Monday 27 December 2010

My gunsteling vakansiestorie

16 Desember: Geloftedag; Versoeningsdag; vakansiedag; en bowenal, my gaan-op-vakansie-dag!

Vroegoggend spring ons in die pad, maar dit gaan stadig – soos wat ons deur Johannesburg ry, stortreën dit so erg dat ons skaars in die pad kan sien en dit die rit gevaarlik maak. Teen die tyd dat ons 'n koffiestop in Kroonstad maak, bedaar die reën uiteindelik. Kort na ons weer begin ry stop die verkeer skielik. Na ongeveer 'n halfuur se stilstaan (in so 'n mate dat ons die motor kon afsluit), begin die verkeer weer vloei en ry ons verby 'n bus wat op sy sy lê. Later sou ons oor die radio hoor dat die bus vir 'n vragmotor uitgeswaai en omgeslaan het. Een persoon is oorlede en vyf-en-veertig beseer. My hart breek, maar ek is baie dankbaar dat ons sover veilig gehou is.

Later, anderkant Bloemfontein, staan die verkeer weer. Die keer het een vragmotor in 'n ander een vasgery. Weer sluit ons die motor vir ongeveer 'n halfuur af terwyl ons wag dat die ongelukstoneel opgeruim word. Ons lei af dat daar ernstige beserings was, want 'n helikopter neem mense weg. Weereens is ek hartseer oor wat gebeur het, maar die dankbaarheid oor ons eie veiligheid wel weer in my op. Op daardie oomblik bid ek ook in my hart vir almal op die paaie en dat ons nie nog ongelukke sal teëkom nie.

'n Entjie voor Drie Susters begin die aankomende verkeer hul ligte flits en die vragmotor voor ons slaan remme aan. My hart sak sommer en ek begin hoop en bid dat hierdie ongeluk nie 'n ernstige een is nie.

Maar dan, tot my groot verbasing, sien ek waarom die verkeer opgehou word – en my hart word lig en warm oor mense wat die natuur voorkeur op die pad gee. 'n Reuseskilpad is besig om oor die pad te stap en dit is waarvoor die verkeer op die N1 opgehou word.

Dit was 'n aanskoulike gesig en ten spyte van 'n wonderlike vakansie saam met familie, 'n heerlike troue, rondry in die pragtige natuur en tussen die wynlande, bly die skilpadstorie een van my gunstelinge vir hierdie vakansie.

No comments:

Post a Comment