Tuesday 20 November 2007

Obituary

Ek wil nie eers begin tel hoeveel keer ek die afgelope maande hier oor die dood geskryf het nie. My blog begin al soos 'n obituary lyk. Daar was selfmoorde, 'n motorongeluk en gevalle waar siekte en/of ouderdom 'n rol gespeel het.

Vandag is my hart weer seer.
En dis weer ouderdom en siekte.

Die keer is dit my hond wie se lewe verby is en wat ek gaan mis:
sy onvoorwaardelike lojaliteit; en
sy swart gesiggie en logge lyfie.

Friday 9 November 2007

Barbara Jean Carter

In my vorige posting het ek geskryf:

“Vanoggend is ek geïnspireerd om 'n lang brief aan my Engeland-tannie te skryf en haar te vertel van die somer wat hier aangebreek het. Ek skryf van die reën-gewasde aarde wat die mooiste groen uit dooie takke laat kom, jakarandabome wat die strate pers kleur, en die helder blou lug op 'n wolklose dag in perfekte harmonie met die Afrika-son. En dit is net die goed wat ek deur die venster kan sien as ek opkyk vanwaar ek sit en werk. Stap ek uit op die balkon, voel ek hoe daai Afrika-son warm op my vel skyn en hoe 'n koel bries dit dan weer laaf. Buite ruik ek van een kant af die rye laventel wat die jakarandas in kleur komplimenteer, en van die ander kant af styg die soet reuk van die sering wat bo die res uit.”

Vandag weet ek dat sy nooit gedeel het in die stukkie vreugde van die skoonheid wat my daardie dag omring het nie. Sy was reeds oorlede toe ek dit geskryf het.

Sy het ‘n vol lewe gehad en dit gevul met wat ek sielsdinge noem. Sy het antikware en skilderye verkoop – haar eie galery gehad in Bond Street, Londen. Later het sy haar op die platteland gevestig in ‘n lieflike 1650 Georgian-styl huis. Ek sien in my geestesoog die donker huis met lae sleeper balke, die duursaam gestoffeerde meubels en rye skilderye en antieke kaste teen die mure. Dis nou die mure wat nie gevul is met rakke en rakke boeke nie. Sy het die meeste boeke wat ek nog ooit in ‘n privaat versameling gesien het – en oor elke onderwerp waaraan jy moontlik kan dink. Sy het (soos wat die klein dogtertjie in elkeen van ons graag wil hê) mooi klere en skoene en baie handsakke gehad.

In die enkele maande wat ek in haar huis gebly het, het ons baie baklei het – soos kat en hond. Oor kos, oor die wêreld, oor my land, oor geloof, oor TV, oor alles. Net om ‘n paar uur later weer diep lewensdinge te praat en ek my verwonder aan al haar ervarings.

Sy het so ‘n vol lewe gehad, wat my net laat besef hoeveel daar nog vir my is om aan te gryp, te sien en te beleef. Daar is so baie van haar wat ek nooit sal vergeet nie. Ek sal nie weer aan Engeland of Skotland of selfs Parys dink sonder om aan haar te dink nie Die naam Napoleon sal ook nooit weer dieselfde in my ore klink nie.

Ek het haar vier-en-‘n-half jaar gelede ontmoet, vir amper ses maande by haar gebly en in die laaste vier jaar net een keer gesien. Ons kontak was beperk tot ‘n brief in die pos so elke tweede maand en die sonderlinge telefoonoproep. Maar sy het ‘n impak op my lewe gemaak en ek sal haar altyd onthou. Na ‘n oproep gisteraand na haar vriendin en familielid, weet ek dat ek ook ‘n invloed op haar lewe gehad het. Op ‘n vreemde manier is dit vir my ‘n troos om te weet dat ek iets vir haar kon beteken; maar aan die ander kant maak dit my selfs nog hartseerder.

Tata Jean, dit was ‘n voorreg om jou te ken. Dankie dat jy ‘n stukkie van jou lewe met my gedeel het.

