Monday 30 March 2009

Gedeelde vreugde

‘n Paar maande gelede skryf ‘n vriendin oor Into the Wild en dit is asof artikels oor die fliek my van toe af van skielik van alle kante af bombadeer. Ek het gister uiteindelik die geleentheid gehad om dit te kyk.

Die fliek is gebasseer op Jon Krakauer se topverkoper boek oor die avonture van Christopher McCandless wat op die ouderdom van 24 in die wildernis van Alaska oorlede is. Dit vertel die ware verhaal van McCandless wat vir byna twee jaar lank 'vermis' was terwyl hy deur Amerika gereis het met net ‘n rugsak op pad na sy groot avontuur in Alaska. Op ‘n stadium verbrand hy selfs die geld wat hy het as bewys dat ‘n mens dit nie nodig het om gelukkig te wees nie, en ook as teken dat hy 'afstand doen' van die samelewing. Hy verander ook sy naam na Alexander Supertramp omdat hy regtig nie meer verbind wil word met die lewe wat hy tot dusver gelei het nie.

Die fliek word vir my opgesom in die gedeelte wat hy op ‘n plank uitgekerf het:
Two years he walks the earth. No phone, no pool, no pets, no cigarettes. Ultimate freedom. An extremist. An aesthetic voyager whose home is the road. Escaped from Atlanta. Thou shalt not return, 'cause "the West is the best." And now after two rambling years comes the final and greatest adventure. The climactic battle to kill the false being within and victoriously conclude the spiritual pilgrimage. Ten days and nights of freight trains and hitchhiking bring him to the Great White North. No longer to be poisoned by civilization he flees, and walks alone upon the land to become lost in the wild.
— Alexander Supertramp May 1992

Wat my egter die meeste bybly van die fliek is dat alhoewel hy op sy reise vriende maak met hippies, ‘n boer, ‘n 16-jarige meisie en ‘n 80-jarige leermaker, is Chris se lewe ‘n alleen een. Deur die hele fliek doen en sien hy wonderlike dinge en geniet hy die natuur – maar telkens as hy iets beleef wat ek dink mooi of goed of opwindend is, het ek ook gedink hoe hartseer dit is dat hy dit alleen beleef.

In die laaste dae voordat Chris alleen in die wildernis sterf, skryf hy die volgende woorde – die bewys dat hy self besef het hoe leeg sy vreugde is en dat hy wel mense rondom hom nodig het: Happiness is only real when shared!

Hierdie aanhaling bind die hele fliek vir my saam en sê dat dit nie saakmaak of jy nie met die mensdom saamstem nie, ons moet almal hierdie lewe leef en kan dit nie op ons eie doen nie.

Hier is 'n foto van Chris bo-op die 'Magic Bus' waarin hy gebly het in Alaska:


Bron:
www.movies.digitch.com

Thursday 26 March 2009

Earth Hour



Earth Hour het sy oorsprong in 2007 in Sydney, Australie gehad toe twee miljoen mense hul ligte vir een uur afgeskakel het in die stryd om ons aarde se oorlewing. In 2008 het ongeveer 50 miljoen mense dit gedoen en selfs internasionale landmerke soos die Golden Gate brug in San Francisco, die kolosseum in Rome en die Coca-Cola advertensiebord in Times Square, New York was gedurende daardie uur donker.

Duisternis was die simbool van hoop vir ‘n saak wat by die uur dringender raak.

Hierdie jaar gaan nog meer landmerke regoor die wêreld in duister gehul wees: Tafelberg, die Christus beeld in Rio de Janeiro, Merlion in Singapoer, die Sydney Operahuis, die ikoniese 6-star hotel, die Burj al Arab, in Dubai, die Millennium Stadium in Cardiff en die wêreld se hoogste gebou, die Taipei 101.

Earth Hour 2009 het ten doel om die wêreld te verenig in die stryd teen klimaatverandering; wêreldleiers en -regerings moet besef dat ons planeet in die moeilikheid is!

Kliek
hier en maak jou belofte om op 28 Maart jou ligte vir een uur af te skakel van 20:30 tot 21:30. Hierdie uur hoef beslis nie ‘n vervelige een te wees nie: hou ‘n kersligete, kyk na die sterre of ontspan in ‘n skuimbad. (Hier is nog ‘n paar oulike idees van hoe om jou daardie uur besig te hou.)

Onthou: ons het nie die aarde by ons ouers geërf nie, ons leen dit by ons kinders.


