Monday 6 September 2010

Suurstof vir my siel

Einde Oktober verlede jaar het ons met groot opgewondenheid na ons huis getrek en daar is 'n lieflike groot grasperk. Maar dis al wat daar is. 'n Grasperk en geen tuin nie. Vir die eerste paar maande na ons ingetrek het, was daar niks anders as ons troue in my gedagtes nie en tuinmaak die laaste ding waaraan ek gedink het. Na die troue was dit winter en nou kan ons uiteindelik begin tuinmaak.

Ek geniet die tuinmaak en dit verskaf my soveel vreugde om elke dag na al my plante te kyk, elke nuwe blaartjie of knoppie te bestudeer, om te sien hoe vinnig die Azalea al oortrek was van groot helder pienk blomme en hoe klein pers knoppies aan die Yesterday, Today and Tomorrow kop uitsteek.

Natuurlik het ons ook 'n boom geplant. 'n Koorsboom (Acacia xanthophloea). (Ek sou eers later uitvind dat dit ook die boom van die jaar is).

'n Koorsboom omdat dit 'n pragtige boom is.
'n Koorsboom omdat dit inheems is.
'n Koorsboom omdat daar baie van in die landgoed is en dit lyk of hulle gelukkig in die klimaat is.
'n Koorsboom omdat die helder groen stam vir my 'n bekoring inhou.
'n Koorsboom omdat ek hulle skielik oral raak sien en bewonder.
'n Koorsboom omdat ek sien hoe graag die vinke in hulle nesmaak en ek graag iets wil gee in ruil vir die kleur en klank wat hulle na my tuin bring.

So gaan soek ek en skoonma 'n boom uit, dis nog 'n baie jong boompie, maar ons reken hy het potensiaal. Die gat word dus gegrawe, die grond bewerk met kompos en beenmeel en die boom eindelik geplant.

Na 'n paar weke moes ek met groot teleurstelling erken dat die boompie dit nie gemaak het nie. Ek was so hartseer dat my eerste boom gevrek het. Hoe is dit moontlik? Al die ander plante groei en lyk pragtig. My suurlemoenboom wat al jare in 'n pot staan is vir die eerste keer oortrek met bloeisels en klein suurlemoentjies. Wat het ek verkeerd gedoen met die koorsboom? Te min water? Te veel water? Het ek nie genoeg met hom gesels nie? En so hou die vrae aan.

Saterdag besluit my Liefie dat ek die boom moet laat gaan, maar darem nie sommer net so nie. Ons ry in verskillende windrigtings agter kwekerye aan tot ons die perfekte plaasvervanger kry.

Die boom is egter heelwat groter en lyk ook sommer sterker as sy voorganger en helder groen blare loop oral uit. Wat 'n vreugde! Ek is seker hierdie boom gaan my sommer baie plesier verskaf. 'n Spinnekop het reeds begin drade span tussen die dorings en die voƫls sit reeds op sy takke en sing, en ek weet, hierdie is die regte boom op die regte plek.

As jy enigsins kan, plant 'n boom! Daar is baie redenasies oor hoekom ons bome moet plant – byvoorbeeld, die suurstof wat dit vrystel en hoe goed vir die omgewing is. Maar vir my is dit 'n nice to do, heilsame aktiwiteit, en die suurstof wat hierdie boom vrystel, is suurstof vir my siel.

No comments:

Post a Comment