Sunday 7 October 2007

sielsdinge

Ek wou eers sê dis vreemd ... maar toe besef ek dis eintlik wonderlik.

Ek praat van hoe 'n aand vol sielsdinge, jou verkwik om weer die mooi raak te sien. Hoe dit jou inspireer om selfs nog meer sielsdinge te doen. Dit laat my wens ek kon vandag op 'n kombers onder 'n jakarandaboom gaan lê en na die wolke staar en die storie vertel van elke prent wat ek in die wolke sien. Dit laat my dink aan al die wonderlike geleenthede wat die lewe my bied om my eie siel te verreik.

En ek is spyt oor al die tyd wat ek mors deur:
nie die mooiste boeke wat ooit geskryf is, te lees nie;
nie 'n pakkie op te maak om 'n kinderhart te verbly nie;
nie spandeer saam ware vriende nie;
nie spandeer saam my familie nie;
nie my hande (en hare en klere) vol verf laat word nie;
nie die stilte waardeer nie;
nie my gedagtes neer te pen nie;
nie handgeskrewe briewe aan my geliefdes te pos nie;
nie die kleur rondom my raak te sien nie;
nie meer te lag nie;
nie meer te geniet nie;
en nie meer van myself vir ander te gee nie.

Vanoggend is ek geinspireerd om 'n lang brief aan my Engeland-tannie te skryf en haar te vertel van die somer wat hier aangebreek het. Ek skryf van die reen-gewasde aarde wat die mooiste groen uit dooi takke laat kom, Jakarandabome wat die strate pers kleur, en die helder blou lug op 'n wolklose dag in perfekte harmonie met die Afrika-son. En dit is net die goed wat ek uit die venster kan sien as ek opkyk vanwaar ek sit en werk. Stap ek uit op die balkon, voel ek hoe daai Afrika-son warm op my vel skyn en hoe 'n koel bries dit dan weer laaf. Buite ruik ek van een kant af die rye lavental wat die Jakarandas in kleur komplimenteer, en van die ander kant af styg die soet reuk van die sering wat bo die res uit.

(Addendum)
Skaars ‘n uur na ek alles hier bo geskryf het, begin dit reen. Katte en honde. Met elke druppel wat ek sien val, kan ek voel hoe my siel en elke hoekie van my hart skoongewas word. Die donderweer doof alles uit tot net ‘n stilte in my oorbly, ek bewus word van my eie hartklop en die gedagtes binne my.

Tuesday 11 September 2007

things i've done ... updated

Byna 'n jaar gelede het ek 'n lys van goed gepost wat ek gedoen het - ek het daardie lys vandag opgedateer. Daar is nie soveel goed wat verander het nie, maar ek het darem intussen onder andere ge-bungee jump (en was mal daaroor).

Monday 3 September 2007

Simpatie

Selfmoord bly altyd ‘n raaisel. Wat kan so erg wees dat jy nie meer kans sien om te leef nie? Was dit hier bloot die geval van iemand wat gevoel het 88 jaar op aarde was genoeg en bang is hy raak oud en sieklik en afhanklik van ander? Mens sal seker nooit verstaan wat in ‘n ander mens se gedagtes en hart aangaan en tot so ‘n drastiese besluit lei nie.

My hart gaan uit na ‘n familie wat ‘n pa en ‘n oupa en ‘n oupagrootjie verloor het. Mag julle verstroosting en berusting vind in die wete dat hy ‘n lang en vol lewe gehad het.

Thursday 23 August 2007

So verander dinge

Mens weet dis tyd vir verandering as jy in ‘n groef beland en alles voorspelbaar en gemaklik raak.

Ek het onlangs met ‘n nuwe werk begin, wat my totaal en al uit my gemaksone geruk het. Dit gaan oor veel meer as net die verandering in die tipe werk wat ek doen. Ek moet ook nuwe stelsels leer ken; nuwe bestuurstyle as gesag aanvaar; met nuwe persoonlikheidstipes oor die weg kom; aanpas by ‘n nuwe daaglikse roetine; ek word gekonfronteer met die verkeer; en ek het ander inkomstes en uitgawes wat bestuur moet word.

