Monday 27 December 2010

My gunsteling vakansiestorie

16 Desember: Geloftedag; Versoeningsdag; vakansiedag; en bowenal, my gaan-op-vakansie-dag!

Vroegoggend spring ons in die pad, maar dit gaan stadig – soos wat ons deur Johannesburg ry, stortreën dit so erg dat ons skaars in die pad kan sien en dit die rit gevaarlik maak. Teen die tyd dat ons 'n koffiestop in Kroonstad maak, bedaar die reën uiteindelik. Kort na ons weer begin ry stop die verkeer skielik. Na ongeveer 'n halfuur se stilstaan (in so 'n mate dat ons die motor kon afsluit), begin die verkeer weer vloei en ry ons verby 'n bus wat op sy sy lê. Later sou ons oor die radio hoor dat die bus vir 'n vragmotor uitgeswaai en omgeslaan het. Een persoon is oorlede en vyf-en-veertig beseer. My hart breek, maar ek is baie dankbaar dat ons sover veilig gehou is.

Later, anderkant Bloemfontein, staan die verkeer weer. Die keer het een vragmotor in 'n ander een vasgery. Weer sluit ons die motor vir ongeveer 'n halfuur af terwyl ons wag dat die ongelukstoneel opgeruim word. Ons lei af dat daar ernstige beserings was, want 'n helikopter neem mense weg. Weereens is ek hartseer oor wat gebeur het, maar die dankbaarheid oor ons eie veiligheid wel weer in my op. Op daardie oomblik bid ek ook in my hart vir almal op die paaie en dat ons nie nog ongelukke sal teëkom nie.

'n Entjie voor Drie Susters begin die aankomende verkeer hul ligte flits en die vragmotor voor ons slaan remme aan. My hart sak sommer en ek begin hoop en bid dat hierdie ongeluk nie 'n ernstige een is nie.

Maar dan, tot my groot verbasing, sien ek waarom die verkeer opgehou word – en my hart word lig en warm oor mense wat die natuur voorkeur op die pad gee. 'n Reuseskilpad is besig om oor die pad te stap en dit is waarvoor die verkeer op die N1 opgehou word.

Dit was 'n aanskoulike gesig en ten spyte van 'n wonderlike vakansie saam met familie, 'n heerlike troue, rondry in die pragtige natuur en tussen die wynlande, bly die skilpadstorie een van my gunstelinge vir hierdie vakansie.

Monday 13 December 2010

Boeke

My leeservaring het onlangs handomkeer verander. Ek het hierdie jaar my Kersgeskenk vroeg gekry en dis een van die beste geskenke ooit! My Liefie het vir my 'n Elenox eReader gekoop en ek geniet my nuwe speelding  baie.

Ek het pas my eerste boek daarop klaar gelees (Long time coming van Robert Goddard). Ek is mal oor hoe gerieflik die eReader in my handsak pas en dat ek soveel boeke as wat ek wil kan saamneem op vakansie sonder dat ek oor spasie aangespreek word. Alhoewel dit aanvanklik vreemd voel om nie hoef om te blaai nie, maar bloot 'n knoppie te druk, kom 'n mens gou in die ding en ek kan nie wag om elke keer my volgende boek op die internet uit te soek nie.

In 2010 het ek ongelukkig harder gewerk en minder gelees as in die verlede, maar ek deel graag my leeslys vir die afgelope jaar.

1.      The Zahir – Paulo Coelhoe
2.      Wie met vuur speel – Deon Meyer
3.      A beggar at the gate – Thalassi Ali
4.      A quilt of dreams – Patricia Schostein
5.      The girl with the dragon tattoo – Stieg Larsson
6.      The girl who played with fire – Stieg Larsson
7.      The girl who kicked the hornet's nest – Stieg Larsson
8.      The help – Kathryn Stocket
9.      Seisoen van sonde – Chris Karsten
10.   Abel se ontwaking – Chris Karsten
11.   Valeria's last stand – Marc Fitten
12.   Plaasmoord – Karin Brynard
13.   Committed – Elizabeth Gilbert
14.   The book thief – Markus Zusak
15.   Long time coming – Robert Goddard

Dit is baie moeilik om gunstelinge uit so 'n groot verskeidenheid boeke en outeurs te kies: Die Stieg Larsson-triologie staan as gevolg van die boeiende storielyne en skryfstyl uit; The book thief staan uit as een van die mooiste boeke wat ek nog ooit gelees het en 'n boek wat ek graag vir almal wat ek ken wil aanbeveel; Karin Brynard se boek is so aktueel en relevant tot ons samelewing dat 'n mens kan identifiseer met dinge wat op die oomblik in Suid-Afrika aan die gang is; Chris Karsten se boeke is op plekke nogal grusaam, maar ek kon dit net nie neersit nie; dan was daar ook die feel good boeke soos A quilt of dreams en Valeria's last stand; en Elizabeth Gilbert se wyshede oor die huwelik.

Boaan my lys van vakansieboeke (en reeds op my eReader gelaai) is Yann Martel se Life of Pi, wat ek nie kan wag om te begin lees nie.

Ek hoop elkeen wat hier lees het die afgelope jaar soveel vreugde uit boeke geput as wat ek daaruit gekry het en mag 2011 se leerervaring vir elkeen met die mooiste boeke wat ooit geskryf is, gevul word.

Monday 29 November 2010

The Book Thief

"Markus Zusak has not really written "Harry Potter and the Holocaust." It just feels that way. "The Book Thief" is perched on the cusp between grown-up and young-adult fiction, and it is loaded with librarian appeal. It deplores human misery. It celebrates the power of language. It may encourage adolescents to read. It has an element of the fanciful. And it's a book that bestows a self-congratulatory glow upon anyone willing to grapple with it."

