Monday 6 April 2009

The Reader

My luilekker naweek is halfpad deur geruk deur ‘n komplekse fliek wat ongewoon gestruktureer is en oor drie tydperke strek. The Reader is ‘n interessante reis – ‘n liefdesverhaal sonder liefde; ‘n oorlogsverhaal sonder oorlog; en ‘n blik op ons onvermoë om te begryp hoe die lewe in Nazi-Duitsland moes wees.

Die liefdesverhaal speel in die laat 1950’s in Duitsland af met Hanna en Michael se stomende verhouding as vertrekpunt. Michael is 15 en Hanna in haar dertigs. Tydens hierdie verhouding lees Michael by elke besoek aan Hanna vir haar voor. Later word die betekenis van hierdie voorlesings baie duidelik.

Hanna verdwyn uit Michael se lewe en jare later woon hy, as regsstudent, ‘n hofsaak by van ‘n groep vroue wat vir oorlogsmisdade aangekla is. Hier sien hy Hanna vir die eerste keer weer - as een van die aangeklaagdes en dit is hier waar die oorlogsverhaal afspeel. Tydens hierdie verhoor word Micheal gedwing om toe te kyk hoe sy tot lewenslange tronkstraf gevonnis word vir die oorlogsmisdade wat sy as wag by ‘n Nazi-kamp gepleeg het.

Anders as flieks wat ons gewoonlik sien oor die tydperk, die oorlog en die kampe, fokus The Reader nie op die lewe in die kampe self nie, maar probeer dit die besluite wat Hanna moes maak uitbeeld. Op ‘n stadium tydens haar verhoor draai sy paniekerig na die regter en vra “What would you have done?”. Haar vraag bly onbeantwoord.

Ek was geraak deur die fliek, die manier waarop dit die emosionele aanraak, die krag van literatuur bewys en 'n nasie se betrokkenheid in die bose verlede uitbeeld.

Ek het die fliek baie geniet, en vermoed ek gaan nog ‘n rukkie daaroor dink. Die toneelspel was uitstekend en ek dink Kate Winslet verdien beslis die Oscar-toekenning wat sy vir die rol van Hanna ontvang het.

2 comments:

  1. Ek dink ook die feit dat Hanna die keuse gemaak het om eerder lewenslange tronkstraf te kies, as om in die hof voor almal te erken dat sy ongeletterd is, is 'n baie belangrike deel in die film. (Onthou dat die ander beskuldigdes het gesê sy was die leier van die wagte en het die verslag geskryf oor die voorval in die kerk.)

    Dit verklaar ook hoekom Hanna uit Michael se lewe verdwyn het toe sy bevordering gekry het na 'n kantoor posisie toe ook.

    Ek wil amper sê dat dit die vraag vra of ongeletterdheid net so erg is Nazi Duitsland?

    ReplyDelete
  2. Ongeletterdheid is beslis 'n baie belangrike deel van die fliek. Dit is immers ook vanwaar die fliek sy naam gekry het. Ek lees vanoggend 'n artikel waarin genoem word dat die titel van die oorspronklike boek vertaal kan word met 'voorleser' en nie met 'leser' soos die fliek nie, wat opsig self baie betekenis dra as jy die vergelyking in die konteks van ongeletterdheid tref.

    Soos ek in my oorspronklike skrywe gesê het, het die betekenis van Michael vir Hanna voorlees later duidelik geword, saam met Michael se besef van Hanna se ongeletterdheid.

    Ek dink die fliek raak soveel aspekte aan dat dit onmoontlik is om op alles kommentaar te lewer.

    ReplyDelete