Die verandering in seisoen het my ‘n klomp goed laat uitgooi - goed wat rondle, goed wat my kaste en my huis vul, maar waarvoor ek geen meer nut het nie. Dis amper of ek my siel van buite af skoonmaak deur van goed ontslae te raak. Dinge wat my aan die verlede bind, moet gaan – nie omdat ek alles wat agter my is wil weggooi nie, maar mens moet die waarde van goed bepaal en aanbeweeg. Mens moet ook aanvaar dat die waarde van dinge vir jou verander soos jy van een hoofstuk na die volgende in jou lewensboek beweeg.

In sekere opsigte, voel ek skaars die veranderinge. Wat ek wel voel, is hoe dit my dwing om na ‘n klomp goed in my eie lewe te kyk soos my geduld, aanpasbaarheid, approachability en selfbeheersing. En ek is opgewonde oor wat dit in my lewe gaan meebring. Maar op die ou end is dit tog waar wat hulle se: the more things change, the more they stay the same…

Wednesday 25 July 2007

Op my laaste dag...

Op my eerste dag hier het die CEO gesê: “As jy my maatskappy as 'n stepping stone gebruik, sê ek vir jou ‘great’. Jy doen iets vir my en ek doen iets vir jou.”

Meer as drie-en-'n-half jaar later is ek op pad uit en ek sê dankie. Hierdie was meer as 'n blote stepping stone, dit was 'n leerskool. Dankie vir Mathilda wat my aangestel het en by wie ek baie geleer. Ook dankie aan Heidi, Jean, Natalie en Lynette vir wat ek by hulle kon leer.

Noudat ek my dankies gesê het, moet ek seker begin om te groet. Die afgelope week het ek geleidelik begin om my persoonlike goed huis toe te dra, maar praat daaroor? Nee. Daarvoor het ek nog nie kans gesien nie. Nou is dit onvermydelik.

Ek het soveel goeie vriende hier gemaak en die feit 'n hele klomp van hulle reeds voor my aanbeweeg het (ek dink aan Laurette, Hannes, Suretha, Elion, Natalie en Ronel), maak dit nie makliker om die paar wat agterbly te groet nie.

Eerstens elkeen in Analysis met wie my paadjie gekruis het – dankie vir dit julle tot my lewe gevoeg het. Veral Lani, Juan, Millicent (wat soos ek, al deel van die meublement geword het), Braam en Elani.

Heids en Lee, dankie vir die vele kuiers en geselsies. Sien julle gou weer op 'n Dinsdagaand by Mimmo’s.

Hester: Ons het nie baie lank saamgewerk nie, maar ek is bly dat ons wel het. Dis was 'n voorreg om jou my vriendin te kon maak.

Anneke: Dankie. Jy weet waarvoor dit alles is en ek gaan dit nie hier uitpak nie. En gelukkig weet ek daar gaan nog baie Donderdagaande met borrels en hart-tot-hart-, resepte-, patroon-, en trou-praatjies wees.

Dis darem nie net met hartseer wat ek hier weggaan nie, maar ook met mooi herninneringe en goeie vriendskappe wat altyd sal bly. En saam met die hartseer van dit wat ek agterlaat, is 'n opgewondenheid oor wat vir my voorlê en hoe dit my lewe gaan verander.

Ek groet jou MSA.



Sunday 1 July 2007

Waaroor breek 'n mens se hart?

My hart breek vandag. In derduisende klein stukkies. Trane stroom kort-kort onkeerbaar oor my wange. En het geen idee hoekom nie. Ek het geen idee wat my hart so laat pyn nie. Ek dink al heeldag aan wat dit kan veroorsaak, maar ek het net geen idee nie. Dalk is dit mense wie ek mis. Dalk is dit dinge wat ek mis. Hoe is dit moontlik dat mens net absoluut geen idee kan he wat jou hart so uitruk nie?

