Wednesday, November 04, 2009

Van Casa Mia na Maru Place

Gisteraand stap ek gou by my ou, leë woonstel in. Ek kyk om my rond, doen wat gedoen moet word en stap weer uit. Ek was baie verbaas oor my eie houding en gevoel – veral in vergelyking met hoe ek gevoel het toe ek Donderdag daar weggery het.

Donderdag het my hart gebreek terwyl al my meubels uitgedra is. My hart het gebreek oor vyf en 'n half jaar se herinneringe en ervarings. My hart het gebreek oor die mens wat ek in Casa Mia geword het. My hart het gebreek oor een van die grootste goed wat ek nog ooit op my eie gedoen het. My hart het gebreek oor dit wat ek agter moet laat.

Die feit dat ek so hartseer was, beteken nie dat ek nie wil weggaan nie. Want my hart het ook gejuig. My hart het gejuig van dankbaarheid oor die seën wat ek daar ontvang het en dat ek altyd so gelukkig en veilig daar was. En meer as enige iets anders, het my hart gejuig oor die toekoms.

Gisteraand stap ek gou by my ou, leë woonstel in. Ek kyk om my rond, doen wat gedoen moet word en stap weer uit. Ek het wel nog dankbaarheid ervaar oor my tyd daar, maar ek was nie meer hartseer nie, want ek het reeds afskeid geneem. Die hoofstuk is afgesluit en die nuwe het begin.

Die nuwe hoofstuk het met baie harde, maar bevredigende, werk begin. Woensdag het ek en Joyce behoorlik geswoeg om Maru Place skoon te kry. Ek het dit egter met vreugde gedoen; dit was vir my soos om 'n boek met skoon blaaie te bind waarin ek die nuwe hoofstuk van my lewe kan skryf. Blaaie waarop ek saam met my Liefie die woorde van ons liefde kan skryf en die kleurvolle prente van ons lewe kan verf.

Alhoewel die hoofstuk reeds begin het, sien ek baie uit na die dag wat ons kan skryf dat my Liefie my man geword het en saam met my in ons nuwe huis kom bly. Daardie dag is oor 94 dae!

Sunday, October 25, 2009

Rose

Ek het die naweek 'n baie suksesvolle, maar baie interessante "uitstappie" gehad.

Ons het die Stolse net buite Bothaville besoek en 'n kykie gekry op hoe hulle met rose werk. Daar is 'n menigte tonnels met roosbome, maar dis die sorteerproses wat so interessant was. 'n Masjien gradeer elke roos volgens lengte, hoe dik die stam is en hoe ver die knop oop is. Dan verpak die werkers dit daarvolgens vir uitvoer of vir plaaslike gebruik (hulle lewer rose aan Woolworths).

Die see van kleur in die area waar die verpakking plaasvind is ongelooflik; en dis hier waar die sukses van die uitstappie inkom. Ek het die rose vir my troue gekry! Ek wil nie te veel uitbrei oor wat ek beplan en wat die werklike kleurskema gaan wees nie, maar hier is ietsie van dit wat ek wil hê:


PS: Nog net 104 dae voor die groot dag!

Monday, October 12, 2009

Thula-thula

Meer as twee jaar gelede het ek het hier oor Elbie Lotter se Dis ek, Anna geskryf. Ek het nie veel geskryf nie, ek was te hartseer oor dit wat ek gelees het en omdat dit uit die skrywer se eie ervaring geskryf is.

Vandag sit ek en wik en weeg of ek oor 'n ander boek moet skryf wat ek gelees het oor min of meer dieselfde onderwerp. 'n Boek wat my dieper geruk het as wat ek gedink het moontlik is. Een wat my na minder as 30 bladsye byna laat ophou lees het.

Jy moet nogal staal in jou pype hê om deur die grafiese beskrywings en emosionele uitputting van Thula-thula (deur Annelie Botes) te lees.

