Thursday 23 April 2009

Ek groet weer

Die einde van ‘n seisoen
Vandag is my laaste dag by die Departement van Buitelandse Sake en dit is met gemengde gevoelens wat ek hier skryf. Op 'n manier voel dit nog nie of ek weggaan nie, want more gaan ek eers op vakansie voor ek by my nuwe werk begin. Op hierdie stadium fokus ek net op 'n welverdiende ruskans saam met die liefde van my lewe; 'n vakansie wat al beplan is lank voor ek uit my huidige pos bedank het.

Aan die een kant voel ek sleg omdat ek na so 'n kort tydjie hier reeds weer op pad is terwyl die mense regtig goed was vir my. Aan die ander kant is ek baie positief. My tyd hier was goed en geseënd. Ek glo dit was net 'n 'interim arrangement' wat oor my pad gekom het toe ek werkloos was. Ek het baie hier geleer omdat die tipe werksomgewing en mense anders was as dit waaraan ek gewoond was. Ek is glad nie spyt oor my tyd hier nie, eintlik baie dankbaar.

Soms kom daar dinge oor jou pad wat jy nie noodwendig vir baie lank nodig gaan hê nie – dit is daar terwyl jy dit nodig het, maar sodra die doel gedien is, gaan dit weg. Vir dieselfde rede kom daar soms mense in jou lewe wat net 'n kort tydjie daar is en ander wat 'n leeftyd daar moet wees. Ek glo elke ding gebeur met 'n doel.

As ek terugkyk na die vorige maatskappy waarvoor ek gewerk het, kan ek baie maklik opstandig raak en begin wonder waarom ek juis soontoe moes gaan, net om tien maande later te hoor ek kan nie meer daar werk nie. Maar daar was ook baie goeie redes hoekom ek daar moes wees: ek het nuwe vaardighede geleer en belangriker nog, die mense. Ek het iets van menseverhoudings geleer en 'n baie goeie vriendin gemaak vir wie ek in 'n moeilike tyd kon bystaan en wat later weer vir my ongelooflik baie beteken het.

Daar is 'n seisoen vir elke ding en elke seisoen se tydperk is presies lank genoeg. En dit is goed so, 'n mens wil mos nie tyd mors met dinge wat eintlik al verby is nie.

Ek wil weer my dank uitspreek vir die afgelope klompie maande, die geleenthede wat my gebied is en die dinge wat ek kon leer.

Verkiesing
Ek wil ook iets oor die verkiesing sê. Ek het gister vir twee ure en twintig minute my beurt afgewag om my kruisie te trek. Ek is nie spyt dat ek so lank in die koue moes wag nie.

Ek is dankbaar dat so baie mense die moeite gedoen het om te gaan stem – dit maak nie saak vir wie jy gestem het nie, maar dat jy dit wel gedoen het, is fantasties. Ek is dankbaar dat mense opstaan vir demokrasie. Ek is dankbaar vir die goeie gees wat onder mense geheers het en dat dinge so goed verloop het.
Opgewondenheid
Ek sien met groot opgewondenheid daarna uit om more op vakansie te gaan en dit is met dieselfde opgewondenheid wat ek vandag die verkiesingsuitslae saam met die res van Suid-Afrika en die wêreld dophou.
Ek is ook baie opgewonde oor my nuwe werk; die nuwe geleenthede en nuwe uitdagings wat dit gaan bied.

No comments:

Post a Comment