So beskryf New York Times een van die wonderlikste boeke wat ek nog gelees het. Markus Zusak se The Book Thief speel voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland af en vertel die storie van Liesel Meminger, 'n kind in pleegsorg wat buite Munich woon. Liesel verbeter haar karige bestaan deur by elke moontlike geleentheid iets te steel wat sy nie kan weerstaan nie – boeke. Haar pleegpa help haar om te leer lees en sy deel haar stories met die bure tydens lugaanvalle en met die Joodse man wat in hul kelder wegkruip.

Die verhaal word uit Dood se oogpunt vertel en gebruik die wonderlikste metafore. Oor die verhaal self wil ek egter nie juis veel meer sê nie, maar wel oor wat dit van die waarde literatuur en menslikheid sê.

Vir Liesel was boeke haar ontsnapping uit haar omstandighede; dit was wat haar en haar pleegpa aan mekaar gebind het toe hy haar geleer lees het; haar verhouding met die burgemeester se vrou het hieruit ontstaan omdat sy Liesel in haar biblioteek toegelaat het; en die boeke wat Max (die Jood wat hulle tydens die oorlog versteek het) vir haar geskryf het, was 'n groot kosbaarheid in Liesel se lewe. Verder het sy ook besef dat dit woorde was wat die land onder Hitler en die Nazi-party se heerskappy gehou het.

Ek dink die feit dat woorde (letterlik aan die einde) Liesel se oorlewing was, is wat die verhaal vir my so kosbaar maak. Ek het self so 'n groot liefde vir woorde – ek verslind een boek na die ander; my werk behels woorde en sinne; en dan probeer ek self ook af en toe 'n paar woorde saamvoeg tot iets sinvols. Woorde is so dikwels ook my ontsnapping van die werklikheid of selfs uiting van my kreatiwiteit.

Die verhaal vertel verder oor die tweestrydigheid in ons as mense. Dit beskryf menslikheid as beide brutaal en pragtig. Brutaliteit word duidelik gestel in aaklige oorlogsdade en veral die behandeling van die Jode. Hierdie voorbeelde word egter dikwels teëgestaan in die vriendelike en simpatieke optrede en gebare van die hoofkarakters.

Dit laat my so baie aan ons eie samelewing dink. Aan die een kant probeer ons altyd goed doen deur mense fisiese en emosioneel ondersteun, maar aan die ander kant is geweld en misdaad baie werklik en deel van ons daaglikse lewe. Dalk het dit tyd geword dat ons met ons woorde begin om die mooi deel van menslikheid uit te leef.

Hier is een van my gunsteling voorbeelde van die wonderlike manier waarop Zusak die verhaal vertel (bladsy 389): Before they proceeded to their respective homes, Rudy's voice reached over and handed Liesel the truth. For a while, it sat on her shoulder, but a few thoughts later, it made it way to her ear.

Monday 8 November 2010

Dankbaarheid

Die meeste mense sal saamstem dat dankbaarheid belangrik is om positief te wees. Dankbaarheid laat ons die sonskynkant van die lewe sien, wat ons positiewer mense maak. Ongelukkig kyk ons so dikwels vas in dit wat ons nie het nie, in plaas van wat ons het en kla ons in stede daarvan om dankbaar te wees. Ek het reeds 'n paar maande gelede oor dankbaarheid en hoe ons dit aan God kan bewys, geskryf. Vandag se skrywe maak egter nie die vorige tot niet nie, ek kyk bloot met 'n ander oog na die onderwerp.

Ek het vanoggend 'n artikel gelees wat handel oor 'n studie oor die inkomste van Suid-Afrikaners. Volgens die studie verdien ongeveer 24 miljoen volwassenes (uit 'n volwasse bevolking van ongeveer 32 miljoen) 'n inkomste van R50 000 en minder per jaar. Dit is skaars meer as R4 000 per maand en kan nie help om te wonder hoe mense daarmee oorleef nie.

Die nommer 1 vyand van dankbaarheid is waarskynlik om dinge as vanselfsprekend te aanvaar; deur dit te doen, vergeet ons hoe ons lewens sou wees as die dinge nie gehad het nie. Die artikel het my opnuut laat besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Ek verdien nie derduisende nie, maar genoeg om 'n veilige en warm huis te hê, genoeg om 'n betroubare motor te besit en nooit te wonder of daar kos op die tafel gaan wees nie, en ook genoeg om af en toe mooi skoene of handsakke of 'n ander luuksheid aan te skaf.

Vir al die materiële dinge wat ek het en kan bekostig is ek regtig baie dankbaar, maar daar is ook baie ander nie-materiële dinge waarvoor ek baie dankbaar is. Soms kyk ons so vas in die materiële dinge wanneer ons dink aan die dinge waarvoor ons dankbaar is, maar ek hoop nie ons kyk ooit die nie-materiële dinge mis nie. Dit is tog immers die nie-materiële dinge in ons lewens wat ons werklik vervul.

