Tuesday 20 November 2007

Obituary

Ek wil nie eers begin tel hoeveel keer ek die afgelope maande hier oor die dood geskryf het nie. My blog begin al soos 'n obituary lyk. Daar was selfmoorde, 'n motorongeluk en gevalle waar siekte en/of ouderdom 'n rol gespeel het.

Vandag is my hart weer seer.
En dis weer ouderdom en siekte.

Die keer is dit my hond wie se lewe verby is en wat ek gaan mis:
sy onvoorwaardelike lojaliteit; en
sy swart gesiggie en logge lyfie.

Friday 9 November 2007

Barbara Jean Carter

In my vorige posting het ek geskryf:

“Vanoggend is ek geïnspireerd om 'n lang brief aan my Engeland-tannie te skryf en haar te vertel van die somer wat hier aangebreek het. Ek skryf van die reën-gewasde aarde wat die mooiste groen uit dooie takke laat kom, jakarandabome wat die strate pers kleur, en die helder blou lug op 'n wolklose dag in perfekte harmonie met die Afrika-son. En dit is net die goed wat ek deur die venster kan sien as ek opkyk vanwaar ek sit en werk. Stap ek uit op die balkon, voel ek hoe daai Afrika-son warm op my vel skyn en hoe 'n koel bries dit dan weer laaf. Buite ruik ek van een kant af die rye laventel wat die jakarandas in kleur komplimenteer, en van die ander kant af styg die soet reuk van die sering wat bo die res uit.”

Vandag weet ek dat sy nooit gedeel het in die stukkie vreugde van die skoonheid wat my daardie dag omring het nie. Sy was reeds oorlede toe ek dit geskryf het.

Sy het ‘n vol lewe gehad en dit gevul met wat ek sielsdinge noem. Sy het antikware en skilderye verkoop – haar eie galery gehad in Bond Street, Londen. Later het sy haar op die platteland gevestig in ‘n lieflike 1650 Georgian-styl huis. Ek sien in my geestesoog die donker huis met lae sleeper balke, die duursaam gestoffeerde meubels en rye skilderye en antieke kaste teen die mure. Dis nou die mure wat nie gevul is met rakke en rakke boeke nie. Sy het die meeste boeke wat ek nog ooit in ‘n privaat versameling gesien het – en oor elke onderwerp waaraan jy moontlik kan dink. Sy het (soos wat die klein dogtertjie in elkeen van ons graag wil hê) mooi klere en skoene en baie handsakke gehad.

In die enkele maande wat ek in haar huis gebly het, het ons baie baklei het – soos kat en hond. Oor kos, oor die wêreld, oor my land, oor geloof, oor TV, oor alles. Net om ‘n paar uur later weer diep lewensdinge te praat en ek my verwonder aan al haar ervarings.

Sy het so ‘n vol lewe gehad, wat my net laat besef hoeveel daar nog vir my is om aan te gryp, te sien en te beleef. Daar is so baie van haar wat ek nooit sal vergeet nie. Ek sal nie weer aan Engeland of Skotland of selfs Parys dink sonder om aan haar te dink nie Die naam Napoleon sal ook nooit weer dieselfde in my ore klink nie.

Ek het haar vier-en-‘n-half jaar gelede ontmoet, vir amper ses maande by haar gebly en in die laaste vier jaar net een keer gesien. Ons kontak was beperk tot ‘n brief in die pos so elke tweede maand en die sonderlinge telefoonoproep. Maar sy het ‘n impak op my lewe gemaak en ek sal haar altyd onthou. Na ‘n oproep gisteraand na haar vriendin en familielid, weet ek dat ek ook ‘n invloed op haar lewe gehad het. Op ‘n vreemde manier is dit vir my ‘n troos om te weet dat ek iets vir haar kon beteken; maar aan die ander kant maak dit my selfs nog hartseerder.

Tata Jean, dit was ‘n voorreg om jou te ken. Dankie dat jy ‘n stukkie van jou lewe met my gedeel het.