Tuesday 04 October 2011

Haal jou masker af!


Die naweek hoor ek van 'n kennis se selfmoordpoging en my eerste gedagte is: "Hoe kon sy? Sy lyk dan altyd so in beheer van haarself en haar lewe".  Ek dink aan 'n gesinsmoord wat 'n paar weke gelede in die landgoed waar ons woon plaasgevind het, en ek lees in die koerant hoe die man se familie sê dat hulle 'n gelukkige gesin was.

Ek besef hoe maklik dit is om 'n masker op te sit, om mense te laat sien wat jy hulle wil laat sien. As jy hulle wil laat dink dat jy in beheer van jou lewe of 'n gelukkige gesin is, dan is dit wat die wêreld sal sien. Want ons almal dra die maskers wat ons die beste pas.

Ons sit die maskers op wat mense tevrede sal stel, maskers wat blyk dat ons, ons beste by die werk en by die huis gee, en maskers wat ons op ons beste laat  lyk en vriendelik met die mense om ons laat wees. 

Maskers is beelde wat ons skep en waaragter ons skuil; emosionele beskermingsmeganismes om voor te gee alles gaan goed in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. Ons dra maskers om voor te gee ons is wie en wat die wêreld van ons verwag om te wees, omdat ons te bang is vir verwerping wanneer ons nie aan daardie verwagtinge voldoen nie. As ons maskers dra verloor ons ook wie en wat God ons gemaak het om te wees, insluitende ons talente. In die proses om te wees wat die wêreld van ons verwag, onderdruk ons dalk ons gawes en passies –  en waarskynlik ons eie geluk.

My wens is dat ons almal sonder maskers sal leef en die wêreld sal toelaat om te sien wie en wat ons is – of dit nou aan die wêreld se standaarde voldoen of nie. Ons moet ook nie skroom om ons pyn en hartseer te openbaar nie. As ons sonder maskers leef en mekaar sonder ons maskers aanvaar, sal dit nie nodig wees om voor te gee jy is in beheer van jou lewe en die dag as die masker te swaar word om te dra, 'n selfmoordpoging kos om hulp te kry nie.  As dit vir die wêreld aanvaarbaar was om te weet dat hulle nie 'n gelukkige gesin was nie, was hulle dalk nou nog 'n lewende gesin.

Monday 11 July 2011

Deur die venster van myself

Ek is 'n gereelde besoeker van deavondurenvanjoost en ek geniet sy foto's baie. Daar is egter een foto wat hy in Junie gepubliseer het waarna ek keer op keer terugkeer omdat dit my aan die dink gesit het. Met Joost se toestemming plaas ek dit hier en deel 'n stukkie van hoe ek dit sien.


Hierdie foto het my baie laat dink aan hoe ons na die wêreld, na mense en na aangeleenthede kyk. So dikwels is ons vasgevang in ons eie lewe, ons eie dinge en ons eie denke dat ons nie dinge buite onsself sien soos dit werklik is nie.

Ek weet my bogenoemde stelling is baie beredeneerbaar en dat 'n mens dit doodeenvoudig persepsie kan noem. (Ek weet ook dat dit sekerlik baie teenstrydig is om my siening oor persepsies te deel, want dit is immers net my persepsie.)

Hierdie foto het my egter daaraan laat dink dat ons soms ons eie persepsies moet ondersoek om seker te maak ons denke is nog in ooreenstemming met die werklikheid.

Kom ons was gereeld ons vensters, sodat ons dinge kan sien soos dit werklik is. Ons moet dit doen sodat ons nie 'n vuil kol op ons eie vensters sien dink dit is eintlik op die venster aan die oorkant is nie. (Dit laat my ook 'n bietjie aan die Bybelse analogie dink van dat ons eers die balk uit ons eie oë moet verwyder.)

Net so voel ek dat wanneer ons deur die hortjies van ons eie vensters kyk, ons mense en dinge in boksies plaas waar hulle nie hoort nie. Kom ons skuif die venster sommer heeltemal oop sodat ons die groter prentjie kan sien.