Hier is die top 10 nie-materiële dinge waarvoor ek baie dankbaar is en wat my lewe verryk:

  1. God in my lewe – ek is so dankbaar dat my ouers my kleins af van Hom geleer het en dat ek daagliks Sy seën en liefde kan beleef.
  2. My man – hy het integriteit, is liefdevol, geduldig en 'n wonderlike mens. Ek is baie dankbaar en bevoorreg om my lewe met hom te deel.
  3. Ek is dankbaar dat ek my geloof sonder enige vervolging kan beoefen.
  4. My vriende en familie is altyd net 'n oproep ver en altyd daar vir ondersteuning en met raad.
  5. Geletterdheid – ek is baie dankbaar dat ek kan lees en skryf. Die idee dat daar mense is wat uitmis op al die wonderlike boeke wat geskryf is, maak my baie hartseer.
  6. Al die werke wat ek nog ooit gehad het – al was ek nie altyd ewe gelukkig nie, het ek by elke plek waar ek nog gewerk het, baie geleer en het dit my professioneel en emosioneel geskaaf om vandag in 'n pos te wees wat ek baie geniet.
  7. My pa wat my die waarde daarvan geleer het om mense in die oë te kyk en altyd so op te tree dat ek dit met vrymoedigheid kan doen.
  8. Mooi sonsondergange en reën aan die einde van 'n warm dag.
  9. Goeie gesondheid en dat ek volle gebruik van elkeen van my liggaamsdele het.
  10. Die vooruitsig van vakansie – ek is dankbaar vir die tyd wat ek saam met my man gaan spandeer en dat ek Kersfees saam geliefdes gaan vier.
Dalk het dit tyd geword om elke keer as jy vir iets in jou lewe wens, eerder daardie gedagte met 'n gedagte aan iets waarvoor jy dankbaar kan wees, te vervang.

Monday 20 September 2010

What's in a name?

What's in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet

Met hierdie bekende woorde het William Shakespeare in die laat 1500's bedoel dat dit nie gaan oor wat iets (of iemand) genoem word nie, maar oor wat dit (die persoon) is. Dit het my laat wonder hoe belangrik die name is wat ons gekry het en wat ons vir kinders gee. Baie mense gee hul kinders sekere name omdat dit 'n bepaalde betekenis het en hulle voel daardie betekenis gaan vir die res van die kind se lewe oor hom of haar uitgespreek word.

In die Ou Testament vind ons baie name met betekenis (gewoonlik word die betekenis in 'n voetnota aangedui). In 1 Samuel lees ons dat Hanna die Here vir 'n kind gesmeek het; na haar gebed verhoor is en sy die kind in die lewe gebring het, het sy gesê: "Sy naam is Samuel, want van die Here het ek hom afgesmeek". Die naam Samuel, in Hebreeus Shemu El, beteken "God hoor". Die kind se naam was dus ’n getuienis van hoe die Here haar gebed verhoor het. Ons kry ook vandag baie name wat vir kinders gegee word as getuienis van wat die kind vir die ouers beteken – byvoorbeeld Joyce of Grace.

In die Nuwe Testament is betekenis van name nie so algemeen nie, maar die bekendste is seker waar Gabriël die nuus van haar swangerskap aan Maria bekend maak en sê dat sy Hom Jesus moet noem, omdat dit "Verlosser" beteken. Ook vandag gee ouers hul kinders name waarmee hulle 'n sekere eienskap aan die kinders wil toedig – soos Happiness of Peace.

Ek dink nie dit maak regtig saak wat ons name beteken nie (daar is ook geen verpligting in die Bybel dat name betekenis moet hê nie), maar ek dink dis lekker om te weet wat jou naam beteken. My naam beteken (soos alle afleidings van Hanna en Anna) begenadigde of begunstigde. Ek dink wanneer ek die dag 'n naam vir 'n kind moet uitdink, sal ek nie noodwendig die naam na aanleiding van die betekenis kies nie, maar wel uitvind wat die naam beteken voor ek dit aan 'n kind gee.

Bronne:

Tuesday 7 September 2010

Waar begin verantwoordelikheid?

Vir so lank as wat ek kan onthou, het my ma my verbied om soggens die huis te verlaat as my bed nie opgemaak was nie. Ek het altyd gedink dis bloot 'n poging tot netjiese kinderkamers, maar die ware rede het ek nou eers ontdek.

My ma is vir die afgelope 38 jaar 'n onderwyseres en verlede week vra sy 'n onmoontlike stout kind se ma of die kind self sy bed opmaak. Die ma antwoord half verbaas, nee, die kind maak nie self sy bed op nie.

Dit is net daar waar my ma toe haar punt maak: As die kind nie eers verantwoordelikheid kan neem om self sy bed op te maak nie, hoe sal hy ooit verantwoordelikheid vir belangriker dinge in die lewe leer? As hy verantwoordelikheid neem om sy bed op te maak (en ander huisreëls na te kom), sal hy waarskynlik later self verantwoordelikheid begin neem om skoolreëls na te kom en huiswerk te doen.

Dit gaan nie oor bedopmaak per se nie, maar daaroor om vir iets (hoe klein ook al) verantwoordelik gehou te word. Leer jou kinders verantwoordelikheid vir die klein dingetjies en maak ook seker hulle weet wat die gevolge is as hulle dit nakom of nie nakom nie. Soos ons ouer word, raak ons verantwoordelikhede groter en die gevolge het groter implikasies.

As jy nie huiswerk doen nie, moet jy detensie sit.
As jy laat tuiskom, word jy gehok.
As jy te vinnig ry, word jy beboet.
As jy nie jou elektrisiteitsrekening betaal nie, word dit afgesny.
As jy nie jou werk doen nie, kan jy afgedank word.
As jy verkeersreëls oortree, kan dit iemand se lewe kos.

Kom ons gaan kyk weer hoe ons die klein dingetjies in die lewe hanteer – as ons dalk daar 'n verandering kan maak, sal dit definitief ook 'n invloed op die groot dinge in ons lewens hê.