Die verhaal speel oor vier dae af en vertel van Gertruida wat oor 'n tydperk van 22 jaar deur haar eie pa verkrag en gemolester is. Die verhaal begin op die dag na haar ouers se begrafnis en eindig op 31 Augustus 2008. Dit word uit Gertruida se eie onthou vertel, terwyl sy haar ouers se besittings uitgooi om verbrand te word en haarself só simbolies te reinig. Daar is egter ook 'n ander perspektief – dié van Mama Thandeka wat so te sê vir Abel (Gertruida se pa) grootgemaak het.

Abel is 'n vrome kerkmens en 'n gesiene man in die gemeenskap, maar 'n monster wat sy eie dogter van haar onskuld ontneem. Almal op die plaas waar hulle bly weet wat gebeur, maar bly stil (thula-thula).

Susarah (Gertruida se ma) bly stil, omdat sy self as kind aan so 'n wreedheid onderwerp was en sy gebruik haar seuntjie wat vroeg dood is as verskoning om haar van haar gesin onttrek. Mama Thandeka bly stil, omdat Abel soos 'n eie kind vir haar is – en sy ook 'n kind by hom het.

Gertruida bly stil, omdat sy nie weet hoe om uit die situasie te ontsnap nie. Die situasie bied haar ook 'n ongesonde "bargaining tool" vir alles wat sy wil hê – anders gaan sy praat. Verder stry sy tussen die liefde vir haar pa en die haat vir Abel. Dan is daar ook die feit dat sy gesien het hoe iemand wat sy goed ken en met wie dieselfde gebeur het, gepraat het. Deur te praat het Andrea haar pa in die tronk laat beland en is haar gesin in armoede gedompel weens die gebrek aan 'n pa se inkomste.

Alhoewel ek niks in gemeen het met wat met Gertruida gebeur het nie, glo ek dat elke leser, net soos ek, inspirasie uit haar oorlewingsdrang en -krag kan put. En ek onthou hoe ek, soos Gertruida, 'n hoofstuk van my lewe op 31 Augustus 2008 afgesluit het. Dit was 'n baie emosionele, maar beslis die bevrydenste, proses van my lewe.

Ek sal nie sommer die boek aanbeveel nie, want die werklikheid gaan jou hard tref. En werklikheid is dit beslis, want Annelie Botes het haar navorsing baie deeglik gedoen; sy het kundiges op alle gebiede gebruik: sielkundiges, dokters, hofbeamptes, regsmense, maatskaplike werkers, polisie en selfs boere. Sy het ook deur 'n menigte gevalle studies gewerk wat nie net situasies beskryf nie, maar ook die realiteit van bloedskande-statistiek in Suid-Afrika.

Die laaste woord oor hierdie onderwerp en boek laat ek vir Dalene Matthee – uit haar boek Fiela se kind: "Die Here vergewe mens baie dinge, maar die skade wat jy 'n kind aandoen, vergewe Hy jou nooit nie."

Monday, October 05, 2009

Geluk!

Baie geluk aan Johan en Anneke met die geboorte van hul eersteling, Maya! Mag sy julle hope vreugde en seën bring!

Maya het vanoggend net voor 03:00 haar opwagting gemaak en weeg 2,57 kilogram.

Tuesday, September 29, 2009

Reën vir die siel

Hoe lank wens ek nie nou al vir 'n ordentlike reënbui nie – om die laaste winterstof af te was.

Laat gistermiddag begin iets in my roer, want dáái wind waai. En ek wonder of dit nie dalk net dit is nie.

Terwyl ek wag dat aandete gaar word in die oond, verkyk ek my aan die mat van blommetjies wat van die seringboom af op die gras voor my deur beland het en ek ruik die seringreuk wat tot binne-in my woonstel gewaai word.

Nie te ver weg nie klink die donderweer. En ek wens. Ek hoop. Ek bid vir 'n reënbui wat die nuwe seisoen behoorlik sal inlei.

Later sak 'n donderstorm uit wat my laat voel of ek van binne vernuwe word. Ek voel skoongewas vir die nuwe seisoen wat in my lewe aanbreek en ek sien sommer van vooraf kans vir al die take wat op die oomblik op my lysie is.

