Tuesday 30 January 2007

koebaai

'Dis hartseer. Maar dis goed so, want dit beteken dis was spesiaal'.

Dit was 'n vriendin se woorde toe sy gister gegroet het voor sy met 'n nuwe hoofstuk in haar lewe begin. En dis vir my so mooi manier om die hoofstuk wat sy pas afgesluit het te beskryf.

Baie sterkte met dit wat jy aanpak - ek glo jy gaan nog groot hoogtes bereik.

Friday 26 January 2007

Julie & Julia ...en ek

Ek het pas Julie Powell se boek Julie & Julia klaar gelees. Dit gaan oor Julie Powell wat besluit om Julia Child se Master the Art of French Cooking binne een jaar ‘deur te kook’. Julia skryf dan elke dag op haar blog om haar vordering met die selfopgelegde taak te monitor. Op hierdie blog skryf sy oor elke resep wat sy maak, haar suksesse en mislukkings en die boek is ‘n memoir van die projek. Daar is plekke waar dit blyk dat sy nie meer kans sien vir die projek nie, maar dan herinner sy haarself aan die mense wat haar blog lees en haar vordering daarmee dophou. Net soos wat so baie mense elke dag haar blog gelees het om te sien hoe sy vorder, kon ek ook nie haar boek neersit tot ek weet of sy die gemaak het of nie.

Ek staan verwonderd oor hoe sy die projek aangepak het en daarmee volgehou het. En ek wens ek kon so iets doen. Ek kan nie eers by my voorneme hou om elke dag iets kreatief te doen nie. Sedert ek op
12 Oktober verlede jaar myself voorgeneem het om elke dag vir die res van 2006 iets kreatief te doen, het ek net enkele kere so ver kom om iets te skryf en net twee keer iets met krale gemaak (waarvan die een keer was omdat iemand my gevra het om vir haar iets te maak). Verder het ek geen pogings aangewend nie – ek het nie eers aan ‘n verfkwas gevat nie; ek het nie daaraan gedink om iets te hekel nie; en toe ek onlangs toe ek by die dieretuin was, het ek skaars my kamera uitgehaal...’n geleentheid wat soveel foto-moontlikhede kon bied.

Dalk moet ek ook met een of ander projek begin om myself te dwing om kreatief te wees. Al is dit ook net om ten minste een keer per week iets vir myself te doen wat my sal inspireer om my pen of verfkwas weer op te neem. Dalk help dit om iets in ‘n groep te doen – soos die tyd toe ek kunsklasse geneem en myself so gedwing het om ten minste een keer per week myself te verloor in ‘n see van kleur en tekstuur. (Ek het ook gevind dat ek in daardie tyd ook baie meer inspirasie gehad het om te skryf of nuwe resepte uit te toets.) Ek dink onwillekeurig ook aan my ouma se ‘naaldwerkgroepie’ – dit bestaan uit ‘n paar ou tannies wat een keer per week by iemand se huis bymekaar kom en elkeen bring haar naaldwerk saam. Vir een is dit dalk die trui wat sy vir ‘n kleinkind brei, vir ‘n ander die skinkbordlappie wat sy met kruissteek uitwerk, terwyl ‘n ander een iets borduur wat sy wil inskryf vir die VLU-kompetisie. Wat dit ookal is, hierdie samekoms (waar dit ook oor tee en koek en skinder gaan) dwing elkeen om tyd te spandeer om iets kreatief te doen.

Ek wil nie weer so in die openbaar (op my blog...) die voorneme maak om wel meer kreatiewe goed te doen nie, maar ek gaan wel die voorneme maak om te probeer. Want eintlik kan ek nie wag om weer ‘n canvas met olieverf te vul of ‘n armband van helder krale te maak nie.

Julie, aan die einde van jou boek se jy dankie aan Julia, vir die inspirasie wat sy vir jou was; dat jy net gehoop het om te leer kook maar soveel meer daaruit gekry het. Ek wil vir jou dankie se, want jy het my, en ek is seker ook baie ander, geïnspireer.

Wednesday 24 January 2007

The Road Not Taken

Vir’n baie lang tyd het ek myself op die more travelled pad bevind omdat ek diè een gekies het toe ek voor die vurk in die pad gestaan het. Soms het spyt my oorval juis omdat ek geweet het ek kan nooit teruggaan en oorkies nie. Maar ek het geweet dat ek die pad wat ek gekies het, moet stap en steeds die dinge rondom my moet raaksien (anders sou ek ook nooit die volgende vurk gesien het nie).

Gelukkig, soos die lewe maar maak, was daar weer 'n vurk (en het ek dit raakgesien). Diè keer kon ek kies om die een te vat wat by die less travelled pad aansluit. Dis so ongelooflik bevrydend om te weet dat al sal ek nooit die eerste deel van hierdie pad sien nie, ek uiteindelik op hom is! En dit maak die groot verskil.