Monday 6 September 2010

Suurstof vir my siel

Einde Oktober verlede jaar het ons met groot opgewondenheid na ons huis getrek en daar is 'n lieflike groot grasperk. Maar dis al wat daar is. 'n Grasperk en geen tuin nie. Vir die eerste paar maande na ons ingetrek het, was daar niks anders as ons troue in my gedagtes nie en tuinmaak die laaste ding waaraan ek gedink het. Na die troue was dit winter en nou kan ons uiteindelik begin tuinmaak.

Ek geniet die tuinmaak en dit verskaf my soveel vreugde om elke dag na al my plante te kyk, elke nuwe blaartjie of knoppie te bestudeer, om te sien hoe vinnig die Azalea al oortrek was van groot helder pienk blomme en hoe klein pers knoppies aan die Yesterday, Today and Tomorrow kop uitsteek.

Natuurlik het ons ook 'n boom geplant. 'n Koorsboom (Acacia xanthophloea). (Ek sou eers later uitvind dat dit ook die boom van die jaar is).

'n Koorsboom omdat dit 'n pragtige boom is.
'n Koorsboom omdat dit inheems is.
'n Koorsboom omdat daar baie van in die landgoed is en dit lyk of hulle gelukkig in die klimaat is.
'n Koorsboom omdat die helder groen stam vir my 'n bekoring inhou.
'n Koorsboom omdat ek hulle skielik oral raak sien en bewonder.
'n Koorsboom omdat ek sien hoe graag die vinke in hulle nesmaak en ek graag iets wil gee in ruil vir die kleur en klank wat hulle na my tuin bring.

So gaan soek ek en skoonma 'n boom uit, dis nog 'n baie jong boompie, maar ons reken hy het potensiaal. Die gat word dus gegrawe, die grond bewerk met kompos en beenmeel en die boom eindelik geplant.

Na 'n paar weke moes ek met groot teleurstelling erken dat die boompie dit nie gemaak het nie. Ek was so hartseer dat my eerste boom gevrek het. Hoe is dit moontlik? Al die ander plante groei en lyk pragtig. My suurlemoenboom wat al jare in 'n pot staan is vir die eerste keer oortrek met bloeisels en klein suurlemoentjies. Wat het ek verkeerd gedoen met die koorsboom? Te min water? Te veel water? Het ek nie genoeg met hom gesels nie? En so hou die vrae aan.

Saterdag besluit my Liefie dat ek die boom moet laat gaan, maar darem nie sommer net so nie. Ons ry in verskillende windrigtings agter kwekerye aan tot ons die perfekte plaasvervanger kry.

Die boom is egter heelwat groter en lyk ook sommer sterker as sy voorganger en helder groen blare loop oral uit. Wat 'n vreugde! Ek is seker hierdie boom gaan my sommer baie plesier verskaf. 'n Spinnekop het reeds begin drade span tussen die dorings en die voëls sit reeds op sy takke en sing, en ek weet, hierdie is die regte boom op die regte plek.

As jy enigsins kan, plant 'n boom! Daar is baie redenasies oor hoekom ons bome moet plant – byvoorbeeld, die suurstof wat dit vrystel en hoe goed vir die omgewing is. Maar vir my is dit 'n nice to do, heilsame aktiwiteit, en die suurstof wat hierdie boom vrystel, is suurstof vir my siel.

Monday 26 July 2010

The Help

Ek het pas Kathryn Stockett se The Help klaar gelees. Persoonlik dink ek nie dis 'n briljante boek en 'n wonderlike storie nie, maar dit het my oor 'n klomp goed laat nadink.

Dit gaan oor drie gewone vroue in die Missippi in die 1960's. Twee swart huiswerkers en 'n jong blanke meisie wat pas teruggekeer het huis toe na sy klaargemaak het met kollege. Tuis ontdek sy dat die huishulp wat haar help grootmaak het, verdwyn het. Uit haar soeke om uit te vind wat met Constantine gebeur het, spruit haar vriendskap met Minny en Aibileen en 'n boek oor die lewe van swart huiswerkers in Missippi.

Dis hierdie swart huiswerkers se stories wat my hart aangeraak het, omdat dit in 'n baie groot mate vergelyk kan word met stories in Suid-Afrika gedurende die apartheidsera. Dis die stories van vroue wat nie vertrou word om die silwerware skoon te maak nie, maar om kinders groot te maak. Vroue wat nie hul eie kos in dieselfde yskas as die huismense mag hou nie, maar wel elke dag vir hulle moet kook. Vroue wat nie dieselfde toilet as die huismense mag gebruik nie (omdat hulle kwansuis "diseases" het), maar die kinders se doeke moet ruil.

Dit maak mos dood eenvoudig net nie sin nie! Dis vir my so hartseer. Hartseer omdat dit die waarheid is – en dat dit nie net 'n storie is wat in die sestigs in Amerika afgespeel het nie, maar iets wat tot baie meer onlangs ook in 'n groot persentasie van Suid-Afrikaanse huishoudings die geval was. En moontlik steeds in sommiges die geval is.

Maar dan kom daar ook die storie uit waar een wit vrou so dankbaar is vir haar huishulp en sê dat die vrou haar rede is om elke dag op te staan; haar help om nie dieper in haar depressie te verval nie. Daar is ook die storie van die swart vrou wat haar "baas" bystaan tydens 'n miskraam. En dis hierdie stories wat die volgende reël tot gevolg gehad het:

Wasn't that the point of the book? For women to realize, we are just two people. Not that much separates us. Not nearly as much as I'd thought.