Friday 01 April 2011

Aprilgek

Vanoggend maak ek Nuus24 oop en lees die berigte se opskrifte om te kyk watter een hul Aprilgek-grappie vir 2011 is.  Ek kom toe op die berig af oor die boetes wat vir vuil motors gehef gaan word (sien Boetes kom vir vuil motors).

Wat my meer amuseer as die flou grappie, is hoe ernstig mense dit opneem. Die kommentaar op die berig gaan alles oor hoe belaglik dit is en dat die regering eerder op dienslewering moet fokus en dat dit net 'n geldmaakstorie is. Dalk is dit 'n bewys van hoe mense vaskyk in dat wat verkeerd is in die land, dat hulle nie grappie kan raaksien as hulle dit lees nie.

Nuus24 behou die reg voor om elke persoon se kommentaar te modereer en ek reken dit is die rede waarom my kommentaar (April fool!) nie opgelaai is nie – hulle wil waarskynlik eers nog 'n paar humeure en reaksies ontlok.

Friday 25 March 2011

Ek kyk op na die berge

Ek is al twee (baie besige) weke agter die tyd met wat ek al wou en moes skryf. Dis juis my besige, gejaagde lewe, wat my weer laat terugdink aan die heerlike, rustige en ontspanne naweek van twee weke gelede waaroor ek wil skryf.

Dit was naweek wat ek iets van die Psalmdigter se ervaring beleef het. Ek het opgekyk na die berge en geweet waarvandaan my hulp kom. My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Ek het die grootheid van die berge aanskou en die pragtige natuur ingedrink – en ek weet dat die Almagtige God, wie se grootheid maar net deels in die pragtige berge manifesteer, my hulp is. (Daar is ook soveel ander wonderlike werke waarin ek Hom daagliks sien en mee geseën word.)

Dit was 'n naweek waar ek midde-in hierdie pragtige grootheid sommer net kon lees en ontspan, na die mooi natuur en veral die amfiteater kyk, en lekker saam met my Liefie en goeie vriende kuier. Ons het die heerlike voorreg gehad om in die Mahai Kamp van die Royal Natal National Park te gaan kamp.

Ons het ver gery, ons op slegte paaie met baie padwerke bevind; Sondagoggend het ons in reënweer kamp opgeslaan voor ons weer die terugtog aangepak het, maar die kort rukkie het my batterye herlaai en herinner waar my hulp vandaan kom.

Thursday 27 January 2011

Angela's Ashes

Vanaf dag een wat ek my skoonma ontmoet het, weet ek dat haar gunstelingboek van alle tye Angela's ashes is. Ek weet dat sy haar nie die lewe sonder die boek kan indink nie. En ek weet dat sy wil hê almal wat sy ken moet die boek lees. Dit is waarom sy nog 'n kopie van die boek gekoop het en vir my gegee het om te lees.

Ek het die boek met 'n verwagting begin lees – 'n verwagting aan 'n wonderlike storie wat briljant geskryf is. Wat ek gevind het, is een van die neerdrukkendste boeke wat ek nog gelees het. Daarmee saam is dit egter ook fassinerend, hartverskeurend en brutaal eerlik teen 'n agtergrond van armoede en swaarkry. Angela's ashes is Frank McCourt se memories van sy grootwordjare tydens die depressie en oorlog in 'n land (Ierland) wat in die wurggreep van tradisie, toenemende armoede, werkloosheid en die Katolieke kerk staan.

Die armoede, die swaarkry, die honger, die vuil klere en die stukkende skoene ruk aan my hart. Die feit dat 'n seuntjie van kleins af moes pa staan vir 'n gesin en moes steel om kos op die tafel te kry, is net so verkeerd. Daar is 'n toneel waar die gesin van vyf persone 'n eier ('n eier!) deel en ek kan my dit nie indink nie. Tog besef ek dat dit in daardie tyd die realiteit in Ierland was. Dit laat my met dankbaarheid kyk na wat ek het en hoe maklik ek dit eintlik in die lewe het.