Dit sou more haar verjaardag wees. Haar twee-en-sestigste. Vreemd, maar ek weet vir ‘n feit dat al mis ek haar so ongelooflik baie, is dit nie die gedagtes aan haar wat my hartseer maak nie.

Ek is bang/opgewonde oor die onbekende wat voorlê, en hartseer oor dit wat ek moet agterlaat. Maar ek dink ook nie dis dit wat my vandag so ontstel nie.

Ek het die grootste deel van my dag spandeer aan James Frey se outobiografie, a million little pieces. Sy verhaal raak my aan, maar ek twyfel of dit die rede vir my pyn is.

Dalk is dit maar ‘n kombinasie van al die bogenoemde saam met die depressiewe, koue weer en ‘n hunkering in my hart na wie weet wat. En op die ou end is daar mos maar min dinge so goed vir die siel soos om ‘n slag in jou hart rond te krap en voorraadopname te doen – sonder dat jy noodwendig by antwoorde uitkom. En ‘n ordentlike huilsessie om die stowwerige hoekies skoon te was.

Thursday 28 June 2007

Ek het gister bedank!

Dit klink dalk nie na so 'n kragtige daad of groot ding nie. Maar vir my is dit. Vir beteken dit die einde van 'n era. Iets waaroor ek beide hartseer en opgewonde is.

Dis tyd om aan te beweeg. Dis tyd dat ek uit die groef en comfort zone kom waarin ek al vir so lank is. Dis tyd dat ek my pantoffels uittrek en weer my stapskoene uit die kas haal om die nuwe draaie op my pad aan te durf.

As mens so lank soos ek op dieselfde plek is, ken jy almal se giere en geite en al die kantoorpolitiek. Jy het jou vriende by die werk. Jy weet wat jy vir wie kan vra. Nou moet ek al die dinge van vooraf uitfigure.

Maar dit maak my ook baie opgewonde, want dis alles nuwe uitdagings. En daarna sien ek baie uit!

Friday 22 June 2007

Be careful what you wish for...

... you might just get it.
Dis mos wat hulle altyd sê. En hulle is toe reg.

Ek word vanoggend wakker met die gedagte dat ek wens ek kon eers later gaan werk. Net so uur later sal heerlik wees. Maar ek ruk myself reg en sleep myself uit die bed. Net om op ‘n sitkamer en kombuis af te kom waar die water deur die dak stroom!

Die buurman in die woonstel bokant my het klaarblyklik in die vroeë oggendure by die huis gekom, die bad se kraan oopgedraai en aan die slaap geraak voor hy by bad uitgekom het. Hy het dus self vanoggend ‘n woonstel onder water gehad – maar darem net die vloere. By my het dit soos reën deur die dak gekom dus is alles van bo af nat. Gelukkig is die ergste in die vertrekke met teëls en het my houtmeubels nie te erg deurgeloop nie. Maar my mure gaan (wanneer dit eendag droog is) oorgeverf moet word.

So kry ek toe my wens om eers ‘n uur later te gaan werk – maar toe nie omdat ek langer in die bed kon lê nie, maar omdat ek van vroeg af met ‘n mop in die hand moes staan en skoon maak!

Volgende keer sal ek dalk maar versigtiger wees voor ek sommer vir iets wens. Die gevoel van absolute moedeloosheid en magteloosheid wat vandag op my gemoed druk, wil ek beslis nie gou weer voel nie. (Al weet ek dit gaan dalk nog baie sulke moedelose dae vat voor die mure droog is en die versekering hul deel gedoen het ten opsigte van skadebeheer in my woonstel.)

