Thursday 29 March 2012

Praag


Tydens 'n lang treinrit vanaf Boedapest, deur Slowakye tot in die Tsjeggiese Republiek was dit opvallend hoe die landskap verander het – en beslis ten goede. Dit is lente in Europa en Praag is vir my baie groener as die ander stede waar ons was. Dis pragtig!

Praag is 'n historiese stad met 'n magiese bekoring. Ons het baie tyd in die ou stadsplein deurgebring en dis hier waar die astronomiese klok uur na uur honderde mense lok om te kyk wanneer hy die uur slaan. Dis ook hier waar ons die Praagse paasmark met sy wonderlike geure en smake aangetref het. Ons het die ou stadsplein as middelpunt gebruik, maar ook die ou deel van die stad wyd om die plein verken, want om elke draaitjie is daar net nog iets om oor in verwondering te staan.

In die kasteeldistrik was duisende toeriste en ek verstaan waarom almal daarheen wil gaan; rondom die kasteel is 'n reusagtige gotiese kerk en baie ander ou geboue en van daar af is 'n ongelooflike uitsig oor die stad. Ons het ook in die Lesser Town rondgeloop; dit is baie minder gewild as van die ander dele (en genadiglik is daar gevolglik baie minder toeriste as in die ander dele), maar ewe indrukwekkend. Vir lang rukke het ons sommer op die bankies langs die rivier gesit en vir die bote en mense en die Charlesbrug gekyk.


Foto vanaf die kasteelarea met Praag in die agtergrond.

Die ou Joodse deel van die stad het ook baie besienswaardighede, waarvan die wat my die meeste getref het seker die uitstalling van kinderkuns was. Dit is prente wat Joodse kinders tydens die Holocaust in konsentrasiekampe gemaak het. In een van die sinagoges is die name van 77 000 Tsjeggiese Jode wat tydens die Holocaust vermoor is, teen die mure van die sinagoge geverf. Dis so 'n groot onreg wat hulle aangedoen is en 'n baie hartseer, maar konkrete, manier om ons daaraan te herinner. Dit laat my ook dink aan al die ander onregte teen Jode deur die eeue heen. In Praag was daar byvoorbeeld ook 'n spesifieke ommuurde deel waar die Jode moes bly en hulle mag nie buite hierdie area begrawe geword het nie. Gevolglik is daar 'n ou Joodse begraafplaas met 12 000 grafstene en baie meer liggame wat 12 tot 15 bo-op mekaar begrawe is.

Die Tsjeggiese Republiek is baie bekend as 'n bierdrinkende nasie – veral Pilsner Urquel. Ek is glad nie 'n bierdrinker nie, maar as jy in Rome is... of te wel dan in Praag is, dan drink jy bier. Ek was egter ook baie verbaas oor die feit dat hot wine (of gluhwein soos ons dit eerder ken) oral bedien word, en dit was dan meesal my keuse vir 'n drankie.

***
Nou is die vakansie egter verby en my voete voel of dit nooit weer sal kan loop nie, maar dit was beslis die baie kilometers wat ons agter baie mooi goed aangeloop het, werd. Elke tree!

Ons het baie wonderlike dinge gesien en ervaar en baie foto's geneem. Praag was my gunstelingstad van die vakansie, en om The Kiss te sien was my gunstelingervaring van die vakansie. Ek is baie dankbaar vir die groot voorreg om so 'n vakansie te kon hê en meer nog, dat ek dit saam met die liefde van my lewe kon doen.

Boedapest


Sowat drie ure met die trein vanaf Wene lê Boedapest. Hierdie stad en Hongarye as geheel het 'n ryk geskiedenis wat meer as 'n millennium strek. Hoe nader ons egter aan Boedapest gekom het, hoe vuiler het dit geword en toe ons by die stasie uitkom, het ek my hart vasgehou. Kan dit wees? Die plek lyk dan vir my soos die gopse! En om alles te kroon het ons erg verdwaal na ons die busstop waar ons moes afklim, gemis het. Oral is ou geboue soos in Wene, maar alles is verwaarloos en vuil en skielik kan ek nie onthou waarom ons besluit het om Boedapest te besoek nie.

In die toeriste-areas lyk dit darem stukke beter en ons kom op 'n plein met 'n feestelike atmosfeer af. Dis Vörösmarty tere waar 'n lentefees aan die gang is, ons loop deur al die stalletjies en eet elkeen 'n bord warm bredie. Die Hongaarse kos is tradisioneel heerlike homey, hearty bredies met baie paprika en skielik voel ons ook sommer beter oor die stad waarin ons, ons bevind.

Die kasteelarea van die stad is vol pragtige ou geboue, alhoewel die geboue almal honderde jare ouer lyk as wat dit eintlik is – dit is die gevolg van oorloë wat die stad erg beskadig is en baie geboue is dan net weer in hul oorspronklike styl oorgebou. Hier is dus baie geboue wat lyk asof dit uit die 15de eeu dateer, maar inderwaarheid in die 20ste eeu gebou.


 Ek en Rudolph voor die kasteel in Boedapest.

Ek hou vreeslik baie van die Fishermen's Bastion. Dit het egter nooit as 'n skansmuur gedien nie, maar eerder as 'n uitkykpunt. Die muur is in 1895 gebou en sy torings is so ontwerp om aan die Magyars (die eerste inwoners van Hongarye) se tente te herinner. Van hier af is 'n pragtige uitsig oor die stad en die parlementsgeboue wat seker Boedapest se bekendste landmerk is.


