort, ‘n skool dolfyne en Calitzdorp se portfees.

Na hierdie heerlike uitrus, het ek vandag met ‘n nuwe hoofstuk in my lewe begin.

Ek het by Unisa begin werk en daar is ‘n hele paar dinge om aan gewoond te raak; dit is alles (sover) net goeie dinge. Vir die eerste keer ooit het ek my eie kantoor; ek hou van die manier waarop hulle fleksietyd bestuur; die mense is baie gaaf en hulpvaardig (alhoewel die jongste seker ten minste 10-15 jaar ouer as ek is); en ek is seker daar gaan nog vele ander ook wees.

Ek is opgewonde oor hierdie nuwe begin! Ek het ‘n baie goeie gevoel en dink ek gaan lank daar werk. Ek sien dit as ‘n groot uitdaging wat wonderlike geleenthede gaan bring. En ek is baie dankbaar vir die groot seën wat dit vir my meebring.