Wednesday 30 May 2007

Nog 'n jaar

Gewoonlik het ek op 21 Mei soveel gedagtes dat ek bladsye en bladsye vol skryf daaroor. (Ander mense doen gewoonlik hierdie retrospeksie/ voornemens oefening op 1 Januarie.) Hierdie jaar was dit egter net nog 'n dag wat ongesiens by my verby gegaan het; en wat ek in 'n mate weggewens het. Ek wou dit nie hê nie en wou nie hê enige iemand moet iets daarvan maak nie. Ek wou in 'n hoekie wegkruip en wag dat dit verby gaan…

Maar kyk ek terug na die tientalle oproepe, sms’e, e-mails en mooi wense (soos bv
diè), besef ek hoe geseënd is ek dat soveel mense vir my omgee. Dankie aan elkeen wat (tussen 17 en 26 Mei) moeite gedoen het om dit vir my spesiaal te maak. En hier is paar foto’s van my gedwonge partytjie … wat ek op die ou end soortvan geniet het ;-)

Monday 23 April 2007

Dood en lewe

Dit voel amper vir my asof dit die enigste ding is waaroor ek die laaste tyd skryf ... mense wat weggaan - om watter rede ookal.

Ek het vanoggend die nuus gekry van 'n ou vriend wat die naweek verongeluk het; ek het nog nie al die besonderhede van wat gebeur het nie, maar dit was vermoedelik op die pad tussen Mosselbaai en Uitenhage.

Hiermee my innige simpatie aan die Dippenaars met die verlies van Nico en die groot leemte wat ek weet hy in jul lewens sal laat.

Goeie nuus is dat Dina en Roelf Vrydagmiddag 'n babaseun ryker geword het. Baie geluk met Roelf Jnr! Mag hy julle eindelose vreugde en seën bring.

Friday 20 April 2007

Die wat aanbeweeg het

Ek besef skielik hierdie week hoeveel mense die afgelope twaalf maande uit my lewe is.

Daar is die wat saam my gewerk het en my vriende geword het, wat groener weivelde gaan soek (en gekry) het. Aan die begin hou 'n mens nog kontak, maar dit raak minder en minder. Dan is daar die wat opgepak het om na 'n ander stad of selfs 'n ander land te verhuis; per geleentheid kom hulle terug vir 'n kuiertjie en dis amper soos in die ou dae, maar net amper. Dis met vreugde wat ek kan sê dat niemand die afgelope twaalf maande uit my lewe is as gevolg van 'n onvergeetlike of onvergeeflike russie nie.

Ek besef dat die lewe aangaan en al ek dink soms met heimwee en nostalgie aan die mense wat aanbeweeg het (die lewe het immers vir my ook aangegaan), lê my hart nie aan skerwe nie – ek weet hulle is OK en ek kan enige dag weer kontak maak.

My hart breek wel oor die wat ek nie weer sal sien nie, omdat hul lewens op aarde verby is. Maar daarmee leer mens om vrede te maak al is dit nie altyd maklik nie.

'n Paar dae kort vir 'n jaar gelede het ek langs die graf gestaan van 'n vrou wat meer vir my beteken het as wat sy ooit sou weet. (En ek is spyt ek dit nie vir haar gesê terwyl sy gelewe het nie.) Sy het my in haar huis laat kom en my met liefde behandel. Haar huis het vir my 'n hawe geword en haar familie myne, toe my eie ver was.
Vandag is dit presies 'n maand vandat ek
oupa moes groet (oor hom het ek reeds gesê wat ek wou sê).

Ek mis die mense wat die afgelope jaar uit my lewe is, maar ten minste het ek kans gehad om te groet, en behalwe vir die laasgenoemde twee, het ons uit eie keuse gegroet. En ek besef hoe geseënd ek is dat dit wel die geval is.

Die afgelope paar weke het die nuus weer
berig oor ses meisies wat agttien jaar gelede verdwyn het en wie se verdwynings met die pedofiel Gert van Rooyen verbind word. Die ouers van daardie slagoffers het nooit kans gehad om te groet nie en sal waarskynlik nooit antwoorde op hul vrae kry nie. Een ma sê dat sy selfs te bang geword het om te hoop. Ek bid dat hulle wel eendag vrede in hul harte sal kry.

En dit inspireer my om die beste van die tyd saam met die mense rondom my te maak, voor dit nodig word om te groet (vir watter rede ookal).

