Friday 26 January 2007

Julie & Julia ...en ek

Ek het pas Julie Powell se boek Julie & Julia klaar gelees. Dit gaan oor Julie Powell wat besluit om Julia Child se Master the Art of French Cooking binne een jaar ‘deur te kook’. Julia skryf dan elke dag op haar blog om haar vordering met die selfopgelegde taak te monitor. Op hierdie blog skryf sy oor elke resep wat sy maak, haar suksesse en mislukkings en die boek is ‘n memoir van die projek. Daar is plekke waar dit blyk dat sy nie meer kans sien vir die projek nie, maar dan herinner sy haarself aan die mense wat haar blog lees en haar vordering daarmee dophou. Net soos wat so baie mense elke dag haar blog gelees het om te sien hoe sy vorder, kon ek ook nie haar boek neersit tot ek weet of sy die gemaak het of nie.

Ek staan verwonderd oor hoe sy die projek aangepak het en daarmee volgehou het. En ek wens ek kon so iets doen. Ek kan nie eers by my voorneme hou om elke dag iets kreatief te doen nie. Sedert ek op
12 Oktober verlede jaar myself voorgeneem het om elke dag vir die res van 2006 iets kreatief te doen, het ek net enkele kere so ver kom om iets te skryf en net twee keer iets met krale gemaak (waarvan die een keer was omdat iemand my gevra het om vir haar iets te maak). Verder het ek geen pogings aangewend nie – ek het nie eers aan ‘n verfkwas gevat nie; ek het nie daaraan gedink om iets te hekel nie; en toe ek onlangs toe ek by die dieretuin was, het ek skaars my kamera uitgehaal...’n geleentheid wat soveel foto-moontlikhede kon bied.

Dalk moet ek ook met een of ander projek begin om myself te dwing om kreatief te wees. Al is dit ook net om ten minste een keer per week iets vir myself te doen wat my sal inspireer om my pen of verfkwas weer op te neem. Dalk help dit om iets in ‘n groep te doen – soos die tyd toe ek kunsklasse geneem en myself so gedwing het om ten minste een keer per week myself te verloor in ‘n see van kleur en tekstuur. (Ek het ook gevind dat ek in daardie tyd ook baie meer inspirasie gehad het om te skryf of nuwe resepte uit te toets.) Ek dink onwillekeurig ook aan my ouma se ‘naaldwerkgroepie’ – dit bestaan uit ‘n paar ou tannies wat een keer per week by iemand se huis bymekaar kom en elkeen bring haar naaldwerk saam. Vir een is dit dalk die trui wat sy vir ‘n kleinkind brei, vir ‘n ander die skinkbordlappie wat sy met kruissteek uitwerk, terwyl ‘n ander een iets borduur wat sy wil inskryf vir die VLU-kompetisie. Wat dit ookal is, hierdie samekoms (waar dit ook oor tee en koek en skinder gaan) dwing elkeen om tyd te spandeer om iets kreatief te doen.

Ek wil nie weer so in die openbaar (op my blog...) die voorneme maak om wel meer kreatiewe goed te doen nie, maar ek gaan wel die voorneme maak om te probeer. Want eintlik kan ek nie wag om weer ‘n canvas met olieverf te vul of ‘n armband van helder krale te maak nie.

Julie, aan die einde van jou boek se jy dankie aan Julia, vir die inspirasie wat sy vir jou was; dat jy net gehoop het om te leer kook maar soveel meer daaruit gekry het. Ek wil vir jou dankie se, want jy het my, en ek is seker ook baie ander, geïnspireer.

2 comments:

  1. die boek raak nogal 'n teer punt. dis dalk weer tyd vir kunsklub?

    ReplyDelete
  2. Anonymous12:17 pm

    Ek dink die maklikste manier om jou inspirasie vir kreatiewe dinge te verloor, is om dit in 'n voorgeneme taak te verander.

    As dit dan nie natuurlik kom nie, bou dit subtiel in jou roetine in. So 'n jaarlange kookblog is miskien 'n bietjie drasties vir my, maar 'n spesifieke tema of fokuspunt is nogals 'n idee.

    ReplyDelete