Friday 12 December 2008

2008 op sy rug

Ek weet, dit klink soos ‘n cliché … maar ek kan nie glo die jaar is al so ver gevorder nie. Met 2008 wat so te sê op sy rug lê, is dit dalk tyd om so ‘n bietjie retrospeksie oor die afgelope elf en ‘n half maande te doen.

Werk-dinge
2008 het met ‘n bang begin. Kyk, DEAT se Annual Review was geen grap nie en het my baie lank besig gehou en ook nie sonder baie struikelblokke nie. Die blote gedagte aan die hele projek maak my sommer naar – dit is verseker nie iets wat ek ooit weer wil doen nie. Maar dit was tog ‘n goeie leerskool.

Niks kon my egter voorberei vir dit wat daarop gevolg het nie. Die CEO roep my en sê ek kan nie meer vir daar werk nie (sy kan my nie meer bekostig nie). Wat ‘n skok! Ek is werkloos! En so sit ek vir vyf weke lank werkloos by die huis en leer ek die ware betekenis van trail and tribulation.

Deur die genade begin ek toe weer vroeg in Julie in ‘n nuwe pos – wat teen die tyd lankal nie meer so nuut is nie. ‘n Pos waaroor ek verseker nie kan kla nie en wat my oë oopgemaak het vir ‘n klomp dinge. ‘n Pos wat my in sekere opsigte bang maak – maar nie omdat ek voel ek is nie opgewasse daarvoor nie, maar dalk eerder die teendeel… Gelukkig bied dit my die geleentheid om dit wat ek baie graag wil doen, so on the side ‘n kans te gee.

Die nuwe jaar wink reeds met nuwe moontlikhede, maar dit sal ek hanteer wanneer dit kom.

Emosies
Ek dink 2008 was my jaar van emosies. Goed en sleg. Nie net het my emosies kilometers ver op loop gegaan oor die dinge in my eie lewe nie, maar ook oor ander naby aan my s’n.

Die jaar het begin deur saam ‘n vriendin deur haar lang en uitgerekte egskeiding te veg; toe was daar drie naby vriendinne wat miskrame gehad het; nog ander met huweliksprobleme.

Die goeie emosies wat ek saam met ander gedeel het, was Anneke en Johan se troue, Lynda en Winston s’n, Hans en Sophia s’n en ook die van Andries en Natasha. Ek het gedeel in die vreugde van Burger en Nita se nuwe Nina en Wimpie en Corlien se Carli. Dan is daar ook nog ander swangerskappe en ek sien saam met daardie vriende uit na die geboorte van hul babas in die nuwe jaar.

In Mei is my wêreld geruk toe ek my werk verloor het – die emosies wat daarmee saamgaan, kan ek nie eers beskryf nie. En om die waarheid te sê, ek wil nie eers daaraan dink nie. Maar dit het my het karakter gebou. Net soos wat
Jakobus 1 sê dit sou doen.

Die hele werk-fiasko het my sterker gemaak as wat ek gedink het ek kan wees. En dit het my voorberei vir die volgende stel emosies wat my pad sou kruis. Daardie emosies wat ek ervaar het toe ek mense en dinge uit my lewe uit moes ban. Mense en dinge wat so ‘n belangrike deel van my aardse lewe uitgemaak het, maar wat my Hemelse Vader van my verwag het om agter te laat, omdat dit nie goed was vir my en my verhouding met Hom nie. Dit was so seer en moeilik en die emosies wat daarmee saamgegaan het, aaklig. Maar dit was ‘n moes. Nou is ek so dankbaar dat ek daardeur kon gaan. En vir die mens wat dit my gemaak het.

Geluk
So veg ek my pad oop deur die jaar met geen idee watse wonderlike lig daar aan die einde van die donker 2008-tonnel vir my wag nie. ‘n Lig wat my so gelukkig maak dat dit my oplig, die hoekies van my hart kom skoonwas, my siel kom verhelder en my kom herinner aan emosies waarvan ek al vergeet het.

Ek is gelukkiger as wat ek in ‘n baie, baie lang tyd in my lewe was. En ek is ongelooflik dankbaar daarvoor.

Dankbaar vir iemand in my lewe. Iemand wat my laat straal. Iemand wat my met nuwe oë na die lewe laat kyk. Iemand wat my ongelooflik gelukkig maak.

Les
Ek sien nou vreeslik baie uit na die jaar wat voorlê.
Ek sien uit na die moontlike veranderinge en geleenthede wat mag wink.
Ek sien uit na die nuwe emosies wat mag spruit.
Ek sien uit om elke stukkie geluk te pluk wat vir my beskore is.

Ek wens nie die laaste twee weke van die jaar verby nie, want ek sien uit na vakansie en Kerstyd saam met baie belangrike mense in my lewe. Maar ek sien uit na al hierdie dinge vir 2009 omdat ek gaan vashou aan die een groot les wat ek in 2008 geleer het.

Die les en hoop soos wat dit in Romeine 8:28 aan ons gegee is:
And we know that God causes everything to work together for the good of those who love God and are called according to his purpose for them.

No comments:

Post a Comment