Die rol wat die Katolieke kerk in die boek (en in werklikheid) speel, maak my met tye briesend! Na sy eerste nagmaal, sê Frank dat hy nou amptelik deel van die ware geloof en amptelik 'n sondaar is, die gedagte aan sy sonde laat hom altyd voel dat hy verdoem is. Op 'n keer het hy vir meer as 'n jaar nie sy sonde aan die priesters bely nie, omdat hy te skaam was daaroor en die kerk het hom so geïndoktrineer dat hy dikwels vas geglo het hy is reguit op pad hel toe daaroor. Vir meer as 'n jaar lank loop hy met 'n berg op sy skouers rond by die gedagte aan sy verdoeminis. Wanneer hy wel op 'n keer sy sonde wou bely, word 'n deur in sy gesig toegemaak. Ek wil nie ander denominasies of gelowe afpraat nie, maar die boek het my weer laat besef hoe geseënd ek is om enige tyd, enige plek direk met my God te kan praat.

Na Frank se 19de verjaardag het hy genoeg geld bymekaar gemaak en gaan Amerika toe.  Dis ook waar die verhaal eindig – by sy eerste aand in Amerika. Die verhaal het my tog met 'n verwagting en 'n hoop gelaat dat daar vir hom 'n beter lewe gewag het. En dit klink vir my of dit wel die geval was. Ek lees op Wikipedia dat hy later aan die New York University gegradueer het, hy het op 66-jarige ouderdom begin skryf en verskeie pryse vir sy werk ontvang voor hy in 2009 oorlede is.

Angela's ashes is nie 'n mooi storie nie, maar dis 'n wonderlike verhaal en ek kan verstaan waarom my skoonma so gek oor die boek is.

Friday 07 January 2011

Life of Pi

Dit het my byna 'n maand geneem om die eerste 50 of so bladsye van Yann Martel se Life of Pi te lees, maar toe ek eers by die deel kom waar die hoofkarakter, Pi, saam met 'n Bengaalse tier op 'n reddingsboot beland en vir 227 dae om oorlewing veg, kon ek nie die boek neersit nie.
                                      
Pi is die enigste oorlewende van 'n skip wat gesink het, en Japannese amptenare luister na sy storie om die rede waarom die skip gesink het, te bepaal. Eers vertel hy van al die diere wat saam met hom op die reddingsboot was en hoe hy en Richard Parker (die Bengaalse tier) oorleef het en hoe die ander diere mekaar uitgemoor het. As hulle hom nie glo nie, vertel hy nog storie. Die keer was hy saam met drie ander mense op die reddingsboot, en is dit net hy wat oorleef, omdat die mense mekaar ter wille van oorlewing uitgemoor het.

Life of Pi is 'n verhaal wat my beide vermaak en verstom het; dit is 'n fantasie-avontuurverhaal waarin Pi, 'n Indiese seun, kwessies soos spiritualiteit en realisme van 'n jong ouderdom af ondersoek. Ek dink die boodskap van die verhaal het iets te doen met die manier waarop stories vertel word en die manier waarop jy na jou wêreld kyk en dit ervaar teenoor die werklikheid. Pi se eerste storie was baie minder geloofwaardig as sy tweede storie, maar tog was dit die verkose een omdat dit meer verbeeldingryk was.

Vir my sê dit iets van hoe 'n mens se verbeelding ware ontvlugting van die werklikheid kan wees, maar dat as jy op God gefokus bly, nie nodig het om van die werklikheid te ontvlug nie, omdat Hy jou keer op keer sal laat oorleef in moeilike omstandighede. Dit is 'n triomfantlike storie wat jou, soos Pi dit op een plek stel, in God sal laat glo.