PS: Aanvanklik wou ek skryf oor die mense wat uit my lewe verdwyn het, maar dis eers toe ek die voorlaaste paragraaf skryf, wat ek die werklike betekenis van 'verdwyn' besef en besluit het om eerder te skryf oor mense wat 'aanbeweeg 'het.

Thursday 12 April 2007

Trane vir Anna

Gisteraand begin ek Elbie Lotter se boek, Dis ek, Anna te lees. Dis een een van daai boeke wat jy letterlik nie kan neersit nie – alhoewel ek dit baie moes doen omdat ek nie ‘n woord deur my trane kon sien nie. En tussen die trane deur sit ek toe nie die boek neer voor ek nie die laaste woord gelees het nie. Die boek gryp my aan die hart en hoe verder ek lees, hoe meer trane vloei.

Trane van ‘n ongekende woede vir die vark wat ‘n kind misbruik.
Trane van moedeloosheid oor ‘n ma wat ander kant toe kyk.
Trane van hartseer oor ‘n vriendskap wat tot niet gaan.
Trane van teleurstelling oor ‘n verlore liefde.

Maar meestal trane omdat my hart breek vir kind in stilte moes ly.
Trane vir Stom Anna.

Monday 26 March 2007

Hoe groet mens iemand wat jou hele lewe lank bloot net dáár daar was?

Die persoon wie se voete jou leer dans het – al om die koffietafel in die sitkamer.
Die een wat jou in sy bakkie op grondpaaie leer bestuur het.
Die een wat jou in die sinkdam agter die huis leer swem het.
Die een wat jou in sy mielielande leer skiet het.
Die een wat jou met moeilike wiskundehuiswerk gehelp het.
Die een by wie jy Kerstyd onthou vir die snikhete nagte en die yskoue waatlemoen waaraan jy laatmiddag smul.
Die een wat jou as klein dogtertjie laat giggel as hy sy voorkop kreukel.

Donderdagmiddag moes ek help om daardie persoon se kis te dra as deel van die groetproses, en die enigste woorde in my hart was:
Dankie Oupa vir alles wat jy my geleer het – veral die lewenslesse wat my altyd sal bybly.
Ek sal Oupa nooit vergeet nie.

Tuesday 30 January 2007

koebaai

'Dis hartseer. Maar dis goed so, want dit beteken dis was spesiaal'.

Dit was 'n vriendin se woorde toe sy gister gegroet het voor sy met 'n nuwe hoofstuk in haar lewe begin. En dis vir my so mooi manier om die hoofstuk wat sy pas afgesluit het te beskryf.

Baie sterkte met dit wat jy aanpak - ek glo jy gaan nog groot hoogtes bereik.

Friday 26 January 2007

Julie & Julia ...en ek

Ek het pas Julie Powell se boek Julie & Julia klaar gelees. Dit gaan oor Julie Powell wat besluit om Julia Child se Master the Art of French Cooking binne een jaar ‘deur te kook’. Julia skryf dan elke dag op haar blog om haar vordering met die selfopgelegde taak te monitor. Op hierdie blog skryf sy oor elke resep wat sy maak, haar suksesse en mislukkings en die boek is ‘n memoir van die projek. Daar is plekke waar dit blyk dat sy nie meer kans sien vir die projek nie, maar dan herinner sy haarself aan die mense wat haar blog lees en haar vordering daarmee dophou. Net soos wat so baie mense elke dag haar blog gelees het om te sien hoe sy vorder, kon ek ook nie haar boek neersit tot ek weet of sy die gemaak het of nie.

Ek staan verwonderd oor hoe sy die projek aangepak het en daarmee volgehou het. En ek wens ek kon so iets doen. Ek kan nie eers by my voorneme hou om elke dag iets kreatief te doen nie. Sedert ek op
12 Oktober verlede jaar myself voorgeneem het om elke dag vir die res van 2006 iets kreatief te doen, het ek net enkele kere so ver kom om iets te skryf en net twee keer iets met krale gemaak (waarvan die een keer was omdat iemand my gevra het om vir haar iets te maak). Verder het ek geen pogings aangewend nie – ek het nie eers aan ‘n verfkwas gevat nie; ek het nie daaraan gedink om iets te hekel nie; en toe ek onlangs toe ek by die dieretuin was, het ek skaars my kamera uitgehaal...’n geleentheid wat soveel foto-moontlikhede kon bied.

