Wednesday 26 November 2008

Thanksgiving

What I want instead is your true thanks to God – Psalm 50:14 (NLT)

Ek moet erken dat ek nie noodwendig altyd goeie goed oor die Amerikaners te sê het nie. Maar as daar een ding is wat ons by hulle kan leer, is dit hul Danksegging-tradisie. Ek het wyd gelees na die oorsprong daarvan, maar te veel verskillende weergawes daarvan gekry en besluit om dit eerder hier uit te laat. En ek reken die oorsprong is in elk geval nie die belangrike aspek nie.

Ek hou van die idee om 'n dag af te sonder om dankie te sê vir die jaar wat verby is – soos wat die Amerikaners elke jaar op die vierde Donderdag van November doen. Vanjaar vind dit more, op 27 November, plaas.

As ek terugkyk op 'n jaar wat in baie opsigte seker die moeilikste ooit was, is daar steeds so baie waarvoor ek dankbaar is.

Ek is dankbaar vir my familie en vriende. Ek is dankbaar dat dit goed gaan met almal. En ek is veral dankbaar dat hulle in my lewe is – vir hul ondersteuning en liefde elke dag en in elke situasie.

Ek is dankbaar vir my werk. Nooit weer sal ek aanvaar dat 'n werk iets is wat ‘n mens bloot net het nie. Die feit dat ek vir ‘n tyd lank daarsonder was, het my geleer om met nuwe oë daarna te kyk. Ek is opnuut dankbaar vir elke bord kos wat ek het om te eet en dat ek nog nooit honger gaan slaap het nie. Ek is opnuut dankbaar vir die dak oor my kop en bed waarin ek slaap. Ek is opnuut dankbaar dat ek ‘n kar het en nie hoef te loop of te sukkel met ‘n bus of taxi nie.

Ek is dankbaar vir my persoonlike groei as mens. Ek is dankbaar dat ek in elke situasie iets kan leer en heel aan die ander kant kan uitkom. Ek is dankbaar vir elke stukkie genade en krag wat my hier gekry het.

As ek dus terugkyk is daar so ongelooflik baie waarvoor ek kan dankbaar wees. Ten spyte van alles wat gebeur het ... of dalk juis as gevolg daarvan.

En dit is alles net die dankbaarheid wat oor myself gaan. As ek iets moes weergee van die goed waarvoor ek vir my vriende dankbaar is (oor die dinge wat hierdie jaar met hulle gebeur het) sal ek baie bladsye vol skryf.

Ek wil met hierdie dogtertjie saamstem dat daar baie meer is om voor dankbaar te wees as wat ons in een dag eers aan kan dink.
As jy gaan delf in die herinneringe van die afgelope jaar, sal jy verbaas wees hoeveel jy het om oor dankbaar te wees. Ek daag jou uit om ten minste een ding waarvoor jy dankbaar is van 2008 in die openbaar uit te basuin – skryf dit hier as ‘n comment, sodat ander in jou dankbaarheid kan deel. En sê dan more spesiaal nog 'n keer dankie daarvoor - ek sal saam met jou dankie sê daarvoor.
Dankie vir 2008 en elkeen wat saam met my daarin gedeel het.

A thankful heart is not only the greatest virtue, but the parent of all other virtues - Cicero

2 comments:

  1. ek is dankbaar dat niemand seer gekry het gedurende die hi-jacking nie
    ek is dankbaar dat my ma steeds gesond is, al het ons weer 'n kanker-skrik gehad
    ek is dankbaar dat my broer gelukkig getroud is met 'n wonderlike vrou
    ek is dankbaar vir my wonderlike nuwe sussie!
    ek is dankbaar dat my sussie so gelukkig is en dat dit uiters goed gaan met haar
    ek is dankbaar vir vriende wat uit hul pad gegaan het om te help en te luister
    ek is dankbaar vir 'n baie spesiale selgroep
    ek is dankbaar vir groei in my verhouding met God soos ek in jare nie gehad het nie
    ek is dankbaar vir ou groen datsun bakkies en splinter nuwe wit nissan bakkies

    ek is dankbaar dat daar te veel dinge is om hier op te noem!

    ReplyDelete
  2. Ek het nog iets waarvoor ek wil dankie sê: HAPPINESS!

    ReplyDelete