Monday 27 December 2010

My gunsteling vakansiestorie

16 Desember: Geloftedag; Versoeningsdag; vakansiedag; en bowenal, my gaan-op-vakansie-dag!

Vroegoggend spring ons in die pad, maar dit gaan stadig – soos wat ons deur Johannesburg ry, stortreën dit so erg dat ons skaars in die pad kan sien en dit die rit gevaarlik maak. Teen die tyd dat ons 'n koffiestop in Kroonstad maak, bedaar die reën uiteindelik. Kort na ons weer begin ry stop die verkeer skielik. Na ongeveer 'n halfuur se stilstaan (in so 'n mate dat ons die motor kon afsluit), begin die verkeer weer vloei en ry ons verby 'n bus wat op sy sy lê. Later sou ons oor die radio hoor dat die bus vir 'n vragmotor uitgeswaai en omgeslaan het. Een persoon is oorlede en vyf-en-veertig beseer. My hart breek, maar ek is baie dankbaar dat ons sover veilig gehou is.

Later, anderkant Bloemfontein, staan die verkeer weer. Die keer het een vragmotor in 'n ander een vasgery. Weer sluit ons die motor vir ongeveer 'n halfuur af terwyl ons wag dat die ongelukstoneel opgeruim word. Ons lei af dat daar ernstige beserings was, want 'n helikopter neem mense weg. Weereens is ek hartseer oor wat gebeur het, maar die dankbaarheid oor ons eie veiligheid wel weer in my op. Op daardie oomblik bid ek ook in my hart vir almal op die paaie en dat ons nie nog ongelukke sal teëkom nie.

'n Entjie voor Drie Susters begin die aankomende verkeer hul ligte flits en die vragmotor voor ons slaan remme aan. My hart sak sommer en ek begin hoop en bid dat hierdie ongeluk nie 'n ernstige een is nie.

Maar dan, tot my groot verbasing, sien ek waarom die verkeer opgehou word – en my hart word lig en warm oor mense wat die natuur voorkeur op die pad gee. 'n Reuseskilpad is besig om oor die pad te stap en dit is waarvoor die verkeer op die N1 opgehou word.

Dit was 'n aanskoulike gesig en ten spyte van 'n wonderlike vakansie saam met familie, 'n heerlike troue, rondry in die pragtige natuur en tussen die wynlande, bly die skilpadstorie een van my gunstelinge vir hierdie vakansie.

Monday 13 December 2010

Boeke

My leeservaring het onlangs handomkeer verander. Ek het hierdie jaar my Kersgeskenk vroeg gekry en dis een van die beste geskenke ooit! My Liefie het vir my 'n Elenox eReader gekoop en ek geniet my nuwe speelding  baie.

Ek het pas my eerste boek daarop klaar gelees (Long time coming van Robert Goddard). Ek is mal oor hoe gerieflik die eReader in my handsak pas en dat ek soveel boeke as wat ek wil kan saamneem op vakansie sonder dat ek oor spasie aangespreek word. Alhoewel dit aanvanklik vreemd voel om nie hoef om te blaai nie, maar bloot 'n knoppie te druk, kom 'n mens gou in die ding en ek kan nie wag om elke keer my volgende boek op die internet uit te soek nie.

In 2010 het ek ongelukkig harder gewerk en minder gelees as in die verlede, maar ek deel graag my leeslys vir die afgelope jaar.

1.      The Zahir – Paulo Coelhoe
2.      Wie met vuur speel – Deon Meyer
3.      A beggar at the gate – Thalassi Ali
4.      A quilt of dreams – Patricia Schostein
5.      The girl with the dragon tattoo – Stieg Larsson
6.      The girl who played with fire – Stieg Larsson
7.      The girl who kicked the hornet's nest – Stieg Larsson
8.      The help – Kathryn Stocket
9.      Seisoen van sonde – Chris Karsten
10.   Abel se ontwaking – Chris Karsten
11.   Valeria's last stand – Marc Fitten
12.   Plaasmoord – Karin Brynard
13.   Committed – Elizabeth Gilbert
14.   The book thief – Markus Zusak
15.   Long time coming – Robert Goddard

Dit is baie moeilik om gunstelinge uit so 'n groot verskeidenheid boeke en outeurs te kies: Die Stieg Larsson-triologie staan as gevolg van die boeiende storielyne en skryfstyl uit; The book thief staan uit as een van die mooiste boeke wat ek nog ooit gelees het en 'n boek wat ek graag vir almal wat ek ken wil aanbeveel; Karin Brynard se boek is so aktueel en relevant tot ons samelewing dat 'n mens kan identifiseer met dinge wat op die oomblik in Suid-Afrika aan die gang is; Chris Karsten se boeke is op plekke nogal grusaam, maar ek kon dit net nie neersit nie; dan was daar ook die feel good boeke soos A quilt of dreams en Valeria's last stand; en Elizabeth Gilbert se wyshede oor die huwelik.

