Monday 13 April 2009

Paasnaweek

Goeie Vrydag
Wat 'n wonderlike Vrydag! Vroegoggend is ons kerk toe waar die kruisigingsverhaal my weer kom herinner aan die wonder van die gebeurtenis. Die kern van die boodskap kom uit die Romeinse soldate se spotwoorde – ander kon hy red, maar homself kan hy nie red nie. Die wonder lê daarin dat Hy Homself kon red as Hy wou – Hy kon maar net die woord spreek en God se engele sou Hom in ‘n oogwink van die kruis kom afhaal het. Maar Hy het gekies om Homself nie te red nie en daardeur ander te red. Ons te red. My te red.

Na kerk vat ek en my geliefde die pad Potchefstroom toe – dis familienaweek. Dit is altyd ‘n groot vreugde en seën om tyd saam met familie te spandeer. Vrydag het ek my ouers gesien, albei my ouma's, een van my susters, 'n tannie, 'n nefie en sy verloofde. Die tyd wat ons saam met hulle spandeer, die grappies, die samesyn, die liefde wat tussen ons heers, is vir my baie kosbaar.

Saterdagoggend eet ons ontbyt in Die Akker. Heerlik! Ek was jare laas daar. Ek het byna vergeet hoe die rustigheid van Tomstraat se akkerbome in hul herfsuitrusting bydra tot die besondere gevoel in die restaurant.

My medemens
Daarna is ons weer in die pad. Die keer Vrystaat toe. Mieliehoofstad toe. Die familienaweek gaan voort in ‘n stilte wat ek my skaars kan voorstel as ek dink hoe my lewe in die stad verloop. Alhoewel Bothaville in rep en roer is om alles vir die Nampo-fees in gereedheid te bring, is dit steeds baie rustiger as my gejaagde Gautengse lewe.

Hier is mense op mekaar ingestel.Op Opstandingsondag word dit baie duidelik in die kerk. Die predikant sien ons nuwe en onbekende gesigte tussen sy gemeentelede en kom groet. Na die tyd kom nog mense groet, want sê een, "ek het gehoor julle kom kuier". In die winkels groet almal mekaar, selfs in die verbyry word 'n hand gelig om te groet.

Ek wonder hoe dit gebeur dat ons so min op mekaar ingestel is in hierdie lewe wat ons lei. Ek bly byna vyf jaar in my woonstel en ek ken presies drie ander inwoners in my kompleks se name en nie veel meer gesigte nie. Tot my skaamte moet ek sê dat ek so in my eie lewe en my eie dinge vasgevang is, dat ek nie regtig in hulle belangstel nie. Ek besef dit is baie makliker in ‘n klein dorpie met ‘n hegte gemeenskap om te weet wie jou medemens is en hoe om hulle by te staan, maar ek kan tog sekerlik poog om die wat rondom my bly se te gesigte te leer ken en te groet as hulle tussen ‘n see ander sien.

Rus
Vandag is Paasmaandag en ek rus. Ek kyk terug oor die naweek wat verby is, kyk hoe Suid-Afrika teen Australië krieket speel, ek lees en ek spandeer tyd saam my geliefde. En ek rus.

No comments:

Post a Comment