Dit het my laat dink aan my eie huishulp en hoe ek haar behandel. Al werk Joyce net een keer per week in my huis, speel sy 'n groot rol in my huishouding. Ek is innig dankbaar vir die werk wat sy doen en kan met alle eerlikheid sê dat ek haar menswaardigheid altyd in gedagte hou wanneer ek met haar praat of haar vra om vir my iets te doen. Ek is dankbaar dat ek haar nie net kan vertel oor my familie en dinge wat met my gebeur nie, maar dat ek ook kan luister wanneer sy van haar man en kinders vertel.
Ek is dankbaar dat ons albei besef, ons is bloot twee vroue en daar is nie veel wat ons skei nie.

Thursday 15 July 2010

Let him be

Die afgelope maande het ek by 'n hele paar geleenthede gesê dat ek wens mense wil Nelson Mandela nou uitlos. Hy is 'n ou man en sekerlik moeg en ek wens mense wil hom uitlos.

Nelson Mandela het sy hele lewe aan hierdie land gewy – eers in stryd om vryheid, toe om demokrasie te vestig en nou nog as ikoon vir vryheid en toonbeeld van liefdadigheid. Ek het ongelooflik baie respek vir hom, maar glo dat hy nou in vrede sy tyd saam met sy vrou en kinders en kleinkinders wil spandeer. Hou op om hom soos 'n haas wat elke keer uit die hoed geruk kan word as Suid-Afrika of een of ander organisasie publisiteit nodig het, te behandel.

Vanoggend lees ek Khaya Dlanga se rubriek op News24 oor Madiba se verskyning by die finaal van die wêreldbeker en ek stem met heelwat van wat hy sê saam. Veral waar hy skryf:I just hope that we leave him in peace now that the World Cup is over. It is time we let him rest. He is not a mascot that needs to dragged out every time we need one.

Kort voor sy 92ste verjaardag wil ek hom gelukwens en jaar vol seën en goeie gesondheid toewens. Ek wil hom ook bedank vir wat hy in hierdie land gedoen het, maar kom ons laat hom nou met rus – hy verdien dit beslis!

Lees Khaya se hele artikel hier.

Monday 28 June 2010

Om die toekoms te sien

FlashForward is 'n televisiereeks oor die lewens van 'n aantal mense wat die vreemde gebeure wat veroorsaak het dat byna elke mens op aarde gelyktydig vir twee minute en sewentien sekondes hul bewussyn verloor het, ondersoek. Gedurende hierdie minute het almal "gesien" wat ses maande in die toekoms gaan gebeur. Die kollektiewe bewusteloosheid staan as die "global flashforward" bekend.

Die reeks gaan oor die ondersoek na die oorsaak van die gebeure, maar ook hoe dit mense se persepsies van hul lewens verander. Hoe dit mense beïnvloed om hul lewens 'n ander rigting te laat inslaan en hoe mense probeer om die toekoms (soos hulle dit gesien het) te verander. Mense raak behep met wat hulle gesien het en dit is die eerste ding wat hulle vir mekaar vra: "wat gaan oor ses maande met jou gebeur?"

Die reeks het my baie laat dink oor hoe ek op 'n flashforward sal reageer. Sal ek alles in my vermoë doen om dit wat ek gesien het te vermy of juis my lewe so inrig dat dit op die verwesenliking van my flashforward afstuur?

Ek weet nie hoe ek daarop sou reageer nie, maar ek is baie dankbaar dat daar 'n rede is hoekom ons nie weet wat die toekoms inhou nie. Ek wil nie elke dag wonder hoe dit wat ek nou doen, dit wat in die toekoms móét gebeur gaan raak nie. Ek wil nie onnodig in vrees lewe vir dit wat gaan gebeur of soveel uitsien na dit wat gaan gebeur dat dit my van hier en nou laat vergeet nie.

Ek wil vir mense vra: "hoe gaan dit vandag met jou?" Ek wil elke dag leef vir hier en nou. Dit beteken nie dat 'n mens nie vir die toekoms moet beplan nie, maar wel dat jy nie vandag spesifiek volgens die toekoms moet beplan nie.

Friday 25 June 2010

Suiwer taalgebruik

Vroeër die week was daar 'n brief op 'n plaaslike nuuswebblad oor 'n Afrikaanse sepie waarin baie swak, of dan eerder onsuiwer, Afrikaans gepraat word. Dit het baie kommentaar uitgelok. Mense het gepraat oor die invloed wat Engels nie net op Afrikaans het nie, maar op die meeste tale wêreldwyd en dat 'n mens dit maar moet aanvaar omdat dit is hoe taal ontwikkel. Dan was daar weer die puriste wat nie "opinie" en "mening" sal verwar nie, wat nou nog daarvan om "obviously" in plaas van "uit die aard van die saak" te gebruik.

Ek praat self nie so 'n suiwer weergawe van my taal as wat ek eintlik graag wil nie - en dalk kan hierdie debat vir my 'n aansporing wees om minder Engelse woorde in my gesprekke te gebruik. Wat wel vir my belangrik is, is om suiwer Afrikaans te gebruik wanneer ek skryf ; spelling is nie onderhandelbaar nie en van sms-taal wil ek nie eers praat nie. Iets anders wat my ook dwars in die krop steek, is dat die Afrikaanse musiekbedryf so verengels het. Soms is daar soveel Engelse woorde in 'n sogenaamde Afrikaanse liedjie, dat ek nie weet of dit dan wel as Afrikaans geklassifiseer kan word nie.

Hoe dit ook al sy, ek gaan vir niemand voorsê hoe om te praat nie, maar gaan self probeer om beter Afrikaans te gebruik as ek praat en beslis poog om dit so suiwer moontlik te hou wanneer ek dit skryf.

Thursday 24 June 2010

Ek glimlag wanneer ...

