Wednesday 8 April 2009

Paasfees

Ek het wyd gelees om te probeer agterkom waar die woord ‘Paasfees’ of dan die Engelse ‘Easter’ vandaan kom. Daar bestaan eenheid in verskeie bronne dat ‘Easter’ afgelei is van Ostera of Eostre, die Anglo-Saxon godin van lente vir wie daar jaarliks ‘n lentefees gehou is volgens heidense tradisies. Dit is ook hier waar sekere van ons Paastradisies hul oorsprong het.

‘n Haas is ‘n bekende seksuele simbool van vrugbaarheid; die jaarlikse lentefeeste het vrugbaarheidsrituele ingesluit en word geassosieer met Ostera. Volgens die stories van die lentefeeste, het ‘n reuse eier uit die hemel geval en Ostera daaruit ‘gebroei’; en dit is hoe eiers die simbool van die godin Ostera geword het. Eiers was verder ook ‘n simbool van vrugbaarheid en dit is waar paaseiers vandaan kom – as simbool van die vrugbaarheid wat lente bring.

Dit is vir my vreemd dat baie van ons Paastradisies en -simbole, net soos ons Kerstradisies en -simbole, hul oorsprong in heidense gelowe het en daar is verskeie menings oor hoe dit in die Christelike geloof beland het. Dit pla my egter nie te veel nie, aangesien paaseiers en kersbome nooit deel was van ons viering van hierdie feeste nie. Ek is gek oor paasbolletjies en eet dit baie graag hierdie tyd van die jaar, maar ek verbind dit nie noodwendig met Paasfees nie. My ouers het altyd seker gemaak ons verstaan die belangrikheid en betekenis van die fees wat gevier word.

Die Nuwe Testament verbind die Laaste Avondsmaal en Jesus se kruisiging met die Pasga en die Israeliete se trek uit Egipte. Jesus het as deel van sy eie (en Sy dissipels se) voorbereiding op Sy dood die Nagmaal ingestel en daardeur die Pasga ‘n nuwe betekenis gegee.

Vir my is die twee belangrikste dae op die Christelike kalender Goeie Vrydag en Opstandingsondag. Vrydag word ons herinner aan Jesus se lyding en dood en die verlossing van ons sonde, wat die kern vorm van dit waarin ek glo. Sondag word ons herinner aan Sy heerlikheid - sy opstanding uit die dood. Dit herinner my dat ek nie net verlos is van sonde nie, maar ook dat Hy die dood oorwin het – die dood wat die straf is vir sonde.

Mag elkeen wat hier lees hierdie Paasfees waarlik geseën word deur die wonderlike betekenis van dit wat gebeur het.
Mag ons in dankbaarheid kniel voor die groot God wat ons vrygekoop het met Sy eie Seun as prys.
En mag ons voor Hom dans in lofprysing oor Sy heerlikheid en opstanding.

Geniet die Paastyd saam met jou geliefdes, vergeet van paaseiers en -hase en fokus op Jesus se lyding en oorwinning.

Bronne:
www.christiananswers.net
www.wikipedia.org

No comments:

Post a Comment