Hierdie bevrydende keuse in my lewe het my laat besef hoe belangrik elke besluit is, omdat jy nooit kan teruggaan nie en nie weet wanneer jy eers weer ‘n afdraai-paadjie sal kry nie. En opnuut besef ek hoeveel van hierdie waarheid Robert Frost besef het toe hy in 1915 geskryf het
Two roads diverged in a yellow wood…

Wednesday 10 January 2007

Kinds of love

Marcia said, ‘I came because I care about you desperately. Even if you and I aren’t going to stay together, I still want to know that you’re safe. I still want to know that you’re happy.’

She looked up. Her voice came out as a brave, tearful gasp. ‘Yes’, she said. I know. It’s wonderful, isn’t it? Wonderful how many different varieties of love there are. There are as many different varieties of love as there are candies in a sweetshop. I think you and I had the kind that tastes very, very sweet while it lasts, but melts away before you realise it’s gone. Fondants, isn’t that it? Strawberry fondants. It’s a pity we didn’t have the barely sugar. It doesn’t taste so sweet, but it lasts almost forever.’


Graham Masterton
Maiden Voyage
(p416 – 417)

Monday 8 January 2007

Terwyl ek weg was...

Hierdie posting sluit twee van die goed in wat ek geskryf het terwyl op vakansie was en nie tyd gehad het om te post nie. Ek het ook ‘n paar ander goed geskryf, maar net nooit daarby uitgekom om dit te tik nie ... dus maak daardie goed dit nie tot hier nie.

Nuwejaar
1 Januarie 2007

Vir die eerste keer in baie jare is ek nie te veel gepla oor die begin van die nuwe jaar of die einde van die vorige nie. Vir die eerste keer in baie jare doen ek nie intensiewe retrospeksie oor die jaar wat verby is; introspeksie oor myself; of vooruit beplanning oor die nuwe jaar nie.

Twee mense het baie spesifiek uitgevra oor my planne vir die 2007...my antwoord vir beide was dat ek die jaar gaan vat soos dit kom sonder te veel beplanning. My enigste voornemens is om elke oomblik van die goeie wat my kant toe kom in dankbaarheid te geniet; en die slegte wat na my toe kom te hanteer soos dit kom met genade van bo.

Eerstes, besluite en Kersfees
29 Desember 2006


Na baie vroeg opstaan op 22 Desember en baie gesukkel met onbekwaamde BA-personeel op ORTIA (OR Tambo International Airport, soos daar nou na Johannesburg International Airport en voorheen Jan Smuts Internasionale Lughawe verwys word), het ons netnet ons vlug gemaak. En so begin ‘n vakansie van eerstes en besluite.

My 2006 vakansie by die see was in baie opsigte soveel anders as die meeste voor dit. Eerstens was ek op die strand – en nie net vir ‘n wandeling nie, maar ook om bietjie son te vang. Verder het ek selfs in die see geswem (wat sekerlik ‘n eerste was in die afgelope drie jaar) en gebungy by Gouritsrivier! Vir die eerste keer ooit het ek nie boek na boek verslind nie en vir die eerste keer ooit het ek ‘n vriendin saamgevat op vakansie.

Dit was voorwaar ‘n vakansie van eerstes. Maar so het ek ook ‘n persoonlike besluit geneem oor iets waaroor ek al ‘n duisend keer moes besluit... en elke keer het ek dieselfde besluit, maar net nog nooit kon ek daarby hou nie. Op ‘n manier voel ek hierdie keer is anders – maar aan die ander kant sê ek dit ook elke keer. Hierdie keer is die uitdaging egter vir my net soveel groter om daarby te hou en is ek meer vasberade om dit wel te doen. Maar net tyd sal leer hoe suksesvol ek hierdie keer gaan wees.

Kersfees bly vir my spesiaal, en soveel meer waardeer ek elke kersfees wat ek saam my familie kan deurbring. Ek het gedurende hierdie jaar te veel mense gesien wat geliefdes aan die dood afgestaan het en vir wie Kersfees hierdie jaar eintlik baie hartseer was. Daar is ook soveel mense oor die wêreld heen vir wie Kersfees ‘n tyd van depressie en eensaamheid is, en daarom waardeer ek dit en wie ek het soveel te meer. Kersfees in Hartenbos is altyd vir my spesiaal nie net omdat dit soos reeds genoem is, ‘n tyd saam familie is nie – maar Oukersaand se Kerssangdiens in die amfiteater waar duisende mense by kerslig saam die Here prys vir die wonder van Kersfees. En skielik dink ek aan ons eie Afrika-Kerslied se woorde ‘skenk ons ‘n helder somer-Kersfees, in hierdie land, o Heer’. En my wens vir hierdie land is nie net ‘n helder somer-Kersfees nie, maar ‘n nuwe jaar gevul met helderheid. Dat die helderheid van die wonder van Kersfees en die helderheid wat Gees-vervuldheid bring, elke dag met elkeen in hierdie land sal wees.