Monday 8 January 2007

Terwyl ek weg was...

Hierdie posting sluit twee van die goed in wat ek geskryf het terwyl op vakansie was en nie tyd gehad het om te post nie. Ek het ook ‘n paar ander goed geskryf, maar net nooit daarby uitgekom om dit te tik nie ... dus maak daardie goed dit nie tot hier nie.

Nuwejaar
1 Januarie 2007

Vir die eerste keer in baie jare is ek nie te veel gepla oor die begin van die nuwe jaar of die einde van die vorige nie. Vir die eerste keer in baie jare doen ek nie intensiewe retrospeksie oor die jaar wat verby is; introspeksie oor myself; of vooruit beplanning oor die nuwe jaar nie.

Twee mense het baie spesifiek uitgevra oor my planne vir die 2007...my antwoord vir beide was dat ek die jaar gaan vat soos dit kom sonder te veel beplanning. My enigste voornemens is om elke oomblik van die goeie wat my kant toe kom in dankbaarheid te geniet; en die slegte wat na my toe kom te hanteer soos dit kom met genade van bo.

Eerstes, besluite en Kersfees
29 Desember 2006


Na baie vroeg opstaan op 22 Desember en baie gesukkel met onbekwaamde BA-personeel op ORTIA (OR Tambo International Airport, soos daar nou na Johannesburg International Airport en voorheen Jan Smuts Internasionale Lughawe verwys word), het ons netnet ons vlug gemaak. En so begin ‘n vakansie van eerstes en besluite.

My 2006 vakansie by die see was in baie opsigte soveel anders as die meeste voor dit. Eerstens was ek op die strand – en nie net vir ‘n wandeling nie, maar ook om bietjie son te vang. Verder het ek selfs in die see geswem (wat sekerlik ‘n eerste was in die afgelope drie jaar) en gebungy by Gouritsrivier! Vir die eerste keer ooit het ek nie boek na boek verslind nie en vir die eerste keer ooit het ek ‘n vriendin saamgevat op vakansie.

Dit was voorwaar ‘n vakansie van eerstes. Maar so het ek ook ‘n persoonlike besluit geneem oor iets waaroor ek al ‘n duisend keer moes besluit... en elke keer het ek dieselfde besluit, maar net nog nooit kon ek daarby hou nie. Op ‘n manier voel ek hierdie keer is anders – maar aan die ander kant sê ek dit ook elke keer. Hierdie keer is die uitdaging egter vir my net soveel groter om daarby te hou en is ek meer vasberade om dit wel te doen. Maar net tyd sal leer hoe suksesvol ek hierdie keer gaan wees.

Kersfees bly vir my spesiaal, en soveel meer waardeer ek elke kersfees wat ek saam my familie kan deurbring. Ek het gedurende hierdie jaar te veel mense gesien wat geliefdes aan die dood afgestaan het en vir wie Kersfees hierdie jaar eintlik baie hartseer was. Daar is ook soveel mense oor die wêreld heen vir wie Kersfees ‘n tyd van depressie en eensaamheid is, en daarom waardeer ek dit en wie ek het soveel te meer. Kersfees in Hartenbos is altyd vir my spesiaal nie net omdat dit soos reeds genoem is, ‘n tyd saam familie is nie – maar Oukersaand se Kerssangdiens in die amfiteater waar duisende mense by kerslig saam die Here prys vir die wonder van Kersfees. En skielik dink ek aan ons eie Afrika-Kerslied se woorde ‘skenk ons ‘n helder somer-Kersfees, in hierdie land, o Heer’. En my wens vir hierdie land is nie net ‘n helder somer-Kersfees nie, maar ‘n nuwe jaar gevul met helderheid. Dat die helderheid van die wonder van Kersfees en die helderheid wat Gees-vervuldheid bring, elke dag met elkeen in hierdie land sal wees.

No comments:

Post a Comment