Boaan my lys van vakansieboeke (en reeds op my eReader gelaai) is Yann Martel se Life of Pi, wat ek nie kan wag om te begin lees nie.

Ek hoop elkeen wat hier lees het die afgelope jaar soveel vreugde uit boeke geput as wat ek daaruit gekry het en mag 2011 se leerervaring vir elkeen met die mooiste boeke wat ooit geskryf is, gevul word.

Monday 29 November 2010

The Book Thief

"Markus Zusak has not really written "Harry Potter and the Holocaust." It just feels that way. "The Book Thief" is perched on the cusp between grown-up and young-adult fiction, and it is loaded with librarian appeal. It deplores human misery. It celebrates the power of language. It may encourage adolescents to read. It has an element of the fanciful. And it's a book that bestows a self-congratulatory glow upon anyone willing to grapple with it."

So beskryf New York Times een van die wonderlikste boeke wat ek nog gelees het. Markus Zusak se The Book Thief speel voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland af en vertel die storie van Liesel Meminger, 'n kind in pleegsorg wat buite Munich woon. Liesel verbeter haar karige bestaan deur by elke moontlike geleentheid iets te steel wat sy nie kan weerstaan nie – boeke. Haar pleegpa help haar om te leer lees en sy deel haar stories met die bure tydens lugaanvalle en met die Joodse man wat in hul kelder wegkruip.

Die verhaal word uit Dood se oogpunt vertel en gebruik die wonderlikste metafore. Oor die verhaal self wil ek egter nie juis veel meer sê nie, maar wel oor wat dit van die waarde literatuur en menslikheid sê.

Vir Liesel was boeke haar ontsnapping uit haar omstandighede; dit was wat haar en haar pleegpa aan mekaar gebind het toe hy haar geleer lees het; haar verhouding met die burgemeester se vrou het hieruit ontstaan omdat sy Liesel in haar biblioteek toegelaat het; en die boeke wat Max (die Jood wat hulle tydens die oorlog versteek het) vir haar geskryf het, was 'n groot kosbaarheid in Liesel se lewe. Verder het sy ook besef dat dit woorde was wat die land onder Hitler en die Nazi-party se heerskappy gehou het.

Ek dink die feit dat woorde (letterlik aan die einde) Liesel se oorlewing was, is wat die verhaal vir my so kosbaar maak. Ek het self so 'n groot liefde vir woorde – ek verslind een boek na die ander; my werk behels woorde en sinne; en dan probeer ek self ook af en toe 'n paar woorde saamvoeg tot iets sinvols. Woorde is so dikwels ook my ontsnapping van die werklikheid of selfs uiting van my kreatiwiteit.

Die verhaal vertel verder oor die tweestrydigheid in ons as mense. Dit beskryf menslikheid as beide brutaal en pragtig. Brutaliteit word duidelik gestel in aaklige oorlogsdade en veral die behandeling van die Jode. Hierdie voorbeelde word egter dikwels teëgestaan in die vriendelike en simpatieke optrede en gebare van die hoofkarakters.

Dit laat my so baie aan ons eie samelewing dink. Aan die een kant probeer ons altyd goed doen deur mense fisiese en emosioneel ondersteun, maar aan die ander kant is geweld en misdaad baie werklik en deel van ons daaglikse lewe. Dalk het dit tyd geword dat ons met ons woorde begin om die mooi deel van menslikheid uit te leef.

Hier is een van my gunsteling voorbeelde van die wonderlike manier waarop Zusak die verhaal vertel (bladsy 389): Before they proceeded to their respective homes, Rudy's voice reached over and handed Liesel the truth. For a while, it sat on her shoulder, but a few thoughts later, it made it way to her ear.