Dalk moet ek ook met een of ander projek begin om myself te dwing om kreatief te wees. Al is dit ook net om ten minste een keer per week iets vir myself te doen wat my sal inspireer om my pen of verfkwas weer op te neem. Dalk help dit om iets in ‘n groep te doen – soos die tyd toe ek kunsklasse geneem en myself so gedwing het om ten minste een keer per week myself te verloor in ‘n see van kleur en tekstuur. (Ek het ook gevind dat ek in daardie tyd ook baie meer inspirasie gehad het om te skryf of nuwe resepte uit te toets.) Ek dink onwillekeurig ook aan my ouma se ‘naaldwerkgroepie’ – dit bestaan uit ‘n paar ou tannies wat een keer per week by iemand se huis bymekaar kom en elkeen bring haar naaldwerk saam. Vir een is dit dalk die trui wat sy vir ‘n kleinkind brei, vir ‘n ander die skinkbordlappie wat sy met kruissteek uitwerk, terwyl ‘n ander een iets borduur wat sy wil inskryf vir die VLU-kompetisie. Wat dit ookal is, hierdie samekoms (waar dit ook oor tee en koek en skinder gaan) dwing elkeen om tyd te spandeer om iets kreatief te doen.

Ek wil nie weer so in die openbaar (op my blog...) die voorneme maak om wel meer kreatiewe goed te doen nie, maar ek gaan wel die voorneme maak om te probeer. Want eintlik kan ek nie wag om weer ‘n canvas met olieverf te vul of ‘n armband van helder krale te maak nie.

Julie, aan die einde van jou boek se jy dankie aan Julia, vir die inspirasie wat sy vir jou was; dat jy net gehoop het om te leer kook maar soveel meer daaruit gekry het. Ek wil vir jou dankie se, want jy het my, en ek is seker ook baie ander, geïnspireer.

Wednesday 24 January 2007

The Road Not Taken

Vir’n baie lang tyd het ek myself op die more travelled pad bevind omdat ek diè een gekies het toe ek voor die vurk in die pad gestaan het. Soms het spyt my oorval juis omdat ek geweet het ek kan nooit teruggaan en oorkies nie. Maar ek het geweet dat ek die pad wat ek gekies het, moet stap en steeds die dinge rondom my moet raaksien (anders sou ek ook nooit die volgende vurk gesien het nie).

Gelukkig, soos die lewe maar maak, was daar weer 'n vurk (en het ek dit raakgesien). Diè keer kon ek kies om die een te vat wat by die less travelled pad aansluit. Dis so ongelooflik bevrydend om te weet dat al sal ek nooit die eerste deel van hierdie pad sien nie, ek uiteindelik op hom is! En dit maak die groot verskil.

Hierdie bevrydende keuse in my lewe het my laat besef hoe belangrik elke besluit is, omdat jy nooit kan teruggaan nie en nie weet wanneer jy eers weer ‘n afdraai-paadjie sal kry nie. En opnuut besef ek hoeveel van hierdie waarheid Robert Frost besef het toe hy in 1915 geskryf het
Two roads diverged in a yellow wood…

Wednesday 10 January 2007

Kinds of love

Marcia said, ‘I came because I care about you desperately. Even if you and I aren’t going to stay together, I still want to know that you’re safe. I still want to know that you’re happy.’

She looked up. Her voice came out as a brave, tearful gasp. ‘Yes’, she said. I know. It’s wonderful, isn’t it? Wonderful how many different varieties of love there are. There are as many different varieties of love as there are candies in a sweetshop. I think you and I had the kind that tastes very, very sweet while it lasts, but melts away before you realise it’s gone. Fondants, isn’t that it? Strawberry fondants. It’s a pity we didn’t have the barely sugar. It doesn’t taste so sweet, but it lasts almost forever.’


