Sunday 1 July 2007

Waaroor breek 'n mens se hart?

My hart breek vandag. In derduisende klein stukkies. Trane stroom kort-kort onkeerbaar oor my wange. En het geen idee hoekom nie. Ek het geen idee wat my hart so laat pyn nie. Ek dink al heeldag aan wat dit kan veroorsaak, maar ek het net geen idee nie. Dalk is dit mense wie ek mis. Dalk is dit dinge wat ek mis. Hoe is dit moontlik dat mens net absoluut geen idee kan he wat jou hart so uitruk nie?

Dit sou more haar verjaardag wees. Haar twee-en-sestigste. Vreemd, maar ek weet vir ‘n feit dat al mis ek haar so ongelooflik baie, is dit nie die gedagtes aan haar wat my hartseer maak nie.

Ek is bang/opgewonde oor die onbekende wat voorlĂȘ, en hartseer oor dit wat ek moet agterlaat. Maar ek dink ook nie dis dit wat my vandag so ontstel nie.

Ek het die grootste deel van my dag spandeer aan James Frey se outobiografie, a million little pieces. Sy verhaal raak my aan, maar ek twyfel of dit die rede vir my pyn is.

Dalk is dit maar ‘n kombinasie van al die bogenoemde saam met die depressiewe, koue weer en ‘n hunkering in my hart na wie weet wat. En op die ou end is daar mos maar min dinge so goed vir die siel soos om ‘n slag in jou hart rond te krap en voorraadopname te doen – sonder dat jy noodwendig by antwoorde uitkom. En ‘n ordentlike huilsessie om die stowwerige hoekies skoon te was.

No comments:

Post a Comment