Wednesday 25 July 2007

Op my laaste dag...

Op my eerste dag hier het die CEO gesê: “As jy my maatskappy as 'n stepping stone gebruik, sê ek vir jou ‘great’. Jy doen iets vir my en ek doen iets vir jou.”

Meer as drie-en-'n-half jaar later is ek op pad uit en ek sê dankie. Hierdie was meer as 'n blote stepping stone, dit was 'n leerskool. Dankie vir Mathilda wat my aangestel het en by wie ek baie geleer. Ook dankie aan Heidi, Jean, Natalie en Lynette vir wat ek by hulle kon leer.

Noudat ek my dankies gesê het, moet ek seker begin om te groet. Die afgelope week het ek geleidelik begin om my persoonlike goed huis toe te dra, maar praat daaroor? Nee. Daarvoor het ek nog nie kans gesien nie. Nou is dit onvermydelik.

Ek het soveel goeie vriende hier gemaak en die feit 'n hele klomp van hulle reeds voor my aanbeweeg het (ek dink aan Laurette, Hannes, Suretha, Elion, Natalie en Ronel), maak dit nie makliker om die paar wat agterbly te groet nie.

Eerstens elkeen in Analysis met wie my paadjie gekruis het – dankie vir dit julle tot my lewe gevoeg het. Veral Lani, Juan, Millicent (wat soos ek, al deel van die meublement geword het), Braam en Elani.

Heids en Lee, dankie vir die vele kuiers en geselsies. Sien julle gou weer op 'n Dinsdagaand by Mimmo’s.

Hester: Ons het nie baie lank saamgewerk nie, maar ek is bly dat ons wel het. Dis was 'n voorreg om jou my vriendin te kon maak.

Anneke: Dankie. Jy weet waarvoor dit alles is en ek gaan dit nie hier uitpak nie. En gelukkig weet ek daar gaan nog baie Donderdagaande met borrels en hart-tot-hart-, resepte-, patroon-, en trou-praatjies wees.

Dis darem nie net met hartseer wat ek hier weggaan nie, maar ook met mooi herninneringe en goeie vriendskappe wat altyd sal bly. En saam met die hartseer van dit wat ek agterlaat, is 'n opgewondenheid oor wat vir my voorlê en hoe dit my lewe gaan verander.

Ek groet jou MSA.



Sunday 1 July 2007

Waaroor breek 'n mens se hart?

My hart breek vandag. In derduisende klein stukkies. Trane stroom kort-kort onkeerbaar oor my wange. En het geen idee hoekom nie. Ek het geen idee wat my hart so laat pyn nie. Ek dink al heeldag aan wat dit kan veroorsaak, maar ek het net geen idee nie. Dalk is dit mense wie ek mis. Dalk is dit dinge wat ek mis. Hoe is dit moontlik dat mens net absoluut geen idee kan he wat jou hart so uitruk nie?

Dit sou more haar verjaardag wees. Haar twee-en-sestigste. Vreemd, maar ek weet vir ‘n feit dat al mis ek haar so ongelooflik baie, is dit nie die gedagtes aan haar wat my hartseer maak nie.

Ek is bang/opgewonde oor die onbekende wat voorlê, en hartseer oor dit wat ek moet agterlaat. Maar ek dink ook nie dis dit wat my vandag so ontstel nie.

Ek het die grootste deel van my dag spandeer aan James Frey se outobiografie, a million little pieces. Sy verhaal raak my aan, maar ek twyfel of dit die rede vir my pyn is.

Dalk is dit maar ‘n kombinasie van al die bogenoemde saam met die depressiewe, koue weer en ‘n hunkering in my hart na wie weet wat. En op die ou end is daar mos maar min dinge so goed vir die siel soos om ‘n slag in jou hart rond te krap en voorraadopname te doen – sonder dat jy noodwendig by antwoorde uitkom. En ‘n ordentlike huilsessie om die stowwerige hoekies skoon te was.