Monday, September 28, 2009

6 Februarie 2010

Dag en datum is bevestig. Ek en my Liefie gaan op 6 Februarie 2010 in die huwelik tree!

Baie mense was baie verbaas omdat ons so vinnig die troue wil reël en ek het self met tye my bedenkinge gehad. Maar die afgelope naweek was 'n baie suksesvolle en produktiewe een en dinge is besig om in plek te val.

Die venue, spyskaart, dominee, troukoek en fotograaf is bespreek, ek is besig om te reël vir musiek en blomme. Hierdie week het ek afsprake vir die uitnodigings en natuurlik, my rok.

Dinge gaan baie goed en ons is baie opgewonde.

Nie net opgewonde oor ons troudag nie, maar veral oor die lewe wat daarop volg.

Tuesday, September 22, 2009

Liefdesbrief

Deur Riana Scheepers en vanoggend spesiaal vir my Liefie.

Liefste,
ek lees liefdesgedigte
die wêreld se mooistes

In al die tale wat ek ken, lees ek
en dis pragtig
die lofliedere aan die liefde
die odes aan die geliefdes

Alles goed en wel, dié ontroerende verhale
maar my moed sak weg, Lief,
want nie een, nie één
sê net náástenby iets
van jou
van jou en my

Wat sal hulle kan sê
– die Groot Digters
wat smagtend by kerslig
met beeld en rym
die liefde besing –
as hulle jou sien?
Sal hulle iets kan bedink
om te beskryf hoe oorweldigend jy is
ken hulle woorde wat kan sê
van jou
van jou en my?

Nie een, Lief,
nie één
kan vertel hoe die woestyne van my land
brand in jou oë;
watter taal se woordeskat is goed genoeg
om te kan sê
van jou harde, lieflike lyf
die jare se son soet op jou vel gebrand
van jou asem in my hare
jou swerwershande wat my, mý die mooiste vrou
van alle eeue maak?

Watter digter kan ek vertrou
om te skryf
oor jou
oor jou en my?

Ek.
Ek wat my taal ken
en dit liefhet soos vir jou,
ek wat weet van beelding en metafoor
en pragtige poësie
ek wat weet
van jou
van jou en my,
ek kan.

Friday, September 18, 2009

Opwindende planne!

Soveel soos ek uitsien na my troue, het die reëlings aanvanklik soos 'n berg voor my gelê en ek het nie geweet waar om te begin nie. Al die trou-webblaaie gee boonop vir jou 'n to do-lysie waarop ek van die begin af reeds baie ver agter is (almal dui aan wat jy reeds 12 maande voor die tyd moet doen, maar ek wil alles in vier en 'n half maande inpas).

Die oomblik toe ek egter my lysies begin maak het en met my ondersteuningsnetwerk begin gesels het, het alles verander. Dit is glad nie so onmoontlike taak nie. Ek dink ons het vinnig op dreef met die reëlings gekom. Ons kan egter eers volgende week die datum bevestig, maar sodra dit gedoen is, sal 'n hele klomp ander dinge ook in plek val.

Almal het gewaarsku dat die gastelys een van die grootste kopsere en onenigheid tussen die bruid en die bruidegom en die families gaan veroorsaak. Maar ek is baie trots op hoe vinnig en sonder probleme ek en my Liefie daaroor ooreengekom het.

Ons moet nog 'n paar besluite neem oor die keuses van die strooimeisie, strooijonker, seremoniemeester en wie heildronke op wie gaan instel maak, maar ons het reeds hieroor gepraat en ek dink nie dit gaan 'n groot krisis wees nie. Ek het ook reeds idees oor die kleurskema, uitnodigings, blomme en ander dinge wat ek kan finaliseer sodra die venue volgende week bevestig word.

Binne die volgende maand en 'n half moet ons nog trek ook en ons nuwe huisie ons s'n maak. Daar is nie 'n tuin om van te praat nie, maar ek sien uit om saam met my Liefie nes te skop, tuin te maak en ons groot dag te beplan.

Ek sien baie uit na die opwindende en besige paar maande wat voorlê!