Bronne:
www.wikipedia.org
www.earthhour.org

Wednesday 25 March 2009

Ek is amper daar...

Ek dink al heeldag aan jou,
ek mis jou en wens ons was nou saam.
Maar hierdie werksdag is amper op sy rug,
dan gaan ek my vir ‘n rukkie met girl-talk bemoei,
voor ek my na jou teenwoordigheid haas.
Na die veiligheid en bekendheid van jou;
jou liefde en omgee vir my;
na jou arms waar ek tuis is;
soos in jou geselskap waar geen voorgee of aansit is.

Ek gaan my haas na waar ons –
ons vrese en vreugdes deel;
saam kook;
saam tv kyk en lag;
saam die dag in Sy naam afsluit;
en bymekaar rus tot die nuwe dag breek.

Tuesday 24 March 2009

Illusies

Dis die movies wat jy nie beplan om te kyk nie, die waarvan jy niks weet nie, wat gewoonlik jou aandag vasvang en laat sit en klaarkyk.

Dit het ek gisteraand gedink terwyl ek Lars and the Real Girl gekyk het. Dit was een van daai aande wat jy na Grey’s Anatomy sommer deur die kanale begin ‘surf’ en toevallig op ‘n movie afkom wat pas begin het – en jy kyk maar. Op die ou end het ek met ‘n groot gesukkel my oë oopgehou, want klaarkyk, moes ek.

Lars is ‘n liefdevolle introvert wie se emosionele bagasie hom keer om die lewe werklik ten volle te geniet. Na ‘n lang tyd wat Lars in homself gekeer is, nooi hy vir Bianca – ‘n vriendin wat hy klaarblyklik oor die internet ontmoet het – om te kom kuier. Wanneer hy haar egter aan sy broer en skoonsuster voorstel, is hulle stomgelaan. Want sien, Bianca is ‘n lewensgroote pop en Lars behandel haar asof sy lewendig is. Die familie konsulteer ‘n dokter, wat verduidelik dat Bianca ‘n illusie is wat hy self geskep het. Die dokter kan nie die rede daarvoor vasstel nie, maar besluit dat sy en die familie moet ‘saamspeel’.

‘n Emosionele reis volg oor Lars en die mense rondom hom; dit vertel die storie van ‘n hele gemeenskap wat later ‘saamspeel’, tewryl Lars bly vasklou aan die illusie tot die dag van Bianca se ‘dood’ en ‘begrafnis’.

Die verhaal laat my wonder oor die illusies wat ons elkeen skep en aan vasklou. Beteken die feit dat die illusies waarin ons leef, wat nie hele gemeenskappe betrek en soos Bianca daar is vir die wêreld om te sien nie, noodwendig dat ons meer ‘normaal’ as Lars is?

Bianca en Lars

Friday 20 March 2009

Seisoensverandering

Dis vroegoggende wat ek agterkom dat die seisoen besig is om te draai – dis daardie byt in die lug en son wat eers heelwat later sy kop uitsteek. Op pad werk toe skyn die son direk in my oë, waar ek gewoond was dit is teen daardie tyd al heelwat hoër is. Ek sien reeds enkele blare wat begin verkleur en een van die dae gaan die warmte van die herfskleure op hul manier die naderende koue probeer wegkeer.

En dan kom Paasfees – ‘n ‘seisoen’ op sy eie. ‘n Seisoen wat my opnuut laag kom laat buig voor die Skepper en die groot genade wat Hy aan ons bewys het deur Sy lyding wat tot ons verlossing gelei het.

Daar is egter nou ook ‘n ander seisoensverandering in my lewe: die verandering van werk.

Hierdie is ‘n storie op sy eie wat langer as nege maande strek en waaruit ek baie lesse van geduld en geloof geleer het – maar dis nie waaroor hierdie skrywe gaan nie.

Dit gaan oor die verandering in roetine waarvoor ek my moet gereed maak; nuwe gesagstrukture waaraan ek moet gewoond raak; nuwe kollegas en kantoor-dinge om in ag te neem; en nuwe werksmetodes om aan te leer.

Dit bring mee die einde van ‘n ander seisoen – ‘n seisoen van ‘staatsamptenaar’ wees. Dit was ‘n tydperk waarin ek nie net op ‘n professionele vlak dinge geleer en beleef het nie, maar persoonlik het ek as mens soveel nader aan my God gegroei en ek is so dankbaar vir alles wat Hy my in hierdie tyd geleer het.

