Monday 23 April 2007

Dood en lewe

Dit voel amper vir my asof dit die enigste ding is waaroor ek die laaste tyd skryf ... mense wat weggaan - om watter rede ookal.

Ek het vanoggend die nuus gekry van 'n ou vriend wat die naweek verongeluk het; ek het nog nie al die besonderhede van wat gebeur het nie, maar dit was vermoedelik op die pad tussen Mosselbaai en Uitenhage.

Hiermee my innige simpatie aan die Dippenaars met die verlies van Nico en die groot leemte wat ek weet hy in jul lewens sal laat.

Goeie nuus is dat Dina en Roelf Vrydagmiddag 'n babaseun ryker geword het. Baie geluk met Roelf Jnr! Mag hy julle eindelose vreugde en seën bring.

Friday 20 April 2007

Die wat aanbeweeg het

Ek besef skielik hierdie week hoeveel mense die afgelope twaalf maande uit my lewe is.

Daar is die wat saam my gewerk het en my vriende geword het, wat groener weivelde gaan soek (en gekry) het. Aan die begin hou 'n mens nog kontak, maar dit raak minder en minder. Dan is daar die wat opgepak het om na 'n ander stad of selfs 'n ander land te verhuis; per geleentheid kom hulle terug vir 'n kuiertjie en dis amper soos in die ou dae, maar net amper. Dis met vreugde wat ek kan sê dat niemand die afgelope twaalf maande uit my lewe is as gevolg van 'n onvergeetlike of onvergeeflike russie nie.

Ek besef dat die lewe aangaan en al ek dink soms met heimwee en nostalgie aan die mense wat aanbeweeg het (die lewe het immers vir my ook aangegaan), lê my hart nie aan skerwe nie – ek weet hulle is OK en ek kan enige dag weer kontak maak.

My hart breek wel oor die wat ek nie weer sal sien nie, omdat hul lewens op aarde verby is. Maar daarmee leer mens om vrede te maak al is dit nie altyd maklik nie.

'n Paar dae kort vir 'n jaar gelede het ek langs die graf gestaan van 'n vrou wat meer vir my beteken het as wat sy ooit sou weet. (En ek is spyt ek dit nie vir haar gesê terwyl sy gelewe het nie.) Sy het my in haar huis laat kom en my met liefde behandel. Haar huis het vir my 'n hawe geword en haar familie myne, toe my eie ver was.
Vandag is dit presies 'n maand vandat ek
oupa moes groet (oor hom het ek reeds gesê wat ek wou sê).

Ek mis die mense wat die afgelope jaar uit my lewe is, maar ten minste het ek kans gehad om te groet, en behalwe vir die laasgenoemde twee, het ons uit eie keuse gegroet. En ek besef hoe geseënd ek is dat dit wel die geval is.

Die afgelope paar weke het die nuus weer
berig oor ses meisies wat agttien jaar gelede verdwyn het en wie se verdwynings met die pedofiel Gert van Rooyen verbind word. Die ouers van daardie slagoffers het nooit kans gehad om te groet nie en sal waarskynlik nooit antwoorde op hul vrae kry nie. Een ma sê dat sy selfs te bang geword het om te hoop. Ek bid dat hulle wel eendag vrede in hul harte sal kry.

En dit inspireer my om die beste van die tyd saam met die mense rondom my te maak, voor dit nodig word om te groet (vir watter rede ookal).

PS: Aanvanklik wou ek skryf oor die mense wat uit my lewe verdwyn het, maar dis eers toe ek die voorlaaste paragraaf skryf, wat ek die werklike betekenis van 'verdwyn' besef en besluit het om eerder te skryf oor mense wat 'aanbeweeg 'het.

Thursday 12 April 2007

Trane vir Anna

Gisteraand begin ek Elbie Lotter se boek, Dis ek, Anna te lees. Dis een een van daai boeke wat jy letterlik nie kan neersit nie – alhoewel ek dit baie moes doen omdat ek nie ‘n woord deur my trane kon sien nie. En tussen die trane deur sit ek toe nie die boek neer voor ek nie die laaste woord gelees het nie. Die boek gryp my aan die hart en hoe verder ek lees, hoe meer trane vloei.

Trane van ‘n ongekende woede vir die vark wat ‘n kind misbruik.
Trane van moedeloosheid oor ‘n ma wat ander kant toe kyk.
Trane van hartseer oor ‘n vriendskap wat tot niet gaan.
Trane van teleurstelling oor ‘n verlore liefde.

Maar meestal trane omdat my hart breek vir kind in stilte moes ly.
Trane vir Stom Anna.