Thursday, September 17, 2009

Wat is 'n selgroep?

Gisteraand het ons nuwe selgroep begin en dit was so lekker om saam te gesels oor wat 'n selgroep is en hoe elkeen inpas.

'n Selgroep is in die eerste plek vir my 'n vorm van kerkwees. As jy gaan kyk na die eerste gemeente in Handelinge 2 (vers 43-47), kan ons selgroepe vergelyk met die huiskerke of -gemeentes van daardie tyd. Daar sien ons wat selgroepe veronderstel is om te wees – ons moet eensgesind wees, met mekaar deel en God prys.

Lede van 'n selgroep moet mekaar opbou om meer effektiewe en sterkter Christene te word. Elkeen het 'n funksie om te vervul (Efesiërs 4:16) en deur jou funksie te vervul, gebruik God jou om Sy liggaam saam met ander gelowiges te bou.

Elke lid moet 'n verbintenis maak tot die selgroep; dis hier waar jy uitvind wat jou gawes en bediening is en dis 'n geleentheid om dit te "oefen" vir wanneer jy uitgaan na die wêreld. Maak dit dus 'n prioriteit in jou lewe, want jou teenwoordigheid is kosbaar vir die ander lede.

Dis wanneer jy daardie verbintenis gemaak het tot die selgroep en dit 'n prioriteit in jou lewe gemaak het, dat jy kan begin bydra tot die groep. Elkeen is waardevol vir die groep en God verwag van ons om aktief by die geestelike groei van ander mense betrokke te wees. 1 Korintiërs 12:7-12 verduidelik hoe ons verskillende gawes het wat ons na die groep moet bring. Ons het nie almal dieselfde gawes nie en dit is presies hoekom ons almal 'n bydra moet lewer. Wees dus toegewyd aan die groep en laat God toe om jou en jou gawes te gebruik in die opbou van Sy liggaam.

Ons kan die selgroep as uitgangspunt vir evangelisasie gebruik. (1 Tim 2:4 sê dat God begeer dat alle mense gered moet word.) Ons het die geleentheid om mense na die selgroep te nooi en die kans te gee om God te leer ken. Evangelisasie vind ook plaas deurdat ons dit wat ons in die selgroep leer, na buite te leef sodat ander mense kan sien dat ons die Here dien en begeer om meer van Hom te leer. Verder is die selgroep ook die plek waar ons saam vir mekaar se vriende en familie en kollegas bid wat nog nie gered is nie.

Niemand kan op hul eie funksioneer nie – ons het verhoudings nodig. Johannes 13:35 sê dat ons as Christus se dissipels geken sal word as ons mekaar liefhet en dit is die liefdesbande wat ons in 'n selgroep het wat ons sterk maak in tye van krisis of siekte of trauma.

Van die ander gedagtes en idees wat gisteraand na vore gekom het, is dat mense wil hê die selgroeplede hulle "accountable" moet hou vir dit wat hulle doen of nie doen nie; en dat mens gewoonlik baie meer kry deur te gee as bloot net te ontvang.

Vir my maak dit nie saak op watter vlak van volwassenheid jy as kind van God is nie, ek glo dat elkeen kan baat by 'n selgroep en het 'n bydra om te lewer.

Monday, September 14, 2009

MacDonald's en Diemersfontein

Ek weet, die Amerikaanse wegneemete en 'n Kaapse wynlandgoed het sekerlik niks in gemeen nie. Maar vir my is dit anders. Vir my het beide hierdie handelsmerke simboliek. Dit was dus niks minder as gepas dat daar MacDonald's en Diemersfontein by betrokke was toe my Liefie my die afgelope naweek by 'n baie spesiale geleentheid gevra het om sy vrou te word nie.

My Liefie, baie dankie vir 'n wonderlike aand. Ek sien baie uit na my lewe saam met jou in ons nuwe huis. Jy is 'n kosbare seën in my lewe waarvoor ek ons Vader daagliks dank.

Dankie aan elkeen wat in ons glo en ons in hul gebede opdra.