Friday 22 June 2007

Be careful what you wish for...

... you might just get it.
Dis mos wat hulle altyd sê. En hulle is toe reg.

Ek word vanoggend wakker met die gedagte dat ek wens ek kon eers later gaan werk. Net so uur later sal heerlik wees. Maar ek ruk myself reg en sleep myself uit die bed. Net om op ‘n sitkamer en kombuis af te kom waar die water deur die dak stroom!

Die buurman in die woonstel bokant my het klaarblyklik in die vroeë oggendure by die huis gekom, die bad se kraan oopgedraai en aan die slaap geraak voor hy by bad uitgekom het. Hy het dus self vanoggend ‘n woonstel onder water gehad – maar darem net die vloere. By my het dit soos reën deur die dak gekom dus is alles van bo af nat. Gelukkig is die ergste in die vertrekke met teëls en het my houtmeubels nie te erg deurgeloop nie. Maar my mure gaan (wanneer dit eendag droog is) oorgeverf moet word.

So kry ek toe my wens om eers ‘n uur later te gaan werk – maar toe nie omdat ek langer in die bed kon lê nie, maar omdat ek van vroeg af met ‘n mop in die hand moes staan en skoon maak!

Volgende keer sal ek dalk maar versigtiger wees voor ek sommer vir iets wens. Die gevoel van absolute moedeloosheid en magteloosheid wat vandag op my gemoed druk, wil ek beslis nie gou weer voel nie. (Al weet ek dit gaan dalk nog baie sulke moedelose dae vat voor die mure droog is en die versekering hul deel gedoen het ten opsigte van skadebeheer in my woonstel.)

No comments:

Post a Comment