Thursday 23 August 2007

So verander dinge

Mens weet dis tyd vir verandering as jy in ‘n groef beland en alles voorspelbaar en gemaklik raak.

Ek het onlangs met ‘n nuwe werk begin, wat my totaal en al uit my gemaksone geruk het. Dit gaan oor veel meer as net die verandering in die tipe werk wat ek doen. Ek moet ook nuwe stelsels leer ken; nuwe bestuurstyle as gesag aanvaar; met nuwe persoonlikheidstipes oor die weg kom; aanpas by ‘n nuwe daaglikse roetine; ek word gekonfronteer met die verkeer; en ek het ander inkomstes en uitgawes wat bestuur moet word.

Die verandering in seisoen het my ‘n klomp goed laat uitgooi - goed wat rondle, goed wat my kaste en my huis vul, maar waarvoor ek geen meer nut het nie. Dis amper of ek my siel van buite af skoonmaak deur van goed ontslae te raak. Dinge wat my aan die verlede bind, moet gaan – nie omdat ek alles wat agter my is wil weggooi nie, maar mens moet die waarde van goed bepaal en aanbeweeg. Mens moet ook aanvaar dat die waarde van dinge vir jou verander soos jy van een hoofstuk na die volgende in jou lewensboek beweeg.

In sekere opsigte, voel ek skaars die veranderinge. Wat ek wel voel, is hoe dit my dwing om na ‘n klomp goed in my eie lewe te kyk soos my geduld, aanpasbaarheid, approachability en selfbeheersing. En ek is opgewonde oor wat dit in my lewe gaan meebring. Maar op die ou end is dit tog waar wat hulle se: the more things change, the more they stay the same…