Monday 3 November 2008

Die klank van die weer

Elkeen wat al hier gelees het, sal weet watse struwelinge ek al gehad met die konsep van kreatiwiteit. Waar dit vandaan moet kom, hoe om dit te ontgin en hoe om dit uit te leef. So gereeld wil ek net iets skilder of skryf – die wil om dit te doen is daar, maar ‘n kreatiewe onderwerp bestaan nie eers vaagweg nie... dus dwing ek myself nou om die oomblik wat ‘n gedagte by my opkom, dit onmiddellik neer te skryf. Nie noodwendig die eindproduk daar en dan te produseer nie, maar ten minste die gedagte neer te skryf en ‘n paar notas daaroor te maak, because no idea should ever escape.

Ek staan toe maar teen 2:38 Sondagoggend op om my gedagtes neer te skryf, want sien, dis nou al die tweede nag hierdie week wat ek lê en dink dat mense altyd sê hulle slaap so lekker as dit reën. Maar nie ek nie. Ek lê met ‘n vreemdsoortige opgewondenheid en luister na die wonder daarvan.

Dis vir my ongelooflik ervaring wanneer ‘n mens wakker word met die gewaarwording van donderweer wat ver weg klink; jy kan hoor hoe dit nader kom en dan begin die stortreën.

Ek kan my verluister aan die klank van donderweer. Dit is so kragtig. Maar met balans. Dit vul my met ‘n heilige vrees sonder om my menslik bang te maak. Dit is ‘n bevestiging van wat ek glo. Daardie fyn lyn tussen vrees vir die Almagtige en wat Hy kan doen en aan die ander kant ‘n troos wat jou op jou gemak laat voel – so asof Hy sê: Hoor jy dit? Ek is in beheer.

Ek hoor hoe die donderweer sagter raak soos dit koers kies op sy reis en dis die sagte reën wat oorbly. Soos ‘n troostende hoop. Weer sien ek dit as ‘n bevestiging van wat ek glo. Die donderweer as die kragtige werking van God, die sagte reën as die troostende werking van die Gees wat jou herinner aan sy immer-teenwoordigheid.

Wanneer die reën later ophou, raak ek bewus van ‘n intense stilte. ‘n Intense teenwoordigheid. En ek weet dat wanneer die son opkom, die aarde nuutgemaak en skoongewas gaan pryk. En weer sien ek dit as ‘n bevestiging van wat ek glo.

Ek kyk later op my horlosie – dit is 3:16. Ek dink onwillekeurig aan Johannes 3:16 en die rede waarom God sy Seun gestuur het – Sy liefde vir ons. En dink dit is ook die rede waarom Hy die donderweer en reën stuur; om ons te herinner aan daardie liefde vir ons en hoe dit ons nuutmaak en skoonwas.

Weer wonder ek hoe mense kan sê hulle slaap so lekker as dit reën, terwyl ek opgewonde lê en luister na die klank van die elemente. Maar ek weet dat ek nou baie lekker gaan slaap, want alles wat ek glo is pas vir my bevestig.

No comments:

Post a Comment