Wednesday 1 April 2009

1 April

Vanoggend hoor ek 'n berig op radio dat Charlize Theron terugkeer Suid-Afrika toe om in ‘n plaaslike sepie te speel; en ek dink by myself dit kan nie wees nie. Hoekom sal ‘n Oscar-bekroonde aktrise die 'glitz and glamour' van Hollywood opgee vir 'n plaaslike sepie?

By die kantoor aangekom, sê ek vir ‘n kollega: "ek hoor vanoggend oor die radio…" maar voor ek my sin kon klaarmaak, sê hy: "onthou dit is vandag 1 April". Net daar stop ek toe my storie en ek besef dat die Charlize-storie beslis een van daai moet wees.

Later kyk ek vlugtig na die nuus op Beeld se website en kom op
dié storie af oor braai-regulasies. Hierdie storie het my egter nie gevang nie, want met 'n joernalis soos Una April; 'n direktoraat van brandstigting en lugbesoedeling met 'n woordvoerder genaamd Ignatius Brand; en Tjoppie Lategan as Kaapse Braaigilde voorsitter, was daar geen twyfel nie. Nou praat ek nie eers oor die feite wat effens bizarre is nie. Ons bly immers in Suid-Afrika en wie hier sal by die regulasies hou:
Suid-Afrikaners wie se huise ongelyke nommers het, sal net op Saterdae tussen 18:00 en 21:00 mag braai. Vir huise met gelyke nommers val dié toegewing op Sondae tussen 12:00 en 15:00.

Ek reken as jy 'n April Fool’s Day grap wil maak, moet dit darem tot 'n groot mate vir die leser realisties klink. Die idee is tog dat iemand daarvoor val, nie waar nie?

Oor die oorsprong van die dag lees ek op
Wikipedia dat twee moontlikhede te doen het met kalenders wat verander het en dat mense wat verkeerdelik gedink het dat dit 1 April was, April Fools genoem is. Op 13 April 1789 is daar blykbaar in 'n Engelse koerant 'n berig gepubliseer wat wil hê dit die dag sy oorsprong by Noag het. Noag het 'n voël te gou uitgestuur voordat die water gesak het en het dit na bewering op die eerste dag van die Hebreeuse maand wat met April ooreenkom, gedoen.

Daar is so baie stories van grappe en poetse wat mense aan hul families, vriende en kollegas op hierdie dag doen – maak dus seker dat jy ten minste een keer per jaar die feite goed beskou en nie liggelowig vir iemand se April Fool’s grap val nie.

No comments:

Post a Comment