· my man in die middag by die huis kom
· kinders lag
· ek tyd saam met familie en vriende spandeer
· ek vars koffie ruik
· dit aan die einde van 'n warm dag reën
· die plantjies in my tuin begin blom
· daar geen probleme op die snelweg is nie
· ek 'n nuwe resep toets en dit 'n wenner is
· ek besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees
· ek ou vriende weer sien
· ek na my troufoto's kyk
· Suid-Afrikaners steeds hul vlae laat wapper, ten spyte daarvan dat Bafana nou uit die wêreldbekertoernooi is
· my man onverwags vir my 'n liefdevolle sms stuur
· ek wakker word en weet dit is naweek
· ek 'n nuwe boek koop of kry
· ek my gelukkige kinderdae onthou en na ou foto's kyk
· daar goeie nuus in die koerante is
· flieks gelukkige eindes het
· ek aan vakansievooruitsigte dink

Saturday 22 May 2010

Seënwense

Seënwense het deurentyd ingestroom.

Dit is wat jou opnuut laat besef hoeveel mense daar is wat jou liefhet en omgee. Dit is daardie wete wat jou hart warm maak en heeldag laat glimlag.

Dankie vir elke verjaardagwens en elkeen wat moeite gedoen het om my dag spesiaal te maak – ek is waarlik geseënd om soveel wonderlike mense in my lewe te hê.

Friday 21 May 2010

It's the final countdown

Die Castle-advertensie met die lied Final coutdown se musiek in die agtergrond is op hierdie stadium een van my gunstelinge en ek dink dit is baie gepas. Oor 20 dae skop die grootste sportgebeurtenis nog in Suid-Afrika af.

Ek is glad nie 'n sokkergeesdriftige nie, maar 'n opgewondenheid begin tog in my roer as ek op 'n Vrydag my geel sokkerhemp aantrek en sien hoe die vlae om my opgaan. En nie net Suid-Afrikaanse vlae nie: soos wat ek daagliks die stad in ry, pryk deelnemende lande se vlae aan lamppale. Dit spreek van trots Suid-Afrikaanse gasvryheid en verwelkoming aan die wêreld.

Ek dink nie enige iemand weet regtig wat om te verwag nie – hoe gaan dit ons verkeer raak; gaan dit net op wedstryddae probleme veroorsaak; hoeveel toeriste gaan hier wees; is Suid-Afrika gereed om die wêreld te ontvang en vele ander vrae duik op elke keer as ek 'n gesprek oor die toernooi het.

My wens is dat alle Suid-Afrikaners wat nog negatief oor die toernooi is, hul houdings binne die volgende 20 dae sal verander. Ek dink dit is 'n wonderlike geleentheid om as nasie saam te staan. Verder kan dit 'n groot inspuiting vir ons ekonomie wees – waarby almal natuurlik gaan baat, selfs die wat negatief oor sokker en die wêreldbeker is.

Gister is 'n biddag vir die toernooi gehou. Alhoewel ek nie met al die aspekte van die geleentheid saamstem nie, dink ek dat dit 'n wonderlike idee was en ek voeg ook my gebede vir die toernooi en Suid-Afrika by die wat gister daarvoor gebid is.

Dra ons land se kleure met trots en versprei positiwiteit, sodat die wêreld kan sien wat ons as 'n nasie werd is!

Wednesday 28 April 2010

Oumas

Ons het die naweek my ouma se 80ste verjaardag gevier. En wat 'n groot voorreg was dit nie om haar lewe saam met familie te vier nie! Alhoewel sy nou dag na dag in 'n rolstoel sit en tydskrifte lees, onthou ek haar as die vrou voor die stoof, wat heerlik kon kook en bak en inlê. Ek onthou dat sy altyd handwerk gedoen het en ek onthou haar sêgoed.

Ek kom staan vanoggend in dankbaarheid voor my God, haar God, vir die vol lewe wat sy so ver gelei het en dankbaarheid dat ons haar steeds by ons het.

Sy was ongelukkig te siek om ons troue by te woon, maar ek het haar besoek net voor ek kerk toe is:




Ek was ook bevoorreg om my ander ouma (binnekort 85) en my nuwe (skoon-) ouma (van 75) by ons troue te hê:



Oumas is 'n groot seën om in jou lewe te hê en ek is baie dankbaar vir die wonderlike tye wat ek steeds saam met myne kan spandeer.

Thursday 8 April 2010

Bewys van dankbaarheid

Die reëlings oor die maaltydoffer wat vir die Here aangebied word, is soos volg: as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie. Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek. Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood. Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende more nie. – Levitikus 7:11-15

My eerste gedagte by die lees van die bogenoemde gedeelte, was: sjoe, wat 'n spul voorskrifte om jou dankbaarheid teenoor God te bewys! Maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer begin ek wonder oor hoe ons vandag – lank na die Ou Testament se wettiese voorskrifte – ons dankbaarheid teenoor God bewys. Hoe doen ons dit noudat ons nie meer diere voorskriftelik hoef te slag en spesifieke brode met olie te smeer of 'n priester te kry om bloed oor die offer te sprinkel nie?

Dis so maklik om jou dankbaarheid aan mense te bewys – ek gee graag geskenke of kaartjies, vat iemand uit vir koffie of nooi hulle vir ete, vir party is 'n oproep, sms of selfs 'n glimlag genoeg as teken van 'n ander se dankbaarheid. Maar hoe bewys ek dit teenoor God?