Graham Masterton
Maiden Voyage
(p416 – 417)

Monday 8 January 2007

Terwyl ek weg was...

Hierdie posting sluit twee van die goed in wat ek geskryf het terwyl op vakansie was en nie tyd gehad het om te post nie. Ek het ook ‘n paar ander goed geskryf, maar net nooit daarby uitgekom om dit te tik nie ... dus maak daardie goed dit nie tot hier nie.

Nuwejaar
1 Januarie 2007

Vir die eerste keer in baie jare is ek nie te veel gepla oor die begin van die nuwe jaar of die einde van die vorige nie. Vir die eerste keer in baie jare doen ek nie intensiewe retrospeksie oor die jaar wat verby is; introspeksie oor myself; of vooruit beplanning oor die nuwe jaar nie.

Twee mense het baie spesifiek uitgevra oor my planne vir die 2007...my antwoord vir beide was dat ek die jaar gaan vat soos dit kom sonder te veel beplanning. My enigste voornemens is om elke oomblik van die goeie wat my kant toe kom in dankbaarheid te geniet; en die slegte wat na my toe kom te hanteer soos dit kom met genade van bo.

Eerstes, besluite en Kersfees
29 Desember 2006


Na baie vroeg opstaan op 22 Desember en baie gesukkel met onbekwaamde BA-personeel op ORTIA (OR Tambo International Airport, soos daar nou na Johannesburg International Airport en voorheen Jan Smuts Internasionale Lughawe verwys word), het ons netnet ons vlug gemaak. En so begin ‘n vakansie van eerstes en besluite.

My 2006 vakansie by die see was in baie opsigte soveel anders as die meeste voor dit. Eerstens was ek op die strand – en nie net vir ‘n wandeling nie, maar ook om bietjie son te vang. Verder het ek selfs in die see geswem (wat sekerlik ‘n eerste was in die afgelope drie jaar) en gebungy by Gouritsrivier! Vir die eerste keer ooit het ek nie boek na boek verslind nie en vir die eerste keer ooit het ek ‘n vriendin saamgevat op vakansie.

Dit was voorwaar ‘n vakansie van eerstes. Maar so het ek ook ‘n persoonlike besluit geneem oor iets waaroor ek al ‘n duisend keer moes besluit... en elke keer het ek dieselfde besluit, maar net nog nooit kon ek daarby hou nie. Op ‘n manier voel ek hierdie keer is anders – maar aan die ander kant sê ek dit ook elke keer. Hierdie keer is die uitdaging egter vir my net soveel groter om daarby te hou en is ek meer vasberade om dit wel te doen. Maar net tyd sal leer hoe suksesvol ek hierdie keer gaan wees.

Kersfees bly vir my spesiaal, en soveel meer waardeer ek elke kersfees wat ek saam my familie kan deurbring. Ek het gedurende hierdie jaar te veel mense gesien wat geliefdes aan die dood afgestaan het en vir wie Kersfees hierdie jaar eintlik baie hartseer was. Daar is ook soveel mense oor die wêreld heen vir wie Kersfees ‘n tyd van depressie en eensaamheid is, en daarom waardeer ek dit en wie ek het soveel te meer. Kersfees in Hartenbos is altyd vir my spesiaal nie net omdat dit soos reeds genoem is, ‘n tyd saam familie is nie – maar Oukersaand se Kerssangdiens in die amfiteater waar duisende mense by kerslig saam die Here prys vir die wonder van Kersfees. En skielik dink ek aan ons eie Afrika-Kerslied se woorde ‘skenk ons ‘n helder somer-Kersfees, in hierdie land, o Heer’. En my wens vir hierdie land is nie net ‘n helder somer-Kersfees nie, maar ‘n nuwe jaar gevul met helderheid. Dat die helderheid van die wonder van Kersfees en die helderheid wat Gees-vervuldheid bring, elke dag met elkeen in hierdie land sal wees.