Wednesday 18 July 2012

Mandela-dag



Mandela-dag word blykbaar wêreldwyd gevier en mense word aangespoor om 67 minute van hul tyd aan liefdadigheid te spandeer. Dis seker 'n goeie inisiatief en dis wonderlik as mense hul tyd vir ander gee.

Ek het egter 'n probleem met hierdie spesifieke inisiatief – maar ek wil dit duidelik stel dat ek nie 'n probleem met Mnr Mandela het nie. In teendeel, ek dink hy het wonderlike werk gedoen en ek twyfel of iemand anders in sy situasie dieselfde  vir nasiebou in 'n tyd van politieke onsekerheid in Suid-Afrika sou kon doen.

Dit voel vir my of mense aan hierdie inisiatief deelneem as 'n heldeverering vir 'n mens, en dit kan tog nie die rede vir goeie dade wees nie. Ek glo sulke dade moet uit die hart moet kom, uit liefde vir die medemens. Ek gee van my tyd en is betrokke by liefdadigheidswerk, en ek doen dit omdat ek graag wil. Ek weet baie mense sal argumenteer dat niemand sal betrokke raak as hulle nie in elk geval wou nie, my teenvraag is dan: as jy dan so graag iets vir ander wil doen, waarom net een maal per jaar vir 67 minute?

Betrokkenheid by die wêreld se nood kan wel 'n verskil in mense se lewens maak, maar kom ons doen dit dan meer gereeld. Kom ons doen dit weekliks of maandeliks vir 'n uur of twee en bou verhoudings met die mense en wag nie vir 'n spesiale geleentheid of iemand se verjaardag om dit te doen nie.

* * *
Ek wil Mnr Mandela  ook geluk wens met sy 94ste verjaardag. Dit is voorwaar 'n mylpaal en hy kan met trots terugkyk na 'n vol lewe waarin hy baie bereik het.

Monday 9 July 2012

Liewe Ouma


Na 86 jaar en 51 weke moes ons jou groet. Alhoewel my hart seer is om jou te laat gaan, weet ek dat jy nou veilig en sonder pyn is – en my herinneringkissie is vol kosbaarhede wat altyd tot troos sal wees.

Ek onthou hoe jy en oupa my keer op keer saam op vakansie geneem het en bederf het soos net ʼn ouma en oupa kan. Ek onthou hoe jy saam met my op die strand en in rotspoele gespeel het. Ek onthou die kuiers op die plaas – byna elke naweek en vakansie – warm melk en Bybelverhale voor slaaptyd. Ek onthou hoe jy Zoo-koekies gebruik het om my van diere te leer. Ek onthou hoe ouma speletjies met ons gespeel het en geraas het as dit nodig was. Ek glo dat ek my liefde vir kook – veral vir eksperimentering in die kombuis – by ouma geërf het.

Maar die belangrikste wat ouma my geleer het, is liefde.  Ouma se verhouding met die Vader was altyd ʼn voorbeeld van iemand wat na aan Hom wandel. Ouma se verhouding met ander was altyd 'n voorbeeld van hoe om in liefde met ander om te gaan. En ouma se verhouding met oupa bly vir my ʼn voorbeeld van ʼn huwelik wat in God gevestig was. Ouma het geglo het ʼn mens nooit kwaad vir iemand mag gaan slaap nie – en dit is ʼn les wat ek altyd met my sal saamneem.

Dankie vir al ouma se liefde en omgee. Oral waar ouma gegaan het, het jy mense se lewens aangeraak: kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, familie, vriende, bure, en selfs deur briewe aan sendelinge in verre lande.

Ek sal die kosbare herinneringe altyd in my hart dra.

Liefde
Annelie