Friday 21 November 2008

Kersfees-gees

Oor vyf weke is dit Kersfees!

Elke jaar sukkel ek om in die Kersfees-gees te kom. In teendeel,
soos ek lankal reeds gesê het, raak ek eerder geïrriteerd met hoe die mensdom dit gebruik om hul eie sakke te vul. Ek raak vies vir mense wat skarrel om groter en beter geskenke as die vorige jaar te koop en in die proses skuld maak om dit te kan doen (veral in die huidige ekonomiese omstandighede).

Van Oktober af is dit oral en ek wonder hoeveel mense wat Kersfees so uitbuit en uitgebuit word daardeur, regtig besef waaroor dit gaan? En wanneer Kersfees dan kom, is ons al so ‘moeg’ daarvoor, dat dit eintlik net glad nie saak maak nie. Dit maak my altyd so hartseer.

Maar hierdie jaar is dit egter vir my anders. Ek bly uit die winkels uit waar ek nie die Kers-aanbiedinge en goedkoop versiering kan sien nie. En dit is die beste ding wat ek vir myself kan doen.

Ek kyk na binne en besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees – selfs na die riller van ‘n jaar wat ek gehad het. En skielik maak die jaar wat verby is regtig nie meer saak nie, want ek kyk met nuwe oë na Kersfees.

Ek begin nou reeds die wonder daarvan indrink by elke moontlike geleentheid.
Ek begin nou reeds die vrede daarvan ervaar na ‘n baie moeilike jaar.
Ek begin nou reeds die seën van Kersfees vir my geliefdes toebid.
En ek spandeer nou soveel tyd moontlik saam hulle omdat dit vir my ‘n Kersfees sonder hulle gaan wees.

Toe ek myself gisteroggend kry, haal ek my
Christmas Heart of Worship CD uit en luister dit in die kar - ek dink dit was die eerste keer wat ek daarna geluister het na ek dit reeds ‘n paar jaar gelede gekoop het. En vanoggend bly die lied Somer-Kersfees in my gedagtes (in my Google-soektog na die lirieke kom ek toe op my eie verwysing daarna af).

Hierdie bly vir my so ‘n spesiale lied, omdat dit ‘n Kersgebed is vir die land waarin ons bly:

Welkom, o stille nag van vrede,
onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis.
Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye vertel die ou verhaal.
Kersfees kom, Kersfees kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Voel jy ook nou sy warm liefde as ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het – ons grootste Kersgeskenk.
Christus kom, Christus kom –
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somer-kersfees
In hierdie land, o Heer.

Skielik sien ek baie uit na volgende week se Kers-sangdiens.

Ek het lank gesoek na ‘n gepaste prent om saam hierdie skrywe te post – wel, om eerlik te wees weet ek nie presies waarna ek gesoek het nie – maar die meeste wat jy kry is net Kersbome, -versierings, -liggies en selfs advertensies om die Kers-winskope uit te bassuin. Ek kon ongelukkig niks kry wat vir my die ware vrede en gees van Kersfees weerspieël nie.
Mag jy nou reeds die vrede van Kersfees ervaar in hierdie tyd wat ons almal so jaag om alles te doen wat gedoen moet word voor die jaar heeltemal onder on uit hardloop.

2 comments:

  1. Goeiemôre hier uit Kanada - was op 'n soektog vanoggend na die woorde en akkoorde vir Somerkersfees (ons het 'n saamsing-aand Sondag saam met vriende) en kom toe via Google op jou blog af. Ek sien toe die blog is van 'n ander Kirstein, dog ek hierdie Kirstein moet groete stuur.

    Ek is ook op soek na 'n Engelse vertaling, want daar gaan 'n paar Engelse vriende wees.

    Groetnis hier vanuit Oakville.

    Louis Kirstein

    ReplyDelete
  2. Louis, dankie vir die inloer en dagsê.

    Ek hoop jy het die toe die akkoorde gekry en dat jul saamsing-aand 'n groot sukses was.

    Somerkersfees bly vir my 'n ongelooflike lied en som vir Kersfees in Suid-Afrika so mooi op. Laat weet my asseblief as jy 'n vertaling opgespoor het, ek sal dit graag wil sien (aangesien tale en vertalings my 'ding' is).

    Groete vanuit Pretoria.

    ReplyDelete