Ek is baie dankbaar vir so baie dinge in my lewe.
Ek is dankbaar vir my verlossing en al die genade wat ek elke dag ontvang.
Ek is dankbaar vir wonderlike mense met wie ek goeie verhoudings het – my man, my familie, my vriende.
Ek is dankbaar vir my werk wat ek baie geniet en dat ek finansieel daardeur geseën word.
Ek is dankbaar vir fleksietyd wat gemaak het dat ek vanoggend tot na 7 kon slaap.
Ek is dankbaar dat ek nog nooit in my lewe nodig gehad het om honger te gaan slaap nie.
Ek is dankbaar vir 'n veilige en warm huis en 'n betroubare motor.
Ek is dankbaar vir soveel meer as wat ek hier kan opnoem.

Ek weet nie altyd hoe om my dankbaarheid teenoor God te bewys nie, maar hoop dat ek nooit sal vergeet waar my seëninge vandaan kom nie. Ek streef ook om dit wat Hy vir my gegee (maak nie saak of dit verhoudings, talente, finansies of wat ook al is nie), met wysheid aan te wend en te bestuur.

Friday 19 March 2010

SHOUT

Welgedaan!

En nog 'n "welgedaan" aan die inisieerders van die Shout Campaign!

'n Aantal Suid-Afrikaanse kunstenaars het saamgespan om die liedjie Shout op te neem en so hul stemme by die stryd teen misdaad te voeg. Die kunstenaars wat hierby betrokke is, is The Parlotones, Karen Zoid, Yvonne Chaka Chaka, Freshly Ground, HHP, Lira, Prime Circle, Hugh Masakela, The Soweto Gospel choir, Watershed, Loyiso, Steve Hofmeyer, Louise Carver, Tasha Baxter en Kurt Darren.

Dit is 'n inisiatief van die sanger Danny K in samewerking met Primedia se Crime Line. As gevolg van Crime Line se betrokkenheid teen misdaad wat ons land lamlê, is reeds 902 arrestasies gemaak. Met die opname van die liedjie word gepoog om geld in te samel om Crime Line in hul werk te help en Suid-Afrika vir ons almal 'n veiliger plek te maak.

Ek het nog altyd gedink Crime Line doen baie goeie werk en het daarom ook trots my stem bygevoeg deur R20 aan die inisiatief te skenk – en het ook nou sommer 'n splinternuwe luitoon.

Kyk op die
Shout-webblad vir meer oor die veldtog; daar is ook inligting en oor hoe om dit te ondersteun deur jou R20 te skenk en die liedjie af te laai. Kliek hier om na die video te kyk.

Wednesday 17 March 2010

Soek en jy sal vind

Ek het onlangs die film, The Number 23, waarin Jim Carrey die hoofrol speel, gekyk. Dit is 'n spanningsfilm oor 'n obsessie met die 23 Enigma. Die 23 Enigma is 'n esoteriese geloof dat alle gebeure direk aan die getal 23 verbind kan word, ook aan wysigings aan 23 en ander getalle wat met 23 verband hou.

Die hoofkarakter het 'n obsessie met 23 en oral waar hy soek, kry hy die getal of 'n verwysing daarna. Die obsessie oorheers en verwoes sy lewe. Êrens in die film vertel hy ook van 'n man wat gedroom het hy trou met 'n vrou wat rooi dra, hy het 'n vrou gaan soek wat rooi dra, haar gevind en met haar getrou. Die verhouding het nie uitgewerk nie en hulle is geskei. Toe gaan hy weer uit en begin na 'n vrou wat rooi dra soek...

Dit alles het my laat dink aan die dinge wat ons in die lewe soek (en vind!) – as jy die getal 23 soek, gaan jy dit vind en as jy 'n vrou in rooi soek, gaan jy haar vind.

Soek ons nie daagliks die slegte nuus in die koerante uit om te lees nie? Soek ons nie die negatiewe eienskappe in ander mense nie? Soek ons nie dit wat verkeerd loop in verhoudings nie? Soek ons nie die bose in die wêreld nie? Soek ons na die dinge wat die politici en regering verkeerd doen nie?

Ons soek dit. En ons vind dit. Dan oorheers dit ons lewens en verander ons in negatiewe mense wat net op die dinge wat verkeerd is fokus. Is dit nie tyd dat ons 'n "mind shift" of te wel, 'n "attitude shift" moet ondergaan nie? Is dit nie tyd dat ons die positiewe dinge en dit wat wel mooi en reg in die lewe is moet soek nie? Ek weet dat ons dit sal vind, want dit is daar, en ek glo selfs nader aan ons as wat ons dink.

Ek is seker dat deur op hierdie dinge te fokus – dit wat wel reg is – kan ons almal 'n positiewe "attitude shift" ondergaan. Dink jou net in wat 'n algehele positiewe houding vir ons land of werkplek en veral jou gesin en verhoudings kan beteken.

Ek dink dis tyd dat ons die goeie dinge begin soek en fokus op wat reg is.

Thursday 25 February 2010

Wittebrood

Dis waar wat almal sê: Jou wittebrood is jou lekkerste vakansie ooit!
Ek dink dis is waar omdat jy nie anders kan as om lekker uit te rus na al die maande se spanning van troue reël nie. Al daardie spanning en moeite en trane was egter die moeite werd, want my troue was presies soos wat ek dit wou gehad het: van die blomme, hoe die tafels gedek was, die kos, my rok en skoene en natuurlik my man! Vir my was dit 'n sprokiesdag! En ons wittebrood was net so wonderlik.
Ons het die eerste paar dae van ons welverdiende vakansie by Crystal Springs Mountain Lodge deurgebring wat nege kilometer van Pelgrimsrus, op die Rowerspas, geleë is. Van daar het ons een dag tot by God's Window en Burk's Luck Potholes gery en ons het ook by die Royal Hotel in Pelgrimsrus gaan ontbyt eet. Daarna was ons by Misty Mountain wat op die Long Tompas is en wat 'n ongelooflike uitsig oor valleie gevul met plantasies het. Die laaste paar dae het ons by Dunkeld Country Estate deurgebring wat net buite Dullstroom lê.
Elkeen van hierdie drie plekke hou op sy eie manier 'n besonderse bekoring in en die rustigheid en skoonheid van die omgewing was perfek vir 'n blaaskans. Ons het die natuur en wild baie geniet. Verder het ons baie ontspan, gelees, geslaap, af en toe 'n entjie gaan stap, heeltemal te veel geëet en mekaar se geselskap geniet.
Dis nogal 'n aanpassing om terug by die huis en by die werk te wees waar alles weer terug na normaal is. Maar dis ook lekker en ons spandeer ons tyd om ons huisie ons nessie te maak.
Hier is enkele vakansiefoto's:

