Saturday 27 December 2008

Vakansie

Vir vyf wonderlike dae was ek in die bos. Daar waar dit rustig en vreedsaam is en vrede en vreugde volop. En daar waar ek saam mense is wat vir my belangrik is.

Deur die dag brand die son warm en bly ‘n mense maar in die koelte, lê rond en lees. Sononder word soos ‘n vuur aan die hemelruim geverf en die kleure daarvan verander letterlik elke minuut. Ek wens dit was iets wat ek op kamera of selfs canvass kon vasvang. En dan steek Venus sy kop uit. En steeds is die belangrike mense in my lewe daar om dit mee te deel.

Dit was donkermaan in die tyd wat ons in die bos was. Wanneer jy eindelik in die bed klim maak dit nie meer saak of jou oë oop of toe is nie – jy sien dieselfde. En om die sterre aan iemand te beskryf is volgens my onmoontlik. So ‘n gesig het ek lanklaas in my lewe gesien en ek dink onwillekeurig aan die lirieke van Tree 63 se Million Lights waar daar aan God gesê word:

Can we hang out tonight underneath your ceiling? I could stare up at a million lights and listen to You breathing. If I fall fast asleep it’s just because I feel so safe in You. It won’t take much to wake me up.

24 Desember 2008
Op Oukersoggend lê ek reeds vroeg wakker met die silhoeëtte steeds vars in my geheue. Ek praat van die vorige aand se doringboom-silhoeëtte teen die agtergrond van ‘n weerlig-verligte bosveldnag. Ek onthou hoe die reuk van stof wat die reën voorafgegaan het in my neus gespeel het en hoe ek amper heelnag na die donderweer en reën gelê en luister het.

Ek het gelê en luister na meer voëlgeluide as wat ek kon identifiseer of selfs onderskei en het saam die voëls gejuig en sing oor die skoongewasde aarde. Op die vooraand van Christus se fees buig ek saam die skepping laag voor Sy almag en getuig ek in nederigheid oor die wonder van Sy koms. Dit laat my soos die aarde voel – skoongewas, ‘n nuwe mens.

Later die oggend gaan stap ek ‘n ent. Behalwe vir die voëls heers daar ‘n doodse stilte. Dis asof almal bietjie inlê na die nag se reën. Maar dit is hoe ek dit verkies – net ek en die natuurgeluide en die enigste teken van beskawing die pad waarin ek stap.

Ek kom af op ‘n trop tarentale – seker byna twintig – wat tussen die nat gras na ontbyt soek. Een van hulle laat vir my ‘n mooi, sagte gespikkelde veer in die pad agter. Een wat my later sal herinner aan hierdie kosbare oggend.

Kersfees!
Kersfees is altyd spesiaal. Hierdie een ook – want ek was saam met mense wat vir my belangrik is. Hierdie een is vir my bietjie anders as die waaraan ons in Afrika gewoond is. Dis ‘n koue een. Maar ek sit reeds teen 6:30 buite. Die wolke is dig saamgepak en die wind laat my dieper in my trui inkruip. Maar ek kla nie, ek smile.

Alhoewel ‘n datum eintlik niks hiermee te doen het nie, is dit die datum waarop ons Christus se geboorte herdenk – en met blydskap vier saam met die mense wat vir ons belangrik is en vir wie hierdie Fees ook belangrik is. Al vier ons dit ‘amptelik’ net een dag per jaar, is ek elke dag verstom oor die liefde waarmee God sy Seun en seën vir ons gegee het.

En elke dag wil ek saam met engele sing:
Glory to God in the highest and on earth peace to men on whom his favour rests.

No comments:

Post a Comment