Monday 23 November 2009

Why I wore lipstick to my mastectomy

Geralyn Lucas het pas by 'n joernalistiekskool gegradueer en 'n droompos gekry. Haar lewe is wonderlik. Maar dan vind sy op 27 uit dat sy borskanker het. Sy kry niemand wat bereid is om met haar te praat oor wat dit beteken om 'n jong vrou met borskanker in 'n skoonheidsbehepte wêreld te wees nie. Alhoewel haar man en baie dokters vir haar die feite gee, is dit nie hulle wat haar help om die besluit (om 'n mastektomie te ondergaan) te neem nie, maar eerder al die engele wat oor haar pad kom wat al in soortgelyke situasies was.

Ek het gisteraand Why I wore lipstick to my mastectomy gekyk – 'n film met dieselfde titel as Geralyn Lucas se memoir. Dit vertel die ware verhaal van hoe Geralyn probeer om haarself te vind terwyl sy haar skoonheid en lewenslus verloor tydens borskanker; in die proses ontdek sy egter selfaanvaarding deur op haar moed, humor en rooi lipstiffie staat te maak.

Alhoewel die film oor Geralyn se siekte en haar onseker toekoms gaan, het sy 'n transformasie ondergaan wat elke vrou kan bemoedig wat al ooit voor keuses te staan gekom het waar hulle moes kies om iets groot te verloor.

Hier is 'n foto wat uit 'n toneel in die film kom - Geralyn het 'n tatoeëermerk op haar bors laat aanbring en daarna vir 'n tydskrif poseer as deel van borskankerbewusmaking. Die byskrif by die foto vat egter die hele film vir my saam:


I placed a tattoo at the end of my scar, because where my scar end, is where my heart – my courage – begins.



Ek glo elke vrou het so baie om van Geralyn en haar situasie te leer – selfs al is jy nie borskankerpasiënt nie. Gaan lees hier oor Geralyn se boek en die werk wat sy doen vir borskankerbewusmaking as ook die ondersteuning wat sy vir ander bied wat deur dieselfde gaan. Kyk gerus die film of lees die boek – en maar hou byvoorbaat 'n groot boks snesies byderhand.

Friday 20 November 2009

Kleur op 'n grou dag

My kantoorplant se blomme hou nou al vir drie weke lank en op 'n grou en koue Vrydag soos vandag waardeer ek die kleur wat dit namy kantoor bring net soveel meer!

Ek het dit met my selfoon geneem, dus is die kwaliteit nie baie goed nie, maar ek hoop julle kan die blomme soveel waardeer soos wat ek doen.








Monday 16 November 2009

Daknatmaak / house-warming

Om in 'n nuwe huis in te trek is baie opwindend. En alhoewel ons nuwe huis nie nuut is nie, is dit nuut vir ons. Daarom was dit niks minder as gepas dat ons hierdie vreugde met ons vriende gedeel het nie en het ons Saterdagaand 'ndaknatmaak / house-warming gehou.
Daar word geglo dat die oorsprong van house-warming in die storie van brood en sout lê. Daar is ook 'n oosterse tradisie om tydens house-warming partytjies rys as geskenk te gee as teken van vrugbaarheid. Baie mense het ook in daardie tyd houtskool na 'n nuwe huis gebring om dit warm te hou. 'n Tradisionele house-warming seën lui iets soos volg:
Bread: So your larder will always be full.
Salt: To give it savour.
Honey: For a sweet life in your new home.
Die term daknatmaak het weer sy oorsprong by 'n tradisie waar die bouer of eienaar van 'n gebou die dak letterlik sal natmaak om te bepaal of dit waterdig is.
Vrydagaand was daar 'n erge storm wat ons dak behoorlik natgemaak het en bewys het dat dit waterdig is en Saterdag het die samesyn met vriende ons huis en ons harte warm gemaak.
Dankie aan almal wat in ons vreugde gedeel het en vir al die geskenke wat julle aangedra het. Hier is 'n paar geskenke wat ons huis en tuin gaan verfraai.

Wednesday 4 November 2009

Van Casa Mia na Maru Place

Gisteraand stap ek gou by my ou, leë woonstel in. Ek kyk om my rond, doen wat gedoen moet word en stap weer uit. Ek was baie verbaas oor my eie houding en gevoel – veral in vergelyking met hoe ek gevoel het toe ek Donderdag daar weggery het.

Donderdag het my hart gebreek terwyl al my meubels uitgedra is. My hart het gebreek oor vyf en 'n half jaar se herinneringe en ervarings. My hart het gebreek oor die mens wat ek in Casa Mia geword het. My hart het gebreek oor een van die grootste goed wat ek nog ooit op my eie gedoen het. My hart het gebreek oor dit wat ek agter moet laat.

Die feit dat ek so hartseer was, beteken nie dat ek nie wil weggaan nie. Want my hart het ook gejuig. My hart het gejuig van dankbaarheid oor die seën wat ek daar ontvang het en dat ek altyd so gelukkig en veilig daar was. En meer as enige iets anders, het my hart gejuig oor die toekoms.

Gisteraand stap ek gou by my ou, leë woonstel in. Ek kyk om my rond, doen wat gedoen moet word en stap weer uit. Ek het wel nog dankbaarheid ervaar oor my tyd daar, maar ek was nie meer hartseer nie, want ek het reeds afskeid geneem. Die hoofstuk is afgesluit en die nuwe het begin.

Die nuwe hoofstuk het met baie harde, maar bevredigende, werk begin. Woensdag het ek en Joyce behoorlik geswoeg om Maru Place skoon te kry. Ek het dit egter met vreugde gedoen; dit was vir my soos om 'n boek met skoon blaaie te bind waarin ek die nuwe hoofstuk van my lewe kan skryf. Blaaie waarop ek saam met my Liefie die woorde van ons liefde kan skryf en die kleurvolle prente van ons lewe kan verf.

Alhoewel die hoofstuk reeds begin het, sien ek baie uit na die dag wat ons kan skryf dat my Liefie my man geword het en saam met my in ons nuwe huis kom bly. Daardie dag is oor 94 dae!