The pinnacle

Dullstroom


Misty Mountain

MacMac-waterval

Burk's Luck Potholes

Wednesday 24 February 2010

Monday 8 February 2010

Beloftes en bewyse

Hier volg enkele visuele bewyse van die groot belofte wat ek en Rudolph Saterdag afgelê het.
Dit dien egter ook as belofte dat daar nog vele sulke bewyse gaan volg.


Wednesday 3 February 2010

Nog net drie slapies

...en ek kan skaars wag.

Oor drie dae trou ek met my beste vriend
die een wat my gelukkig maak
die een wat my elke dag laat lag
die een wat weet hoe om my trane af te vee
die een wat ek met my hele hart liefhet.

Ek sien uit na my droomrok
blomme en bykomstighede net soos ek dit in my gedagtes gesien het
viering saam met kosbare mense in ons lewe.

Maar meer as dit:
Ek bars van opgewondenheid om jou vrou te word en elke dag vir die res van my lewe saam met jou te spandeer.

Thursday 28 January 2010

Foto's

Hier is sommer 'n paar foto's van my bruidstee:



Weereens, dankie vir die groot bederf en stylvolle manier waarop alles gedoen is!
Julle is sterre!

Thursday 21 January 2010

Dr Seuss

Met ons neuse teen die ruit
sit ek en sus Sannie.
Ons wens ons kan uit,
maar dit reën en ons kan nie.

Hierdie vertaling van die openingsreëls van Dr Seuss se Die kat kom kuier, sal my seker altyd bybly. Dis so deel van my grootword en leeservarings as dogtertjie dat ek dit nooit sal vergeet nie. Dit kom vandag steeds telkens by my op wanneer dit voel of die reën my inperk.

Ek het die onderstaande vanoggend per epos gekry en dit het my opnuut na wonderlike grootword-herinneringe teruggeneem - en ek deel dit graag. En ek praat nou nie van die inhoud van die gedig wat my laat terugdink het nie, maar die Dr Seuss-ervaring. Ek het bietjie op die internet rondgekrap en op hierdie wonderlike webblad afgekom:
Seussville.


Geniet dit en ervaar weer die wonderlikhede wat ons kleintyd saam met die Dr Seuss ontdek het.

Monday 18 January 2010

Groot bederf!

Met net drie weke oor voor ons troudag, is ek Saterdag soos 'n prinses bederf - tot in die afgrond. Eers oor middagete deur familie, vriendinne en kollegas en die aand weer deur vriendinne.

Baie dankie aan al die kosbare vroue in my lewe wat Saterdag vir my so spesiaal gemaak het. Dankie vir almal se moeite, liefde en ondersteuning en vir my geskenke. Ek is baie dankbaar en baie bevoorreg om julle in my lewe te hê.

Ek sal binnekort 'n paar foto's van die geleentheid hier oplaai.

Monday 11 January 2010

Kleurblindheid

'n Tyd gelede lees ek 'n brief op Beeld se webblad waar die skrywer die storie van 'n kind se kleurblindheid vertel. Die verhaal gaan oor 'n seuntjie wat elke dag na skool van sy maatjie vertel, hoe lekker hulle speel en hoe hulle alles deel. Op 'n dag vra sy ma of die maatjie wit of swart is, waarop die seuntjie antwoord dat hy nie weet nie, maar die volgende dag sal kyk.

Dit het my aangegryp en my laat wens dat ons werklik in 'n kleurblinde samelewing kan leef. Die brief hou egter nie daar op nie, maar die skrywer vertel verder hoe hartseer sy is om te sien haar eie graad 3-kinders se kleurblindheid is aan die kwyn. (Lees die brief hier.)

Die brief het my baie laat dink oor my eie kleurblindheid – of gebrek daaraan.

Verlede week herhaal iemand iets wat 'n swart winkelassistent gesê het. Onmiddellik besef ek hoe ver van kleurblind af ons eintlik is. Waarom praat ons van 'n blanke persoon as "die dame wat my gehelp het", maar die oomblik wat sy swart was, sou ons sê "die swart dame wat my gehelp het" of "my swart kollega" in plaas van "my kollega"?

Ek besef met 'n skok ons is verder van waar ons wil wees as wat ons gedink het ons is. Die brief en insident is egter vir 'n my inspirasie om hierdie jaar die kleur uit verhoudings en gesprekke te probeer haal en mense bloot as "man", "dame", "persoon" te sien en nie 'n kleur aan hulle te koppel nie.

Ek voel ek moet ook noem dat die gebrek aan kleurblindheid vir my persoonlik niks met rassisme te doen het. Dit gaan oor 'n onbewuste onderskeid wat ons tref, alhoewel dit nie noodwendig ons gesindheid of die manier waarop ons iemand behandel, beïnvloed nie.

Mag elkeen in ons land hierdie jaar werklik die uitwerking van 'n kleurblinde samelewing beleef!