Tuesday 18 November 2008

Wat definieer my?

Verlede week stel ek myself skertsend aan iemand voor met die woorde: Ek is Annelie en ek is ‘n staatsdiensamptenaar. ‘n Vriendin vererg haar toe sommer vir my, want, sê sy, dis nie wat my definieer nie.

So begin ek wonder wat is dit wat ‘n mens definieer? Wat is dit wat my definieer?

Maar voor ek daarby uitkom, wil die linguis in my eers ‘n definisie gaan soek… Ek kry ‘n paar verklarings vir define, maar die een wat hier vir my van toepassing is, is
state or describe the exact nature or scope of.

Dus, vra ek myself what describes the exact nature or scope of me? (Beslis nie staatsdiensamptenaar nie! Dit is bloot iets wat ek doen om my rekeninge te betaal.)

Onwillekeurig dink ek: ‘n Mens word geken aan jou vriende geken. Dus kan ‘n mens seker ook sê jy word geken aan dit wat jou na aan die hart lê en die dinge waaraan jy jou tyd spandeer.

Ek spandeer my tyd saam met mense. Mense wat vir my kosbaar is. Mense vir wie ek lief is en wat vir my lief is. Mense wat ek my vriende en familie noem. Mense met wie ek tot laataand toe kan gesels oor alles – of oor niks. Mense met wie ek my vreugdes en hartseer kan deel. Mense saam met wie ek goeie rooiwyn kan geniet.

Ek spandeer my tyd om kreatiewe dinge te doen wat my sintuie stimuleer. Ek hou daarvan om ‘n canvass in te kleur met dik lae olieverf en ek hou van die reuk waarmee dit my huis vul. Ek hou daarvan om krale in te ryg, die vrede waarmee die kleurkombinasies my vul en die tekstuur van verskillende tipes op my vingerpunte.

Ek spandeer my tyd in die geselskap die geskrewe woord. Ek hou daarvan om woorde te lees: fiksie, geskiedenis en biografieë – dit laat my vir ‘n oomblik uit my eie wêreld ontsnap. Ek hou daarvan om woorde te redigeer en te laat sin maak. Maar om woorde te skryf, maak my gelukkig – om ‘n stukkie van myself, my lewe, my gedagtes en my opinies (en verbeeldingswêreld) te deel. (Terloops, woorde is ook wat my salaris betaal.)

Dan is daar ook Die Woord waarmee ek my tyd spandeer en probeer agterkom wat dit is wat ek moet doen en waar ek moet wees in die lewe. Dis ook hier waar ek my troos en my hoop vind.

Ek dink mens word verder gedefinieer deur dit wat jou gelukkig of kwaad of bang of hartseer maak. Ek is byvoorbeeld gelukkig as ek iets vir die mense om my kan doen. En ek raak kwaad wanneer kinders ‘n onreg aangedoen word – in watter vorm ookal.

Dalk moet ‘n mens ook na karaktereienskappe kyk as jy wil weet wat iemand definieer, maar vir nou gaan ek nie daar delf nie. Ek gaan myself bloot voorstel as: Ek is Annelie, ek hou van mense, kreatiewe dinge en woorde.

No comments:

Post a Comment