Monday 17 November 2008

Henry Poole

Saterdagaand het ek Henry Poole is here gekyk.

Oor die algemeen dink ek dis ‘n uitstekende fliek. Ek het dit gelove omdat ek van flieks hou wat my aan die dink sit. (My enigste kritiek is dat George Lopez nie heeltemal vir my werk as priester nie, maar gelukkig gaan die fliek oor baie meer as net hom.)

‘n Sin wat my opgeval het, was: Sometimes you have to be sad to remind yourself that you are alive. En dit is waaroor ek aanvanklik wou skryf. Maar aan die einde van die fliek was daar soveel ander gedagtes in my kop, dat ek maar gaan begin waar ek wou en kyk waar dit eindig.

Terug by: Sometimes you have to be sad to remind yourself that you are alive. Wat ‘n wonderlike troos is dit nie net nie. Dat dit OK is om soms hartseer te wees. Mens raak tog hartseer oor dinge wat jou na aan die hart lê. As jy hartseer is, beteken dit jy moes eers baie bly oor iets gewees het, of baie lief daarvoor.

As jy na hartseer kyk is dit bloot ‘n emosie soos liefde, gelukkig wees, kwaad, teleurstelling, bly wees. En solank as wat jy emosie in enige van sy vorme ervaar, is dit OK, want dan weet jy dat LEEF. Hartseer is sekerlik nie die lekkerste emosie wat jy kan ervaar nie, maar dis emosie. En emosie is goed. Dis lewend. Ek dink daardie moment wat jy geen emosie meer ervaar nie, is wanneer jou wese doodgaan, wanneer jou siel nie meer wil nie.

En skielik weet ek dis OK. Ek mag maar soms hartseer wees (of enige ander emosie ervaar). Met elke emosie wat ek ervaar, weet ek dat ek nie net lewend is nie, maar ek leef!

Dan is daar ook die tema van hoop. Henry Poole is kwaad vir mense wat glo hulle sien “Christus se gesig” teen sy huis se muur. Hy is kwaad vir die desperaatheid waarmee mense aan die muur kom vat in die hoop om gesond te word. Ek weet nie of hulle daarheen gegaan het omdat hul geloof so groot was dat hulle glo dit kan hul werklik genees nie, en of dit meer ‘n hoop was nie. (Alhoewel geloof en hoop hand aan hand loop, is daar vir my ‘n wêreld se verskil tussen die twee.) Op ‘n stadium skree Henry Poole vir die mense: hope can’t save you! Maar op die ou end was dit tog wat hom gered het.

Die fliek het soveel ander gedagtes ook in my kop gesit, maar daarmee wil ek nog ‘n dag of twee loop en dit oordink. Miskien moet ek oor ‘n week of so selfs weer die fliek kyk, nog ‘n bietjie daaroor dink en dan besluit of ek nog iets daaroor wil sê.

No comments:

Post a Comment