Monday 08 November 2010

Dankbaarheid

Die meeste mense sal saamstem dat dankbaarheid belangrik is om positief te wees. Dankbaarheid laat ons die sonskynkant van die lewe sien, wat ons positiewer mense maak. Ongelukkig kyk ons so dikwels vas in dit wat ons nie het nie, in plaas van wat ons het en kla ons in stede daarvan om dankbaar te wees. Ek het reeds 'n paar maande gelede oor dankbaarheid en hoe ons dit aan God kan bewys, geskryf. Vandag se skrywe maak egter nie die vorige tot niet nie, ek kyk bloot met 'n ander oog na die onderwerp.

Ek het vanoggend 'n artikel gelees wat handel oor 'n studie oor die inkomste van Suid-Afrikaners. Volgens die studie verdien ongeveer 24 miljoen volwassenes (uit 'n volwasse bevolking van ongeveer 32 miljoen) 'n inkomste van R50 000 en minder per jaar. Dit is skaars meer as R4 000 per maand en kan nie help om te wonder hoe mense daarmee oorleef nie.

Die nommer 1 vyand van dankbaarheid is waarskynlik om dinge as vanselfsprekend te aanvaar; deur dit te doen, vergeet ons hoe ons lewens sou wees as die dinge nie gehad het nie. Die artikel het my opnuut laat besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Ek verdien nie derduisende nie, maar genoeg om 'n veilige en warm huis te hê, genoeg om 'n betroubare motor te besit en nooit te wonder of daar kos op die tafel gaan wees nie, en ook genoeg om af en toe mooi skoene of handsakke of 'n ander luuksheid aan te skaf.

Vir al die materiële dinge wat ek het en kan bekostig is ek regtig baie dankbaar, maar daar is ook baie ander nie-materiële dinge waarvoor ek baie dankbaar is. Soms kyk ons so vas in die materiële dinge wanneer ons dink aan die dinge waarvoor ons dankbaar is, maar ek hoop nie ons kyk ooit die nie-materiële dinge mis nie. Dit is tog immers die nie-materiële dinge in ons lewens wat ons werklik vervul.

Hier is die top 10 nie-materiële dinge waarvoor ek baie dankbaar is en wat my lewe verryk:

  1. God in my lewe – ek is so dankbaar dat my ouers my kleins af van Hom geleer het en dat ek daagliks Sy seën en liefde kan beleef.
  2. My man – hy het integriteit, is liefdevol, geduldig en 'n wonderlike mens. Ek is baie dankbaar en bevoorreg om my lewe met hom te deel.
  3. Ek is dankbaar dat ek my geloof sonder enige vervolging kan beoefen.
  4. My vriende en familie is altyd net 'n oproep ver en altyd daar vir ondersteuning en met raad.
  5. Geletterdheid – ek is baie dankbaar dat ek kan lees en skryf. Die idee dat daar mense is wat uitmis op al die wonderlike boeke wat geskryf is, maak my baie hartseer.
  6. Al die werke wat ek nog ooit gehad het – al was ek nie altyd ewe gelukkig nie, het ek by elke plek waar ek nog gewerk het, baie geleer en het dit my professioneel en emosioneel geskaaf om vandag in 'n pos te wees wat ek baie geniet.
  7. My pa wat my die waarde daarvan geleer het om mense in die oë te kyk en altyd so op te tree dat ek dit met vrymoedigheid kan doen.
  8. Mooi sonsondergange en reën aan die einde van 'n warm dag.
  9. Goeie gesondheid en dat ek volle gebruik van elkeen van my liggaamsdele het.
  10. Die vooruitsig van vakansie – ek is dankbaar vir die tyd wat ek saam met my man gaan spandeer en dat ek Kersfees saam geliefdes gaan vier.
Dalk het dit tyd geword om elke keer as jy vir iets in jou lewe wens, eerder daardie gedagte met 'n gedagte aan iets waarvoor jy dankbaar kan wees, te vervang.