 Fishermen's Bastion

Die millenniummonument is 'n baie indrukwekkende monument wat in 1896 gebou is om die eerste duisend jaar van die land se geskiedenis te herdenk – dis nou sedert Prins Arpad hom in 896 daar gevestig het. Daar is beelde wat die verskeie heersers van die land uitbeeld.

As deel van die millenniumvieringe in 1896, is die Vajdahyad-kasteel 'n tydelike struktuur opgerig, maar dit was so gewild dat dit later met 'n permanente struktuur vervang is. Dit is 'n aantal kerke en geboue wat verskillende eras uit die land se argitektoniese geskiedenis voorstel. Ek was mal oor die hele kompleks en die sprokiesagtigheid daarvan.

Alhoewel ek wonderlike dinge in Boedapest gesien en ervaar het en dit baie geniet het, dink ek nie ek sal sommer weer teruggaan soontoe nie.

Wednesday 28 March 2012

Wene


Ons het via Schipollughawe in Amsterdam na Wene gevlieg en dit baie maklik reggekry om met 'n bus tot by Westbahnhofstasie te kom en vandaar met trem 52 tot basies reg voor die hotel. Na ons die kaarte en gidse oor die stad bestudeer het, het ons besluit om die aand in Stephansplatz te spandeer. Dis hier waar my eerste indruk van Wene gekry het.

Die eerste gesig wat jou begroet as jy uit die stasie op die plein kom, is 'n majestueuse gotiese katedraal – Stephansdom. Hierdie gebou dateer uit die jaar 1147, maar is deur verskeie oorloë deur die eeue beskadig en telkens weer herstel.

Hierdie plein en katedraal het dan ook ons verwysingspunt in Wene geword, alhoewel ons eers twee dae later die binnekant van die katedraal besigtig het. Stephansdom sal waarskynlik altyd die eerste ding wees waaraan ek dink as ek aan Wene dink.

Die ander bekoring wat die stad vir my ingehou het, het ek ook die eerste aand beleef. Die romantiese gevoel van die stad wat jou aan 'n ou film herinner wanneer jy in die straatjies en deurgange loop. Ons het tradisionele Weense schnitzel in 'n restourant se kelder geëet wat diep onder die grond is – asof dit die kelder se kelder was.

Figlmuller – die restourant met heerlike Weense schnitzel. 

Rudolph in die kelder waar ons tafel in Figlmuller was.


Ons het die hele Schonbrunn-paleiskompleks plat gestap, deur sy reusetuine met beelde en fonteine om elke hoek en draai, tot by die Neptunefontein en die Gloriette heel bo op die koppie vanwaar jy 'n pragtige uitsig oor die stad het. Tydens 'n toer van die paleis het ons baie oor die geskiedenis van die stad en die Hapsburgs, wat 'n belangrike koninklike familie in die Europese geskiedenis was, geleer.

'n Gedeelte van Schloss Schonbrunn gesien tussen die winterbome deur.

Ek weet nou dis waar wat Mark Twain gesê het: The best coffee in Europe is Vienna coffee – compared to which all other coffee is fluid poverty, want by die Naschmark het ek die lekkerste koffie nog ooit gedrink.

My hoogtepunt van Wene (en moontlik die hele vakansie) was die oomblik toe ek my oë op 'n oorspronklike werk van Gustav Klimt in Oberes Belvedere ('n paleis wat nou 'n kunsgalery is) gelê het. Sy werk, The Kiss, is een van my gunsteling skilderye ooit, en om dit in lewende lywe te sien, was 'n voorreg wat my hart sommer warm laat klop het.

'n Poskaart van my gunsteling skildery - Gustav Klimt se The Kiss.

Ons het baie tyd in die stad spandeer om sommer net rond te loop en op trappe of bankies te sit en alles rondom ons in te neem. Wene het my aangenaam verras en ek sal enige dag weer die stad besoek.

Reisjoernaal


Ek en my Liefie het die groot voorreg gehad om die afgelope elf dae in drie Europese stede te spandeer. Vandat ons getroud is praat ons al van so 'n vakansie en eindelik het ons nou die geleentheid gehad om dit te doen.

Beide ek en my Liefie was al voorheen in verskeie Europese stede, alhoewel geen daarvan ooreenstem nie, dus het ons besluit om plekke te besoek waar nie een van ons al was nie. Na 'n bietjie navorsing en opleeswerk op die internet het ons op Wene, Boedapest en Praag besluit. Die geskiedenis van hierdie stede wat oor honderde jare strek en die argitektuur wat deel van daardie geskiedenis is, het alles bygedra tot die keuse van ons vakansiebestemming.

Natuurlik kan ek nie hier elke detail van elke, gebou en landskap, smaak en reuk, en gevoel en ervaring weergee nie, maar ek kan wel van die hoogtepunte en algemene indrukke vertel.

Iets wat op al drie die stede van toepassing is, is die vervoerstelsels. Alhoewel dit nie oral ewe modern is nie, is dit wel oral baie doeltreffend. Dit baie maklik om met openbare vervoer oor die weg te kom – van die baie moderne moltreine en trems in Wene tot die in Boedapest wat al baie oud is. Boedapest was die tweede stad in die wêreld wat ondergrondse treine gehad het (naas die in Londen) en dit sal my nie verbaas as die treine hier nog uit die kommunistiese bewind kom nie - dit lyk nie mooi nie, maar dit werk goed.


'n Stokou ondergrondse trein in Boedapest.