Ek sien uit na die geleenthede en uitdagings wat hierdie nuwe seisoen en posisie gaan bring en ek bid dat God self vir my sal wys hoe en waar Hy my in hierdie nuwe omgewing wil gebruik.

Monday 16 March 2009

Om te vergeet ... of nie?

Na ek nou al vir letterlik jare dreig, het ek eindelik die naweek daarby uitgekom om Eternal Sunshine of the Spotless Mind te kyk! En wat ‘n aangename verrassing was dit nie.

Die film self is briljant, dalk bietjie weird, maar briljant. Dit sluit nou alles in van die toneelspel, die storie en die kamerawerk. En dan is dit nog sterbelaai ook!

Die fliek gaan daaroor dat twee mense elkeen ‘n fiktiewe ‘non-surgical’ prosedure ondergaan wat hul herinneringe aanmekaar vir ewig sal uitwis nadat die verhouding tussen hulle verbrokkel het. Die dag nadat die prosedures gedoen is, ontmoet die twee mekaar asof vir die eerste keer – met geen idee van die tyd wat hulle voorheen saam spandeer het nie. En net soos met hul eerste ontmoeting, word die twee na mekaar toe aangetrek. Daar is ook ‘n ander geval in die film waar iemand aangetrokke is tot ‘n persoon van wie die herinneringe uit haar geheue gewis is.

Dit laat my wonder oor die konsep van ‘meant to be’ – en mense wat gekies het om te vergeet van iemand en alles wat hulle met daardie persoon gedeel het, om net weer verlief te raak op / lief te raak vir daardie persoon.

Ek sal egter nooit wil vergeet nie. Daar was verhoudings in my lewe waarvan ek direk daarna wou vergeet – bloot om van die seer ontslae te raak. Maar aan die ander kant is dit die onthou wat jou herinner aan die lesse wat jy uit daardie verhoudings geleer het en dinge wat jy volgende keer anders sal doen, voor sal uitkyk of heeltemal vermy.

Ek is glad nie oortuig dat daar wel ‘eternal sunshine’ in die ‘spotless mind’ is nie.

Friday 13 March 2009

The Secret Life of Bees

Ek het pas Sue Monk Kidd se boek The Secret Life of Bees gelees en het net soveel saam met Lily gehuil as wat ek by August en haar bye geleer het.

Lily het geleer hoeveel innerlike krag daar in haar skuil en deur die liefde wat die ‘calendar sister’ haar gegee het, het sy selfs nog sterker geword.

Ek het saam met Lily ‘ge-struggle’ oor haar ma wat haar agtergelaat het – en later tot die besef gekom dat sy haar wel wou kom haal het. Ek het ook saam met haar ‘ge-struggle’ oor ‘n liefdelose pa – en later tot die besef gekom dat sy hom net heeltemal te veel aan haar ma laat dink het. Haar ‘struggle’ het verder ook gegaan oor die feit dat sy self haar ma doodgeskiet het, sonder om te besef dat sy as vierjarige dogtertjie dit gedoen het.

Ek het saam met Lily by August geleer (p363) dat: People can start out one way, and by the time life gets through with them, they end up completely different”.

Op ‘n stadium – naby aan die einde van die storie – het ek verbaas gestaan oor my eie sinisme en die feit dat ek regtig nie gedink het hierdie storie gaan ‘n gelukkige einde hê nie. Ek het nogal baie met myself daaroor geredeneer, want sê die een kant vir my, dis ‘n storie en dit moet ‘n gelukkige einde hê. Die ander kant kon net nie glo dat dit ‘n gelukkige einde gaan hê totdat ek die laaste paar blaaie gelees het en besef het, dit is ‘n storie en dit het ‘n gelukkige einde.

Ek was verstom oor my eie sinisme, maar het dankbaar ‘n traan afgevee toe dit wel ‘n gelukkige einde gehad het. Dit het my laat terugstaan en besef dat daar wel gelukkige eindes bestaan; en nie net in storieboeke nie.

Een van die dinge in die boek wat my die meeste bybly, is egter May se woorde in haar selfmoordnota: “It’s my time to die, and it’s your time to live. Don’t mess it up”.

Dit het my laat besef hoeveel ons, ons eie lewens kan ‘opmors’ deur moeilik te glo dat selfs boeke ‘n gelukkige einde kan hê, wat nou nog van die ‘regte’ lewe. Maar dit het my ook met nuwe oë laat kyk na hoeveel seëninge en geluk daar elke dag in my lewe is; ek glo dat ook my storie (wat reeds elke dag gelukkiger raak) ‘n baie gelukkige einde het.