Tuesday 25 August 2009

'n Nuwe seisoen

'n Maand gelede was dit nog donker as ek soggens by die werk kom.
'n Week gelede was dit nog skemer.
Vanoggend is dit lig!

Die draai van die seisoen bring 'n opgewondenheid in my. Nie net oor die lente en somer wat voorlê nie, maar ook die nuwe seisoen van lewe.

Die eerste daarvan is ons nuwe nessie! Eindelik het ons die regte een gevind. Na sowat twee maande waarin ons naweke spandeer het om agter agente en skouhuise aan te ry, het ons eindelik die perfekte plek gekry.

Dis met diepe dankbaarheid en groot opgewondenheid dat ons uitsien na 'n nuwe seisoen van lewe.

Friday 14 August 2009

Dis heerlike lente!

'n Kollega het vanoggend vir my 'n bossie affodille gebring. Sy sê dit is altyd vir haar so 'n groot vreugde as sy hulle sien, want dan weet sy: die lente is hier!

Dankie dat jy my dag gemaak het en die lente ook in my kantoor laat blom!





Thursday 13 August 2009

Baby, as ek verby ry

Dit is 'n reël uit Klopjag se Stof en ook die naam van 'n vertoning deur Dana Snyman en Klopjag.

Dana Snyman is seker een van Suid-Afrika se gunstelingskrywers. Hy het al vir Beeld, Huisgenoot en Weg! geskryf en bundels met sy stories uitgegee. Dana het ook al verskeie toekennings vir sy werk ontvang.

Hy het onlangs die volgende aanhaling in een van sy skrywes gebruik en ek dink dit is presies wat hy doen - hy pas die stories op wat na sy kant toe kom en deel dit dan.

"The stories people tell have a way of taking care of them. If stories come to you, care for them. And learn to give them away where they are needed. Sometimes a person needs a story more than food to stay alive." Dit kom uit 'n essay wat Barry Lopez, 'n Amerikaanse skrywer, geskryf het.

Tydens die vertoning, Baby, as ek verby ry, het Dana sy stories vertel – die van sy Valiant en 'n hele paar uit sy kinderdae as pastoriekind. Tussendeur sy vertellings het Klopjag van hul bekende liedjies gesing. Dit was 'n puik vertoning wat ek baie geniet het.

Tuesday 11 August 2009

Gelukkige verjaardag!

Ons het die naweek die groot voorreg gehad om my pa se sestigste verjaardag te vier. En ek wil net weereens sê: Baie geluk met pappie se verjaardag; mag daar nog wonderlike jare voorlê.

As klein dogtertjie het ek my pa as 'n superhero gesien.
Want my pa kan alles doen.
Hy kan enige iets maak en hy kan enige iets regmaak.
Hy sal selfs sy bes doen om 'n nerfaf knie of stukkende hart te red.

Nou dat ek groot is, weet ek dit is alles waar.
My pa is regtig 'n superhero en daar is niks wat hy nie vir sy gesin sal doen of opoffer nie.

Dankie, Pappie.

Ek weet dit gaan oor my pa, maar ek wil graag ook my ma betrek, want ek dink hulle maak 'n ongelooflike goeie span.
Dankie vir die opvoeding wat julle ons gegee het.
Dankie dat julle ons volgens Bybelse beginsels grootgemaak het.
En dankie dat julle ons die waarde van eerlikheid en integriteit geleer het.